Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die 10-41-Venster

deur
Elmer Grobler

Die 10-40-Venster

Ek vertrou dat jy bekend is met die 10-40-Venster. Die 10-40-Venster verwys na die streek van die wêreld wat tussen die 10de en 40ste breedtegraad lê waarin die grootste deel van die Ongeëvangeliseerde Wêreld geleë is. Die 10-40-Venster word vir ons pragtig uitgebeeld op die kaart hiernaas van die Joshua Project. Die gedeelte wat in rooi aangedui word verteenwoordig die Onbereikte Wêreld en dit lê hoofsaaklik in die 10-40-Venster.

Ek wil egter 'n nuwe 'Venster' aan jou bekendstel -- ek noem dit die 10-41-Venster.

Die 10-41-Venster

Die 10-41-Venster sluit die bestaande 10-40-Venster in, maar 'n baie belangrike 'venster' word hier bygevoeg, wat ons in 'n oomblik sal verduidelik. In die eerste plek staan die "1" vir EEN DING -- EEN GELEENTHEID -- EEN VENSTER. God gee aan die Kerk nog EEN geleentheid om die Onbereikte Wêreld met die Evangelie van Jesus Christus te bereik. Hierdie EEN DING moet die belangrikste saak op die Kerk se agenda wees! Hierdie EEN DING moet die Christendom se eerste prioriteit wees! Hierdie EEN DING moet op elke Christen se lippe wees. Hierdie EEN DING moet bo aan die lys van elke Christen se finansiële begroting wees. Hierdie EEN DING moet bo aan elke Christen se gebedslys wees!

Ons het reeds in ander artikels die belangrikheid en prioriteit om die Onbereikte Wêreld met die Evangelie te bereik, uitgewys. In die artikel, 'Die Laaste Pylvak', het ons gesê dat ons onsself tans in die laaste pylvak voor Jesus se wederkoms bevind en dat daar slegs EEN DING is wat die wederkoms van Jesus kan vertraag -- as die HELE wêreld nog nie met die Evangelie bereik is nie en Jesus se Groot Opdrag nog nie voltooi is nie.

Waarom 'n 'Venster'?

'n Venster skep die beeld van visie. As daar nie 'n venster is nie, is jou visie beperk -- dan sien jy net die dinge rondom jou raak. Sonder 'n venster is jou wêreldjie klein. Hoe hartseer is dit nie dat 'n groot deel van die Kerk in 'n wêreldjie van hul eie leef - sonder 'n venster! 'n Groot persentasie van die Kerk het geen visie vir die Onbereikte Wêreld nie. Hulle wêreld het geen venster nie! Het jou wêreld 'n venster? Miskien is jou gordyne toegetrek! Die Here vra vandag vir jou om die gordyne voor die venster op die Onbereikte Wêreld in jou wêreld oop te trek!

Maar die Venster van die 10-41-Venster het 'n addisionele betekenis. In hierdie geval verwys dit na 'n tydsraamwerk. Dit is 'n visie wat binne die raamwerk van 'n beperkte tydperk vervul moet word. Ek het nie woorde om die dringendheid van hierdie visie te beklemtoon nie! Ons het min, min tyd oor -- God se horlosie staan op een minuut voor twaalf! Dit is van absolute belang dat ons die dringende betekenis van hierdie Venster sal verstaan.

Die Here het die afgelope aantal jare, en is toenemend besig om aan Sy Kerk 'n unieke instrument te gee om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik -- die digitale tegnologie. Vriende, luister mooi, die digitale tegnologiese revolusie van ons tyd se primêre doel is om die Kerk toe te rus om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik ter voorbereiding van Jesus se wederkoms! Vir die EERSTE keer in die geskiedenis van die wêreld is dit NOU moontlik om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik met behulp van digitale tegnologie. Binne die volgende tien jaar sal daar 'n vertalingsprojek van die Bybel of in hoorbare of visuele formaat in plek wees wat deur alle mense in die wêreld verstaan sal word -- met behulp van digitale tegnologie. Die Bybel sal die EERSTE en enigste boek in die wêreld wees wat deur elke mens in die wêreld verstaanbaar sal wees!

Die punt wat ek egter wil maak is -- ons het min, min tyd! Daar is 'n tydsvenster betrokke! Hierdie tydsperiode wat aan die Kerk gegee word om hierdie doel te bereik sal tot 'n einde kom wanneer die Antichris sy verskyning gaan maak en die deur vir die Evangelie oor die digitale media gaan toeklap! Hierdie proses is alreeds besig om momentum te kry. In sommige lande word die internet reeds onderwerp aan streng beheer en in sommige lande (insluitende Suid-Afrika) is wetgewing in die pyplyn wat die verkondiging van die Evangelie oor die digitale media as haatspraak wil brandmerk.

Ek doen 'n beroep op jou -- help ons om die boodskap van die 10-41-Venster die wêreld in te dra via die digitale en sosiale media -- terwyl ons nog tyd het!

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.