Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Vloek Van Egskeiding

deur
Elmer Grobler

God haat egskeiding

Ons lees in Mal 2:16: “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, ...” Egskeiding is ’n resultaat van die sondeval en daarom deel van die vloek van sonde. God haat alle sonde, maar waarom sou die Here egskeiding uitsonder in hierdie stelling? Ons lees ook in Mat 5:31,32 dat Jesus egskeiding, behalwe in die geval van egbreuk, taboe verklaar vir ‘n Christen. Waarom is egskeiding so ‘n groot sonde in God se oë? Is dit nie beter om liewer te skei en in vrede te leef, as om in ‘n huwelik vol konflik vasgevang te wees nie?

In die Ou Testament was egskeiding klaarblyklik ‘n aanvaarde praktyk, want ons lees dat Jesus in Mat 5:31 sê: “Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ‘n skeibrief gee. Maar Ek sê vir julle ...”  Wat het in die Nuwe Testament verander dat Jesus egskeiding vir ‘n kind van God as ‘n opsie elimineer? In Mat 5:32 maak Jesus ‘n baie diepsinnige stelling. Hy sê dat ‘n vrou wat deur haar man geskei is (let wel, sy is die ‘slagoffer’ in hierdie egskeiding), en daarna weer met iemand anders trou, egbreuk pleeg — en dat die man wat met haar trou, ook egbreuk pleeg! Met ander woorde, Jesus verbied ‘n Christenman om met ‘n geskeide vrou te trou — al is sy ’n Christen, en al was sy die ‘slagoffer’ in haar egskeiding! Dit klink darem vreeslik onverbiddelik. Kan dit regtig wees wat Jesus bedoel het?

Tog lees ons dat Paulus in 1 Kor 7:15 klaarblyklik ’n ander uitsondering maak: “Maar as die ongelowige wil skei, laat hom skei. In sulke gevalle is die broeder of suster nie gebonde nie. Maar God het ons tot vrede geroep.” Wat presies sê Paulus hier? Sê hy dat ‘n Christenpaartjie maar kan skei ter wille van die vrede? Nee, gladnie! Paulus sê hier dat as ‘n paartjie in ‘n ongelyke juk getroud is (met ander woorde, een van hulle is ongered), laat die ongeredde maat skei as hy of sy wil. In hierdie scenario sny die ongelowige huweliksmaat hom of haarself af van God se genade in die huwelik. Wanneer 'n kind van die Here uit 'n Christenhuwelik stap, bring jy oor jouself die vloek van egskeiding!

Waarom haat God egskeiding so?

Waarom haat God egskeiding met so ‘n passie? Omdat die huwelik ‘n beeld is van die Christen se verhouding met Jesus Christus — en egskeiding in ‘n Christenhuwelik teenstrydig is met die inhoud en boodskap van die Evangelie! In Ef 5:21-33 beskryf Paulus die Christelike huweliksverhouding en in vers 32 maak hy ‘n groot geheim bekend. Hy sê in vers 32 dat hierdie huweliksverhouding wat hy so pas beskryf het, eintlik ‘n prentjie is van Jesus Christus se verhouding met Sy Kerk en Sy kinders! Die huwelik is ‘n prentjie van die Christen se verhouding met Jesus Christus en wanneer daar ‘n egskeiding plaasvind, is dit simptomaties van ‘n gebroke verhouding met God by een of albei partye. Egskeiding van ‘n Christenhuwelik weerspreek die huwelikspaartjie se getuienis! Wanneer ‘n eggenoot in ‘n huwelik op ‘n egskeiding aandring, sê hy of sy in werklikheid — ons verhouding het so ver verbrokkel dat versoening onmoontlik is. In die Evangelie van Jesus Christus is daar altyd ‘n oop deur vir versoening! Geen sonde is te groot om vergewe en gereinig te word nie — nie eers egbreuk nie!

Die moraliteit van die wêreld

Ongelukkig word die siening van onherstelbare verbrokkeling van die huwelik in ons samelewing as ‘n normaliteit beskou — jammerlik selfs onder baie belydende Christene! Die wet in ons land sê dat ‘n egskeiding kan deur ’n hof toegestaan word op grond van bewys van sogenaamde ‘onherstelbare verbrokkeling’ van die huwelik. Om dit te kan bewys moet ’n man of vrou net ‘n tyd lank van sy of haar huweliksmaat verwyder wees en weier om terug te keer.

Hoe tragies! Dit is absoluut in konflik met die Woord van God! By God is versoening altyd moontlik! In God se oë bestaan daar nie so iets soos onherstelbare verbrokkeling van ‘n Christenhuwelik nie! Die begrip van onherstelbare verbrokkeling in ‘n Christenhuwelik is ‘n humanistiese begrip wat geen Bybelse gronde het nie!

Die verbond — die boodskap van die Christenhuwelik

Die dag toe ‘n Christenpaartjie getrou het, het hulle trou aan mekaar beloof tot die dood toe — en as hulle albei gered was het hulle dit met hulle hele hart bedoel! Dit is slegs iemand wat gered is wat hierdie verbond verstaan, want die dag toe jy gered is, toe jy tot bekering gekom het, toe jy jou hart vir die Here Jesus gegee het, het jy ‘n verbond met God gesluit om aan Hom getrou te wees tot die dood toe! Daardie dag het die Here aan jou belowe Hy sal jou nooit verlaat nie — en Hy verwag dat jy Hom ook nooit sal verlaat nie — al kom daar tye van beproewing in julle verhouding. As jy nie toe so ‘n verbond met God gesluit het nie, moet jy dit so gou as moontlik doen, want daarsonder sal jy nooit die vervulling met die Heilige Gees smaak en die volle liefde van God in ‘n intieme verhouding met Hom beleef nie! Lees gerus: The Secret Of The Covenant

Dit is presies dieselfde toe jy en jou huweliksmaat getroud is. As jou belofte aan hom of haar om getrou te bly tot die dood toe, nie eg was nie, sal jy ook nie die vervulling van jou man of vrou smaak en die volle liefde van hom of haar in ‘n intieme verhouding beleef nie — omdat daar wantroue tussen julle sal bestaan. As daar wantroue in die huwelik bestaan en egskeiding ‘n opsie vir een van julle is, kan so ‘n huwelik nooit tot sy volle potensiaal kom nie. Dan kon julle maar net sowel saamgebly het (opgeshack het, soos die jongmense sê) vir solank dit albei van julle pas en wanneer dit een van julle nie meer pas nie, trek jy net eenvoudig uit! Maar dit is nie ‘n huwelik nie!

Konflik en seer in die huwelik

Konflik in die huwelik is onvermydelik en elke huwelik beleef dit. As jou huwelik sonder konflik is, is jy waarskynlik nog minder as ’n jaar getroud, of het jy iets ontdek wat niemand anders nog ontdek het nie. Deel dit asseblief met ons. 

Onopgeloste konflik het seer tot gevolg, en onopgeloste seer lei tot bitterheid. Die gevaar van onopgeloste seer is dat dit opbou soos 'n sweer en die ander huweliksmaat somtyds nie daarvan bewus is totdat die sweer oopbars nie. Die huweliksmaat wat seer beleef, dink gewoonlik dat dit slegs hy of sy is wat seer gekry het -- maar seer raak albei partye in die huwelik. Huweliksmaats wys en hanteer dit slegs op verskillende maniere. Die ergste vorm van seer is wanneer iemand deur sy of haar huweliksmaat, of 'n ouer deur 'n kind, of 'n kind deur 'n ouer, verwerp word. Verwerping is die ergste vorm van seer in 'n huwelik en gesin. Egskeiding is die hoogste vorm van verwerping in die huwelik.

Konflik en seer in die huwelik moet op ‘n Bybelse manier hanteer word en die wonder van die verhaal is dat daar ‘n Bybelse oplossing vir elke vorm van konflik en seer in die huwelik is! Die Kruis van Jesus bied ‘n volmaakte oplossing vir elke vorm van konflik en seer in die huwelik. By die Kruis word Goddelike liefde vrygestel, konflik opgelos en seer genees. Maar vir solank egskeiding ‘n opsie vir jou is, sal jy Goddelike liefde en die Kruis-oplossing vir konflik en seer in jou huwelik nooit vind nie!

In die vallei van gebrokenheid

Dit is heel moontlik dat daar ‘n situasie in ‘n Christenhuwelik kan ontstaan waar egskeiding vir een of albei huweliksmaats na die enigste oplossing lyk. Moet dit net NOOIT glo nie -- en as iemand anders dit vir jou vertel, is hy of sy 'n leuenaar en valse profeet! Die oomblik dat jy dit glo, gee jy aan die satan ‘n opening om julle huwelik te vernietig — dit is sy spesialiteit!

Daar mag ‘n situasie in jou huwelik ontstaan waar dit vir jou voel jy kan nie meer so voortgaan nie — jy het by die end van jouself gekom — jou huwelik is by ‘n doodloopstraat. Die oorheersende gevoel binne-in jou is dat jou huweliksmaat dit vir jou onmoontlik maak om met hom of haar getroud te bly en jy rasionaliseer jou denkwyse en optrede al meer en meer. Jy voel al meer en meer jy het volle reg om so te voel en te dink. Miskien het jy hierdie gevoel met ‘n verkeerde persoon (iemand anders as jou huweliksmaat en ’n Geesvervulde berader) gedeel en hierdie persoon of persone ondersteun jou gevoel heelhartig. Die negatiewe gedagtes omtrent jou huwelik is besig om te sneeubal en binnekort het jy ‘n lang lys van goeie redes waarom jy jou huweliksmaat moet verlaat en wat hy of sy alles verkeerd gedoen het, terwyl die (verkeerde) persone met wie jy jou huwelikstryd bespreek het, jou ten volle ondersteun! Jy het jou huweliksverbond en huweliksmaat verkoop vir dertig sikkels silwer.

Bitterheid het wortel geskied in jou hart en jy blameer jou huweliksmaat vir jou ongelukkigheid. Wanneer jy by hierdie punt gekom het, het jy reeds vir Satan en sy bose magte die deur om julle huwelik te vernietig wawyd oopgemaak! Dit voel vir jou of die vlam van liefde vir jou huweliksmaat doodgesmoor het. Jy is desperaat — jy wil uit! Wat doen jy nou? Egskeiding is die enigste oplossing, dink jy — en hierdie gevoel dryf jou al verder van die oplossing! Hoekom? Want nou het jy aan die duiwel ‘n voet in die deur gegee en die vyand is nou besig om jou emosioneel te manipuleer en te misbruik vir sy vernietigingswerk! Die vloek van egskeiding is op volspoed besig om in en deur jou lewe te manifesteer. Maar jou huweliksmaat wag steeds vir jou en is bereid om hom– of haarself met jou te versoen!

Bevryding van die vloek van egskeiding

Is daar bevryding van die vloek van egskeiding? Verseker! Daar is egter slegs EEN oplossing — en hierdie oplossing is nie ‘n proses nie — dit is ‘n krisis! Dit is ‘n punt van beslissing! Jy moet die vloek van egskeiding in jou lewe verbreek deur ‘n stap van geloof in die bevrydingskrag van Jesus Christus deur die Verbond!

As jy nog nie geskei is nie, moet jy terugkeer na die verbond — jou verbond met God, en jou verbond met jou huweliksmaat! Jy moet kom kniel by die Kruis en jou ontrouheid voor God bely! Hernu jou verbond met God — gee jou lewe by hernuwing algeheel en sonder voorwaardes aan Hom oor — om aan Hom getrou te bly tot die dood toe! Wanneer jy dit gedoen het, sal die krag van die Heilige Gees jou instaat stel om terug te keer na jou huweliksverbond. Sê vir die Here dat jy in hierdie oomblik terugkeer na jou huweliksverbond met jou huweliksmaat en dat jy elke deur wat jy vir Satan en sy bose magte oopgemaak het, in hierdie oomblik sluit — in die Naam van Jesus Christus! En jy sal ‘n wonderwerk beleef — die vlam van jou eerste liefde sal weer begin brand en die Heilige Gees sal jou op die pad van versoening met jou huweliksmaat lei. Die vloek van egskeiding is gebreek!

As jy reeds geskei is, moet jy ook terugkeer na die verbond — jou verbond met God! Bely jou aandeel in die egskeiding voor God en gee jou lewe algeheel en onvoorwaardelik oor aan Jesus Christus as jou Here. As daar onvergewensgesindheid in jou hart teenoor jou eks is, moet jy dit voor God bely en hom of haar van harte vergewe. Onvergewensgesindheid en bitterheid sal jou aan die vloek van egskeiding vasgebind hou! Die geheim van bevryding van die vloek van egskeiding is versoening -- in soverre dit van jou afhang!

Die wonder van versoening

Vriende, dit wat ek hierbo beskryf het is die Evangelie van Jesus Christus! Die wonder van die Evangelie is dat dit versoening bewerkstellig tussen ‘n sondaarmens en God — en tussen huweliksmaats wat teenoor mekaar oortree het in die huwelik. Net soos Goddelike liefde uitgestort word in die hart van 'n sondaarmens wat met God versoen word deur die Verbond van geloof in Jesus Christus -- net so word Goddelike liefde uitgestort in die hart van 'n versoende kind van God vir sy of haar huweliksmaat deur 'n terugkeer na die huweliksverbond.

Die geheim van versoening is die Evangelie — die wonder van die Evangelie is versoening -- en die geheim van die Evangelie is die Verbond!

2 Kor 5:17-21: “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen. Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Hallelujah!

Deel asseblief hierdie artikel met iemand wat dit moet lees, voor dit te laat is!

Lees ook: Die Hemelse Huwelik

Lees ook: 'n Vrou Moet Sterf Maar Sy Kan Nie!

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.