Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Hemelse Huwelik

deur
Elmer Grobler

Soek jy na oplossings vir die probleme in jou huwelik? Wel, jy hoef niks verder te soek as in die Woord van God nie! Want al die oplossings vir elke moontlike huwelikskrisis sal jy in die Bybel vind! Kan ek dit nog sterker stel? Jy sal geen blywende oplossing vir jou huweliksprobleme vind van enige ander bron, of op enige ander plek as die Bybel nie!! Die huwelik is ’n instelling van God en daarom weet slegs God hoe dit regtig behoort te werk! Waarom soek jy na oplossings vir jou huweliksprobleme by buite-Bybelse bronne? Dit is soos iemand wat ’n Mercedes Benz motor gekoop het en dan na ’n “back-yard mechanic” toe gaan vir herstelwerk. Nee, ’n mens neem mos jou Mercedes Benz na die agente toe vir herstelwerk! Liewe vriend, kom na Jesus toe met jou huweliksherstelwerk! Hy is die Regte Agent - Hy gebruik nooit onegte en nagemaakte onderdele nie!

God se huweliksverhouding met die mens

As jy soek na oplossings vir jou verhoudingsprobleme met jou huweliksmaat, gaan kyk dan eerstens na jou verhouding met God - want die een is ’n beeld van die ander! 

Jy sal nooit jou verhoudingsprobleme in jou huwelik opgelos kry, vir solank daar ’n verhoudingsprobleem tussen jou en Jesus Christus bestaan nie! Die eerste is die gevolg van die laaste - en die laaste is ’n voorbeeld van die eerste! Jesus Christus is die Bruidegom en Sy kinders die bruid.

Die Bybel is vol van die huwelik as beeld van die Christen se verhouding met Jesus Christus. In Matt 9:15 praat Jesus van Homself wanneer Hy sê: “Kan die bruilofsgaste dan treur solank die bruidegom nog by hulle is?” In Matt 25:1-13 word die Kerk vergelyk met tien maagde wat uitgegaan het om die Bruidegom te ontmoet. In Joh 3:29 sê Johannes die Doper van Jesus: “Die Bruidegom is die een aan wie die bruid behoort.”

In Jesaja 54:5 staan daar: “Want jou Maker is jou Man, Here van die leërskare is sy Naam ...”. In die sesde vers staan daar: “Soos ’n verstote en bitter bedroefde vrou, roep die Here jou terug - soos ’n vrou wat jonk getrou en deur haar man verlaat is, sê jou God.” (vv) In Jesaja 62:5 staan daar: “Soos ’n jong man met ’n meisie trou, .... soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.”

In 2 Kor. 11:2 sê Paulus aan die gemeente van Korinte: “Ek is jaloers op julle met ’n goddelike jaloersheid, want julle is soos ’n jongmeisie wat ek aan een man, naamlik Christus, belowe het as Sy bruid en wat ek as ’n rein maagd aan Hom wil voorstel” (vv). In Open. 19:7 staan daar: “...die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak.”

Die huweliksverbond - die troue

’n Huweliksverhouding het sy oorsprong lank voor daar ’n formele verhouding tussen ’n bruidegom en bruid bestaan het. Êrens in die verlede het die bruidegom sy bruid raakgesien en alles in sy vermoë gedoen om hierdie meisie se liefde te wen. Op ’n dag vra die jongman vir sy meisie om met hom te trou, en raak hulle verloof.

Wanneer hulle daarvoor gereed is tree hulle met mekaar in die huwelik. Hierdie is die stap en plek van algehele oorgawe! Dit is die troue! As jou lewe nie ten volle en algeheel aan Jesus Christus oorgegee is nie, sal jy die Bybelse oplossing vir ’n gelukkige huwelik ook nie verstaan nie! Want die fondament van ’n gelukkige huwelik is algehele oorgawe aan jou bruid of bruidegom en jou huwelik! Is jy al “getroud” met Jesus Christus? Eers dan sal jy verstaan wat dit beteken om met jou man of vrou getroud te wees!

Dit is God se doel en universele plan met die skepping van die mens om vir Hom ’n huisgesin, ’n nageslag en ’n volk - ’n bruid te verwek wat Sy eie is, van wie Jesus Christus die Bruidegom is. So lees ons ook in Ef 5:31,32: “Daar staan in die Skrif: ‘Daarom sal ’n man sy pa en ma verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle twee sal een wees.’ Hierin lê daar ’n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.”

Hoe doen God dit? Hy doen dit deur ’n huweliksverbond met jou en my deur Jesus Christus aan te gaan. Jesus Christus sê vandag vir jou: “Ek wil jou my bruid maak - Ek wil jou Man wees! Ek wil met jou trou; Ek wil met jou in ’n ewige onverbreekbare huweliksverbond tree. Ek gee jou my liefde - Ek vra jou liefde. Ek wil met jou gemeenskap hê - ons twee moet ’n nageslag na die beeld van God vir die Vader verwek!" Wat ’n geweldige gedagte - het jy dit al ooit so raakgesien?

Die huweliksverhouding

1. Algehele oorgawe

Die eerste voorwaarde vir gemeenskap met jou Hemelse Bruidegom, is algehele oorgawe! Daar by die altaar het jy vir Jesus gesê: ”Ek beloof om U lief te hê met my hele hart en met my hele siel en met my hele verstand en met al my kragte - en om aan U getrou te bly  en aan U gehoorsaam te wees heel my lewe.” Hierdie belofte het jy ook aan jou huweliksmaat gedoen voor die altaar op julle troudag! Die Bybel maak geen voorsiening vir ’n herroeping van hierdie belofte nie!

Kom ons maak een ding baie duidelik! Daar is slegs één voorwaarde waarop ’n Christen mag skei - en daardie voorwaarde is indien die ongelowige maat wil skei - 1 Kor 7:15! Hierdie voorwaarde geld ook in die geval van owerspel, Matt 5:32. As die huweliksmaat wat owerspel gepleeg het nie wil skei nie, is die kind van die Here verplig om te vergewe! Die Bybel maak geen voorsiening vir egskeiding deur ’n kind van die Here nie!

Liewe kind van God, soek jy na skuiwergate in die Woord van God vir ’n egskeiding? Dan verstaan jy nie algehele oorgawe nie! Dan verstaan jy nie God se Verbond met jóú nie! Dan verstaan jy ook nie die huwelik nie! Hou jy nog ’n agterdeur oop vir ’n moontlike egskeiding indien dinge nie sou uitwerk nie? Dan is jou huwelik, en miskien ook jou verhouding met God, op sand gebou! Indien jy hoegenaamd belangstel om aan jou huwelik te werk, begin dan hier! Verbrand elke brug, sluit elke agterdeur, vernietig elke brandtrap vir ’n moontlike egskeiding! Iemand het eendag gesê:

Jou liefde sal nie jou huwelik red nie - jou huwelik sal jou liefde red!

2. Die Goddelike hiërargie in die huweliksverhouding

Die hiërargie in die huweliksverhouding is van kardinale belang vir hierdie huwelik om normaal te funksioneer. Die Bruidegom is die Hoof - die Bruidegom neem die leiding - die Bruidegom is in beheer! So lees ons in Ef 5:23: “Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is.” Dit is nie ’n gewilde posisie vir die vrou om te aanvaar nie, veral in die lig van die wêreld se beskouing van gelykheid en vroueregte! Maar dit is die enigste posisie wat God sal seën in die Christenhuwelik, want dit is die Goddelike hiërargie!

3. Onderworpenheid (onderdanigheid) aan mekaar

Die Christen sal moet verstaan dat hy sy identiteit in sy Hemelse Bruidegom moet verloor. Die bruid wat haar eie identiteit wil handhaaf sal die intieme gemeenskap met die Bruidegom nie smaak nie. Die bruid sal moet leer om haar aan die Bruidegom te onderwerp.

Onderdanigheid is nie iets wat slegs die vrou in die huwelik raak nie. Die man moet die voorbeeld van onderworpenheid wees, want net soos die vrou aan die man onderdanig moet wees, moet die man aan Christus onderdanig wees! En dit impliseer dat die man somtyds aan die vrou onderdanig moet wees omdat hy aan Christus onderdanig is! Dit beteken na regte dat die man en die vrou aan mekaar onderdanig moet wees om Christus onthalwe! Die Bybelse hiërargie wat ons in die vorige paragraaf bespreek het, maak geen voorsiening vir manlike chauvinisme nie, want om aan Christus onderdanig te wees beteken dikwels om die minste te wees!

Christus het immers nooit Sy eie belange gedien nie, maar dié van Sy Bruid! Daarom lees ons in Ef 5:25: “Mans, julle moet julle vroue liefhê soos Christus die Kerk liefgehad en Sy lewe daarvoor afgelê het.” Ons lees ook in Fil 2:5-6 dat: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder...”

4. Konflik en kommunikasieprobleme in die huwelik

Nou kom dit by oorgawe in die praktyk. My Hemelse Bruidegom leer my wat dit beteken dat Hy die Hoof van my lewe is en dit vra ’n sterwe aan myself - ’n sterwe aan my eie idees, ’n sterwe aan mý manier van dinge doen, ’n sterwe aan my beterwete. Dit behels ’n verandering van my gewoontes, en ’n aanpassing in my standaarde. So werk dit ook in die huwelik.

Ek vind dat hierdie sterwe van my selflewe in die praktyk nogal ’n pynlike proses is. Ek het nooit geweet dat my ‘eie-ek’ nog so springlewendig kan wees nie. Ek leer my Hemelse Bruidegom ken - ek besef al hoe meer dat Hy heilig is en dat Hy geen kompromie met sonde maak nie. Ek leer om my gedagtes te vernuwe - ek begin besef dat daar ’n totale vernuwing van my verstand en my denke moet plaasvind.

Dit is ook nie te lank nie of die eerste konflik ontstaan in die huweliksverhouding. Ek het my Bruidegom bedroef - Hy het Sy aangesig vir my weggedraai. Hooglied 5:6: “Ek maak oop vir die man wat ek liefhet, maar die man wat ek liefhet, het omgedraai en is weg! Ek was so opgewonde toe hy gepraat het! Ek soek hom maar kry hom nie, ek roep hom maar hy antwoord nie.” Ek wil Hom so graag behaag - maar ek faal keer op keer.

Dank God vir 1 Joh 1:9: “As ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” O, dank God vir die bloed van die Lam wat reinig van alle sonde! Die oomblik dat ek met opregte berou my sonde teenoor my Hemelse Bruidegom kom bely, verkry ek weer vergifnis, en word my verhouding met Hom herstel. O, die wonder van vergifnis van sonde!

So werk dit ook in die huwelik! Sonder wedersydse vergifnis vir mekaar sal geen huwelik standhou nie! Liewe Christenvriend, loop jy dalk met ’n stuk onvergifnis in jou hart teenoor jou huweliksmaat? Is daar bitterheid in jou hart teenoor jou huweliksmaat? Gaan maak onmiddellik skoon! Dit sal vernedering kos! Dit sal jou brose ego seermaak! Maar daarsonder sal jy nooit ware huweliksgeluk smaak nie! Daar staan in Matt 6:14,15: “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”

Na ’n tyd egter, is ek moeg vir hierdie voortdurende vertroebeling in my verhouding met my Hemelse Bruidegom. Kort-kort is daar ’n kommunikasiestilstand in my verhouding met Hom en ly my gebedslewe skade. Hierdie op-en-af huweliksverhouding van my begin lyk soos ’n wipplank - die een oomblik is hy bo en net die volgende oomblik is hy doer onder. Ek begin desperaat word - want so kan dit nie aangaan nie. Daar sal iets moet gebeur anders gaan dit op ’n egskeiding uitloop. Ek begin soek na oorwinning in my Christelike lewe en my verhouding met God.

5. Die kruis van Jesus en oorwinning in die huwelik

Dan kom ek tot ’n wonderbare ontdekking - naamlik dat daar nie alleen vergifnis van sonde vir my is nie maar ook verlossing van die mag van sonde deur die bloed van Jesus Christus. Ek maak ’n geweldige ontdekking, naamlik dat ek in Christus was toe Hy aan die kruis van Golgota gesterf het - en dat ek myself moet dood reken vir die sonde - en dat dit ’n posisie is wat ek deur ’n besliste geloofstap moet inneem. Daarom lees ek in Rom 6:7,8: “Iemand wat gesterf het, is immers vry van die mag van die sonde. Ons het saam met Christus gesterwe ...” Rom 6:11 sê: “So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God, [omdat julle een is met Christus Jesus.]” Dít is my posisie in Christus - maar dit word slegs werklikheid in my lewe wanneer ek dit deur die geloof my eie maak. My oë gaan oop vir die wonderlike waarheid dat my Bruidegom dit vir my moontlik gemaak het om een met Hom te wees deur myself in Hom te verloor - deur te sterwe aan myself - omdat ek reeds saam met Hom gesterf het. Ek moet dit net deur die geloof vir myself toe-eien!

Die kruis van Jesus Christus staan nou sentraal in my huweliksverhouding. Ek begin verstaan dat die huwelik nie ’n 50-50 situasie is nie - maar een van 100% gee! Dit is ’n situasie van algehele oorgawe! Dit is slegs deur die kruis van Jesus Christus en die sterwe aan myself, dat ek een met Hom - en ook met my huweliksmaat kan wees. Ek moet my posisie as gekruisigde saam met Christus deur die geloof inneem. Ek maak ’n wonderlike ontdekking - ek ontdek dat daar so iets soos oorwinning in my huweliksverhouding is! Dit is nie nodig dat my huweliksverhouding soos ’n wipplank op en af gaan nie. Ek ontdek die wonder van ’n oorwinnende lewe en huwelik in Christus Jesus deur Sy volbragte kruiswerk!

6. Huweliksgemeenskap

Nou begin ek eers die diepte van ware gemeenskap met my Bruidegom beleef. Ek besef dat ek sal moet tyd in Sy teenwoordigheid spandeer om met Hom gemeenskap te hê. Tien minute in die oggend en tien minute in die aand beteken niks nie. Ek sal moet tyd maak om alleen met Hom in die verborgenheid te verkeer. Daar in gemeenskap met my Bruidegom leer Hy vir my. Daar in gemeenskap met my Bruidegom groei ek na Hom toe. Hoe meer tyd ek in Sy teenwoordigheid deurbring hoe beter leer ek Hom ken en hoe beter leer ek om Hom te verstaan. Hoe meer tyd ek in Sy teenwoordigheid deurbring, hoe meer word ek soos Hy - hoe meer word ek Sy beeld gelykvormig.

7. Vrugbaarheid in die huwelik

Die onafwendbare gevolg van ’n lewe van gemeenskap met my Bruidegom is geestelike vrugbaarheid. Die onafwendbare gevolg van ’n lewe van gemeenskap met my Bruidegom is dat ek geestelike kinders vir God sal voortbring - ek sal ’n nageslag vir God voortbring na Sy beeld. As ek geestelik onvrugbaar is, beteken dit dat daar fout is met my gemeenskap met die Bruidegom. Dit is God se hoogste doel met my lewe - naamlik dat ek geestelik sal reproduseer. Dit is nie moontlik om geestelik vrugbaar te word, behalwe deur gemeenskap met die Bruidegom nie. Sommige Christene probeer “kunsmatige inseminasie” - maar al wat daaruit voortkom is buite-egtelike kinders. Daar is geen plaasvervanger vir geestelike vrugbaarheid behalwe deur gemeenskap met die Bruidegom nie.

8. Onvrugbaarheid in die huwelik

Dit is egter so dat daar baie Christene is wat opregte gemeenskap met hulle Hemelse Bruidegom het, en nogtans onvrugbaar bly. Waarom? Omdat die satan hulle geboortebeperkingspille voer. Die satan weet baie goed wat God se doel en plan met elke Christen is. As hy nie kan verhoed dat ’n persoon ’n huweliksverbond met God sluit nie, probeer hy verseker dat hy onvrugbaar bly. Hier is enkele voorbeelde van die satan se geboortebeperkingspille:

Die ‘vind-met-alles-fout’ pil. Hierdie pil verseker dat daar altyd konflik in die huis is.

Die ‘ou-koeie-uit-die-put-haal’ pil. Dit is die pil van bitterheid, onvergewensgesindheid en onversoenbaarheid.

Die ‘ek-is-reg-en-jy-is-verkeerd’ pil. Dit is die pil van eiegeregtigheid en onbuigbaarheid.

Die ‘doofheid’ pil. Dié pil veroorsaak dat ek nie my huweliksmaat, en ook vir God, nie hoor nie.

Die ‘skewe-beeld’ pil. Hierdie pil veroorsaak wantroue en vooroordeel in my hart teenoor my huweliksmaat.

Die ‘depressie’ pil sorg dat ek altyd tam is en elimineer my wilskrag.

Die ‘gras-is-groener-aan-die-anderkant-van-die-draad’ pil. Dit is die pil van versoeking.

Mag die Here aan jou verligte oë van die verstand gee, en aan jou onderskeiding gee om die onvrugbaarheidspille van die satan in jou lewe te onderskei en na die kruis van Golgota toe te bring. Mag die Here aan jou genade gee tot ’n lewe van intieme en onafgebroke gemeenskap met jou Bruidegom sowel as jou huweliksmaat, en mag die Heilige Gees jou vrugbaar maak sodat jy ’n Goddelike nageslag vir Hom sal voortbring.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.