Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Eindtyd Moegheid Sindroom

deur
Elmer Grobler

Hierdie artikel sal waarskynlik slegs deur ‘n klein groepie Christene gelees word. Die meerderheid sal dit waarskynlik ignoreer. As jy egter een van die minderheid is wat die artikel tot die einde gaan lees, is my gebed dat die Here jou deur hierdie artikel sal bemoedig en aan jou ‘n nuwe en vars wederkomsverwagting, maar ook ‘n las vir die massas Christene sal gee wat onvoorbereid vir die wederkoms betrap gaan word!

 Wederkoms Moegheid — ‘n teken van die eindtyd

Ek het onlangs ‘n artikel gelees deur Jan Markell, End-Time Weariness: Haven't We Waited Long Enough?, wat ‘n belangrike simptoom van die Kerk van ons tyd met betrekking tot die wederkoms van Jesus absoluut raak beskryf. Sy skryf onder andere:

“The malady goes by many names: End-time weariness; Rapture fatigue; Israel burn-out. The results are the same: The scoffers and skeptics are gaining too much territory and too many followers. ... The fact that the King is coming is boring and just old news. What Hal Lindsey wrote in 1969 in his classic "The Late-Great Planet Earth", in the eyes of many, did not come to pass. Thus, there is a collective so-what sigh. ... Haven't we waited long enough?? ... It is the tragedy of my lifetime - and I never thought I would see the day.”

Sy sluit haar artikel af met hierdie woorde: “So the fact that things are all coming together excites only a tiny remnant who will never grow weary of keeping their eyes on the sky! If you are among them, hang in there. He is coming soon ... ! Lees gerus die hele artikel by die skakel hierbo.

Wederkoms Moegheid is ‘n uitstaande kenmerk van die Kerk van ons tyd regoor die wêreld — ook in Suid-Afrika. Om die waarheid te sê, die Bybel het dit voorspel as ‘n belangrike teken van die eindtyd. Ons lees in 2 Pet 3:3,4: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

Jesus het met Sy gelykenis van die vyf wyse en vyf dwase maagde in Mat 25 ook daarop gewys dat helfte van die Kerk aan die slaap sal wees wanneer die Bruidegom kom. Slegs twee uit die sewe gemeentes van Openbaring 2 en 3 was wakker en gereed vir die wederkoms.

Vyf tekens van ‘n aan-die-slaap Kerk

‘n Aan-die-slaap Kerk kan uitgeken word aan sy reaksie op die wederkomsboodskap! Ek skryf baie oor die wederkoms omdat dit die dryfkrag agter my hele Evangeliebediening aan die mins-geëvangelieseerde en onbereikte wêreld is, en dit my oortuiging is dat dit ook die dryfkrag agter elke evangeliese kerk en gemeente behoort te wees. Lees gerus ook my artikels, ‘Wanneer Sal Jesus Weer Kom?’ en ‘Drie Tekens dat die Wederkoms Vlak Voor die Deur is’ - Deel 1, 2 en 3. Wat my egter verstom is die reaksie (of gebrek daaraan) van belydende Christene op hierdie boodskap. Wanneer mens die Woord bestudeer, kom jy noodwendig tot die gevolgtrekking dat ‘n gereedmaking, ‘n afwagting, ‘n verwagting op, en ‘n verlange na die wederkoms van Jesus die normale reaksie van die Kerk behoort te wees. (Lees gerus Mat 24:44-51; Rom 8:23; 1 Kor 1:7; 2 Kor 5:2; Fil 1:23; Fil 3:20; 1 Thes 1:10; 1 Thes 4:16-18; 2 Tim 4:8; Tit 2:13; Heb 9:28; Heb 11:16; 2 Pet 3:12-14; Jud 1:21.) Ek het die volgende tekens geïdentifiseer wat na my mening, sprekend is van ’n aan-die-slaap Kerk.

1. Verset teenoor die wederkomsboodskap

Sommige raak opstandig oor die verkondiging van die wederkomsboodskap vir ‘n verskeidenheid redes wat wissel van ontkenning daarvan tot verset teen die fokus daarop. Wanneer daar opstandigheid of verset by iemand bestaan oor die verkondiging van die wederkomsboodskap, is dit of ‘n simptoom van ongeredheid of van ongereedheid. Iemand wat gered is en in die regte verhouding met Jesus Christus staan, verset hom– of haarself nie teen die wederkomsboodskap nie, maar verwelkom, ondersteun, en verkondig dit!

2. Verdeeldheid oor die wederkomsboodskap

‘n Ander simptoom van ‘n aan-die-slaap Kerk is verdeeldheid en ’n gestryery oor die teologie van die wederkomsboodskap. As die duiwel dit nie kan regkry om die wederkomsboodskap van die Kerk te weerhou nie, probeer hy om Christene so besig te hou met dogmatiese verskille oor die eindtyd en die wederkoms dat hulle hul fokus op wat regtig saak maak verloor. In my artikel, ‘Die Wederkoms -- Twee Dinge Waaroor Die Kerk Verenig Moet Wees’, skryf ek meer hieroor.

3. Afsydigheid en passiwiteit ten opsigte van die wederkoms

Nog ‘n simptoom van ‘n aan-die-slaap Kerk is afsydigheid (‘indifference’) of ‘n traak-my-nie-agtigheid met betrekking tot die wederkoms. In die bogenoemde artikel skryf ek dat die wederkoms van Jesus Christus immers die hoogtepunt van die Christelike geloof is en dit is my beskeie maar oorwoë mening dat as iemand nie ‘n wederkomsverwagting het, en nie verlang na die wederkoms van Jesus nie, daar ‘n fundamentele fout is met sy of haar geloof.

Hoe kan iemand sê, ek het Jesus lief, maar nie verlang na Sy wederkoms nie? Hoe kan iemand sê, ek het ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus, maar nie verlang om in Sy teenwoordigheid te wees nie? Jy sê, jy is altyd in Sy teenwoordigheid deur Sy Gees wat in jou woon. Goed, sê my dan, as jou geliefde tydelik oorsee woon en werk op kontrak, sal daar nie ‘n verlange en begeerte na sy of haar terugkoms by jou wees nie — al is julle in gees bymekaar en kommunikeer julle digitaal gereeld? Of het  jy dalk ‘n 'buite-egtelike' verhouding wat jou verlange versadig? Dalk is dit wêreldliefde. 1 Joh 2:15 sê: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”

4. Verkeerde verwagtinge met betrekking tot ons land en die wêreld

‘n Aan-die-slaap Kerk koester verkeerde verwagtinge van God ten opsigte van ons land en die wêreld deur die wederkomsprofesieë van die Bybel te ignoreer. ‘n Aan-die-slaap Kerk bid vir, en verwag dat God ons land gaan genees, voorspoedig maak, ons politieke probleme oplos, en vrede in die wêreld bring. Hoeveel ‘profesieë’ en gebedsversoeke hiertoe het ek nie alleen hierdie afgelope jaar op die sosiale media gelees nie! Hierdie verwagtinge is egter lynreg in botsing met wat die Here sê in die laaste dae pas voor die wederkoms sal gebeur. Hiermee ontken ek nie dat ons ook vir ons land en sy probleme moet bid en ‘n passie mag hê vir ons eie land se welstand nie, maar as dit die hooffokus van ons passie en gebede is, sit ons die pot mis. Lees gerus my artikel: ‘Ses Dinge Waarmee God nie Besig is nie’.

‘n Bybelvers wat soos klokslag buite konteks aangehaal word om hierdie verwagtinge te bevestig is 2 Kron 7:13,14: “As Ek die hemel toesluit, ... en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid ... dan sal Ék ...” Wat egter belangrik is ten opsigte van die beloftes van die Here, is dat dit altyd binne die konteks van God se program vir die wêreld, Israel en die Kerk verstaan moet word. Daarom is daar, behalwe God se algemene beloftes, sekere beloftes wat spesifiek op Israel van toepassing is, sekere beloftes wat spesifiek op die Kerk van toepassing is, en sekere beloftes wat spesifiek vir ‘n bepaalde tyd in God se program in die geskiedenis van die wêreld van toepassing is. Lees gerus my artikel: ‘Is die Bybel nog relevant vir ons moderne wêreld?

Dit is wat Jesus gesê het in die laaste dae pas voor Sy wederkoms sal gebeur — ook in Suid-Afrika — en elke Bybelse belofte moet in die tyd waarin ons leef binne die konteks van hierdie profesié gelees en verstaan word: 

“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld? En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei. En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte. Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Mat 24:3-14. (Beklemtoning my eie.) 

Wanneer mens die nuusmedia volg is Mat 24:3-14 besig om soos ‘n storieboek voor ons af te speel. Waarom is ons dan nie primêr besig om die wederkoms van Jesus te verhaas deur elke nasie, volk, stam en taal met die Evangelie te help bereik nie?

5. ‘n Valse gerustheid gebasseer op misleiding

Laastens, is daar ‘n groot groep Christene wat glo dat omdat hulle eenmaal Jesus aangeneem het as hulle Saligmaker, hulle maar voluit in (en dikwels vir) die huidige wêreld kan lewe met die sekerheid dat hulle weggeraap sal word voor die groot verdrukking en dat die Here wil hê dat dit met hulle materiëel en fisies goed sal gaan hier op aarde totdat Jesus weer kom. Hierdie Christene se fokus is hier op aarde en die materiële wêreld, en nie op die wederkoms en die ewigheid nie. In my siel is ek diep bekommerd dat hierdie Christene dalk ‘n groot skok gaan kry met die wederkoms en dat hulle dalk in die kategorie van die vyf dwase maagde val wat aan die slaap bevind sal word wanneer die Bruidegom kom!

Hierdie is die Here se woord vir ‘n aan-die-slaap Kerk: “Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos 'n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.” Op 3:3. (NAV)

Tekens van ‘n lewende en wakker Kerk

As daar ‘n opgewondenheid in jou hart roer wanneer jy die wederkomsboodskap hoor of lees, wil ek jou bemoedig. Dit getuig daarvan dat jou hart op die regte plek is. Die tekens van ‘n lewende en wakker Kerk is die volgende:

Verwagting

‘n Lewende en wakker Kerk leef voortdurend met ‘n lewende verwagting op die wederkoms van Jesus Christus.

Blydskap en opgewondenheid

Die naderende wederkoms van Jesus Christus stook die vuur van Goddelike blydskap en opgewondenheid in ‘n lewende Kerk.

Oortuiging van sonde

Die realiteit dat Jesus se wederkoms enige tyd kan plaasvind, oortuig ‘n lewende Kerk van sonde, en inspireer ‘n strewe na heiligmaking en ‘n heilige lewenswandel. (Op 3:3)

Soeke na God

‘n Lewende Kerk word aangevuur in hul soeke na God en ‘n verlange na ‘n Heilige Gees gewerkte herlewing in afwagting op die snel-naderende wederkoms van Jesus Christus.

Begeerte om God se wil vir my lewe te soek

‘n Lewende Kerk soek opreg na God se volmaakte wil en plan vir hulle persoonlike lewens in afwagting op die snel-naderende wederkoms van Jesus Christus.

Soeke na God se doel en plan vir die wêreld

‘n Lewende Kerk soek opreg na God se volmaakte wil en plan vir die wêreld in reaksie op die wederkomsboodskap.

‘n Visie vir die ongeredde en onbereikte wêreld

‘n Lewende Kerk het ‘n visie vir die ongeredde en onbereikte wêreld, wat deur die verkondiging van die wederkomsboodskap versterk word.

‘n Visie vir die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag

Die wederkomsboodskap skep en versterk ‘n visie vir die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag by ‘n lewende Kerk. ‘n Dooie Kerk is apaties teenoor en onbetrokke by die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag.

As die bogenoemde tekens in jou hart leef, wil ek jou bemoedig met die woorde van Jan Markell: “Die feit dat dinge almal besig is om bymekaar te kom maak slegs ‘n handjievol opgewonde wat nooit sal moeg word om hulle oë op die wolke te hou nie! As jy een van hulle is, byt vas. Hy kom gou ...!

‘n Laaste woord, omdat jy een van die handjievol is, het ons jou broodnodig om ons te help om die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld te help bereik met die Evangelie en so Jesus se wederkoms te verhaas. Volg asseblief die skakel hieronder om te lees hoe jy deur die Here gebruik kan word.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.