Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Kerk se Identiteitskrisis

deur
Elmer Grobler
“Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, ...” Jesus Christus in Mat 7:23.

Ken die Here jou?

Liewe vriend en vriendin, ek wil graag vir jou ‘n vraag vra wat elke mens op aarde moet beantwoord, naamlik, ken Jesus Christus jou? Ek weet wat jou antwoord is op die vraag, ken jy die Here?, maar dit is nie my vraag nie. My vraag is, ken die Here jou? As jy ‘ja’ op hierdie vraag antwoord, hoe weet jy dit? Die Bybel leer vir ons ondubbelsinnig op grond waarvan Jesus Christus jou ken, en ek wil graag seker maak dat jy dit verstaan. Miskien dink jy die antwoord is voor die hand liggend, maar die kanse is groot dat dit dalk vir jou ‘n ontnugtering sal wees.

Ons lewe tans in ‘n tyd waar dit moelik is om ‘n ware Christen uit te ken. Aan die een kant staan ons bekend as ‘n Christenland en vereenselwig ‘n meerderheid van ons mense hulle met die Christelike geloof. Die sosiale media is vol van Christelike boodskappies en selfs persone wie se monde ons oumas met seepwater sou wou uitspoel, “like” en pos somtyds ‘n geestelike boodskap tot jou verbasing. Aan die ander kant lê baie belydende Christene se geestelike ondervinding so vlak dat ‘n mens weinig onderskeid kan tref tussen hulle en ‘n ongeredde persoon. Hoe ken mens ‘n Christen uit?

Die Christendom van ons dag het ’n verwarde identiteit. Wie, wat en waar is die Kerk? Met wie moet ek my as Christen identifiseer en met wie nie? Die norme en standaarde van die kerk van vandag is nie meer dieselfde as waarmee ek grootgeword het nie! Op ’n stadium was dit nog relatief maklik om te weet of iemand ’n Christen was of nie. Al wat jy nodig gehad het om te weet was, of ’n persoon weergebore is of nie — en jy kon dit sien nog voordat hy of sy dit bely, want hy of sy het anders gelyk, geruik, gepraat en gedoen as die wêreld! Vandag maak byna almal wat hulle as Christene beskou, daarop aanspraak dat hulle ‘weergebore’ is, maar weinig toon die ‘identiteit’ van wedergeboorte! Saam met Paulus getuig my hart: “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry.” Gal 4:19. 

Die bron van verwarring ...

Hoe lyk ‘n Bybelse Christen? Die Bybel leer dat afvalligheid en misleiding ‘n kenmerk van die Kerk in die laaste dae (waarin ons tans leef) sal wees. Met ander woorde, as die Bybel waar is, moet ons die algemene standaard van Christenskap rondom ons in die wêreld, sterk bevraagteken. Wat is die primêre simptoom van die afvalligheid en misleiding van die laaste dae waarvan die Bybel praat? Jesus Christus gee vir ons die antwoord in Sy profetiese rede. In Mat 24:3 lees ons: “En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” Nadat Jesus vir hulle vertel het van, onder andere, valse christusse, oorloë, aardbewings en pessiektes wat sal kom, het Hy in vers 12 die volgende uitspraak gemaak: “Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel.” (NV. Beklemtoning my eie.) 

Die primêre simptoom van die afvalligheid in ons tyd, is minagting van die wet van God. Jesus praat nie hier van die ongelowige wêreld daar buite nie — Hy praat van gelowiges — Hy praat van ‘kerkmense’! In Mat 23:28 sê Jesus vir die Fariseërs: “So is julle ook: van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (NV. Beklemtoning my eie.) Die Ou Vertaling gebruik die woord “ongeregtigheid” in plaas van “minagting van die wet”. (“lawnessness” — NKV) Die oorspronklike woord wat hier gebruik word is “anomia”, wat beteken: “wetteloosheid, oortreding van die wet, ongeregtigheid”. Dus, ongeregtigheid = oortreding/minagting van die wet.

Maar die wet is in Christus vervul ...

Die Nuwe Testament leer vir ons dat die wet in Jesus Christus vervul is, maar wat beteken dit? Hierdie is ’n diep onderwerp en ek gaan nie voorgee om dit hier volledig te behandel nie. Ek som slegs kortliks op — hierdie is die kern van die saak!

Die wet bestaan uit drie elemente — die Morele Wet, die Seremoniële Wet en die Juridiese– of Strafwet. 

  1. Die kern van die Morele Wet bestaan uit die Tien Gebooie. 
  2. Die Seremoniële Wet het te make met die tempeldiens, die verskillende offerhandes en al die seremonies waarvan die wet van Moses praat. 
  3. Die Juridiese– of Strafwet bestaan uit die bepalings vir die straf vir oortreding van die wet. Doelbewuste oortreding van die Tien Gebooie was strafbaar met die dood.
  • Jesus Christus het die Strafwet volkome vervul deur die straf vir oortreding van die wet op Hom te neem aan die Kruis van Golgota. 
  • Jesus Christus het ook die Seremoniële Wet kom vervul deur Homself as die volmaakte Paaslam te gee as volkome offer vir die sonde. 
  • Jesus Christus het ook die Morele Wet kom vervul deur Sy oorwinning oor sonde en die satan met Sy opstanding uit die dood.
Deur geloof in Jesus Christus kom skryf Hy nou God se Morele Wet op die tafel van elke weergebore kind van God se hart.

 (Eseg 11:19,20; Eseg 36:25-27.)

Vervulling van die wet beteken nie ...

Wat beteken die vervulling van die wet nie? Dit beteken nie dat die wet nou opgehef is nie — ook nie die vierde gebod nie! Die wet is in Christus vervul — nie opgehef nie! Daarom maak Jesus die doel van Sy koms na die wêreld ondubbelsinnig duidelik in Sy bergrede in Mat 5:17-20 soos volg: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele. Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid (getrouheid aan die wet — NV) nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” (OV. Beklemtoning my eie.)

Die apostel Paulus bevestig Jesus se woorde in Rom 3:30,31: “...  aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.” (OV)

Daar bestaan ‘n moderne tendens om die Ou Testament se rol in die Evangelieboodskap af te water of selfs as irrelevant te beskou. Hierdie is ‘n groot fout! ‘n Mens kan die Nuwe Testament en die Evangelie slegs reg verstaan binne die konteks van die Ou Testament! Die Nuwe Testament is die vervulling van die Ou Testament -- nie die vervanging daarvan nie! Om die Bybelboodskap en die Evangelie reg te verstaan moet ‘n mens die geheelprentjie van die Bybel reg sien en verstaan. Die Evangelie begin nie by Mat 1:1 nie — die Evangelie begin by Gen 1:1! (Terloops, Matteus se Evangelie begin nie by die geboorte van Jesus nie — dit begin by Abraham! Sien Mat 1:1.)

Die basiese kenmerk van ‘n Bybelse Christen

As dit dan so is, wat is die basiese kenmerk van ‘n Bybelse Christen?

‘n Bybelse Christen leef in harmonie met die Morele Wet van God deur die krag van die inwonende Heilige Gees.

Maar hoe sien die Morele Wet van God daaruit in die Nuwe Testament? Het die wet van God in die Nuwe Testament nie verander nie? In plaas van ‘n stel reëls van moets en moenies is dit mos nou liefde, nie waar nie? Sê die Woord dan nie uitdruklik in Rom 13:10: “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.” Dit is inderdaad so. Jesus het self gesê in Mat 22:37-40: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.”

Die probleem is egter dat baie Christene blykbaar nie Jesus se gebod van liefde in verband bring met God se Morele Wet soos vervat in die Tien Gebooie nie. Die rede hiervoor is ‘n verkeerde liefdesbegrip. Dit is van wesenlike belang om te onderskei tussen humanistiese (of menslike) liefde en Goddelike liefde. Menslike liefde is natuurlike liefde — soos die liefde van ‘n pa en ma vir hulle kinders, en vriende vir mekaar. Ons word almal met natuurlike liefde gebore. Natuurlike liefde is egter inherent selfgesentreerd, en het primêr homself en sy eie kring lief.

Geen mens kan vir God liefhê met natuurlike liefde nie — dit is juis die kenmerk van die sondeval en waarom alle mense in sonde gebore word. Geen mens het God van nature lief nie. Die liefde waarvan Jesus praat in Mat 22:37-40 is Goddelike liefde. Hierdie liefde is ‘n genadegawe van God op grond van Jesus se vervulling van die wet aan die kruis — en word verkry slegs deur die inwonende Heilige Gees met wedergeboorte. Daarom sê Jesus vir Nikodemus in Joh 3:3: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Die wet van die liefde

Nou is die vraag, hoe lyk hierdie wet van die liefde in Nuwe Testamentiese taal? Die standaard van God vir die Christen is inderdaad veel hoër as die Ou Testamentiese morele wet, juis omdat dit deur Goddelike liefde gedryf word. Die wet van die liefde in die Nuwe Testament sluit nie alleen die uiterlike daad in nie, maar ook die diepste oordenking en motief van die hart. Die morele inhoud van die Nuwe Testament pas volmaak in die raamwerk van die Tien Gebooie, soos hieronder uiteengesit! Dit lyk so:

My liefde vir God
  • 1. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag niemand of enige iets anders in die lewe aanbid, verafgod (idilliseer), meer vertrou, meer vrees, of liewer hê as vir My nie. Jy moet My liefhê en op My vertrou met jou hele hart, en op elke terrein van jou lewe. Ek vra ’n algehele geloofsoorgawe aan My — gees, siel en liggaam. (Bv. Mat 22:37; Mat 6:24; Mat 10:37-39; Rom 12:1,2; Rom 14:23; Fil 3:19; Heb 4:12)
  • 2. Jy mag nie ‘n beeld, kunswerk, foto, video of rolprent van ’n persoon, filmster, held, geliefde, of enige iemand of iets wat geskape is aanbid, idilliseer, of liewer hê as vir My — selfs in jou verbeelding en gedagtes nie. Ek vra dat jy My sal aanbid en liefhê met ‘n onverdeelde hart. (Bv. Mat 22:37; Rom 12:1,2; Heb 4:12)
  • 3. Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydelik gebruik of misbruik nie. Jy moet My beelddraer, My verteenwoordiger en My getuie hier op aarde wees. Jy mag My nie verraai, verloën, wanvoorstel, of My Naam oneer aandoen nie — jy moet My in geregtigheid en waarheid verteenwoordig, in harmonie met My karakter van heiligheid en liefde — deur jou spraak, gedrag, dit waarna jy luister en kyk, sowel as jou kleredrag en voorkoms. Moenie My Naam oor jou lippe noem, of jou beroep op My Naam as jou lewe nie van My getuig nie! (Bv. Mat 26:29, Mat 26:74, Ef 4:29, Mat 18:7, Mat 26:24)
  • 4. Gedenk die Sabbatdag dat jy dit heilig. Jy, jou gesin, en almal in jou diens, moet een uit elke sewe dae afsonder vir God se werk en doel, en rus van jou week se werk. Jy mag ook nie andere in jou leefkring daarvan weerhou deur dit wat jy jouself veroorloof op die dag van die Here nie. Dit is die Dag van die Here, want in ses dae het God die hemel en die aarde geskape en op die sewende dag het Hy gerus. (Bv. Mat 12:8; Mar 1:21; Mar 2:27,28; Luk 4:16; Han 16:13; Han 18:4)
My liefde vir my naaste
  • 5. Onderwerp jou aan God se gedelegeerde gesag. Respekteer en onderwerp jou aan die gesag van jou ouers, jou man, mekaar, die regering, jou werkgewer, jou geestelike– en ander leiers, die skool en elke ander vorm van gesag in jou lewe — want daar is geen gesag wat nie van God kom nie. (Bv. Rom 13:1-7; Ef 5:22-33; Ef 6:1-9; 1 Pet 2:13-18)
  • 6. Jy moet in ‘n gesonde verhouding met jou medemens leef. Jy mag nie moord pleeg, vyandig of aggressief optree, of vyandige-, liefdelose-, wraakgedagtes en -gevoelens teenoor iemand anders koester nie. Jy mag nie in ‘n gebroke verhouding met jou medemens staan nie — jy moet jou vyande liefhê, vrede nastreef, ‘n gesindheid van verdraagsaamheid en nederigheid teenoor almal openbaar en hulle wat teen jou oortree vergewe. (Mat 5:21-26; Mat 5:38,48; Mat 6:14,15; 1 Kor 13:4-7)
  • 7. Jy mag nie die huweliksverbond verbreek of skend nie. Jy mag nie aan enige vorm van seksuele gedrag voor of buite die huwelik tussen een man en een vrou deelneem, daarna kyk, koester in jou gedagtes, of dit bevorder, binne of buite 'n liefdesverhouding, of deur jou gedrag, gesprekke, kleredrag of voorkoms nie. Die huwelik is ‘n instelling van God en ‘n beeld van die verhouding tussen jou en Jesus Christus. Daar moet ‘n heilige, intieme liefdesverhouding tussen jou en jou huweliksmaat wees en jy moet getrou bly aan hom of haar tot die dood toe. My oplossing vir probleme in jou huwelik is versoening — net soos Ek My met jou versoen het deur My lewe vir jou af te lê. Egskeiding is slegs ‘n opsie vir die ongelowige huweliksmaat. (Bv. Mat 5:27-32, 1 Kor 6:9; 1 Kor 7:10-16; Mat 18:7-9, Mar 7:9, 1 Kor 6:13,18, Gal 5:19, 1 Pet 4:3,4, Op 17:4.)
  • 8. Jy mag nie van iemand steel, of iemand anders benadeel deur jou doelbewuste optrede nie. (Bv. Mat 19:18, Ef 5:28)
  • 9. Jy mag nie lieg, bedrieglik of oneerlik wees, of iemand anders doelbewus mislei nie. Jy moet ten alle tye die waarheid in liefde praat en leef. (Bv. Han 5:3; Kol 3:9; 1 Joh 1:6)
  • 10. Jy mag nie begeer nie. Jy mag niks in of van hierdie wêreld begeer buite die wet, wil en plan van God vir jou lewe nie. Jy mag nie die wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie en niks in hierdie wêreld mag ‘n houvas op jou hê nie. (Bv. Mat 5:27-30; Mat 16:24-26; Rom 7:7,8; Jak 1:14,15; 1 Joh 2:15-17)

Hierdie is God se standaard vir ‘n Christen. Toets jouself. Het jy God se wet van liefde soos hierbo uiteengesit liewer as enige iemand of iets anders in jou lewe? Dit is nie moontlik om God lief te hê sonder om Sy wet lief te hê nie — want die wet van God is ‘n uitdrukking van Sy karakter, hoe en wie Hy is. Iemand wat sê dat hy of sy vir Jesus Christus lief het, sal ook Sy wet liefhê — anders het jy te doen met ‘n ander Jesus!

So lyk ‘n Bybelse Christen

‘n Bybelse Christen is iemand wat ...:

  • ‘n Getuienis van bekering en wedergeboorte het — ‘n getuienis het dat God my sonde vergewe het en Sy wet van liefde op my hart kom skryf het deur Sy inwonende Heilige Gees. Nee, jy hoef nie ‘n datum te hê nie — maar jy moet verseker weet dat dit met jou gebeur het! God se wet van liefde is die rede waarom elke mens tot bekering moet kom. Die wet is God se standaard vir die mens — en daarom gaan wedergeboorte met bekering gepaard. Wanneer iemand getuig dat hy of sy tot bekering gekom het, beteken dit dat hy of sy teruggekom het na God se standaard vir sy of haar lewe — naamlik die wet van God. Iemand wat hom of haar nie onderwerp aan die wet van God nie, het nog nie tot bekering gekom het — en mislei hulleself as hulle dink dat hulle gered is.
  • ‘n Bybelse Christen is iemand wat vrygemaak is van die straf van sonde en oortreding van die wet, in ‘n persoonlike liefdesverhouding met Jesus Christus staan, met ‘n lewende gebedslewe en ‘n oop Bybel, en ‘n opregte begeerte om God in en deur my lewe te behaag, en Sy wet te gehoorsaam en te leef.
  • ‘n Bybelse Christen is iemand wat sensitief is vir sonde, en sonde sien soos God daarna kyk. Nie probeer om die wet van God af te water deur allerhande teologiese toertjies en God se standaard probeer afbring na my standaard, of wegkruip agter die ’ons-is-maar-almal-sondaars-sindroom’, nie — maar eerder daarna streef om my geestelike standaard te verhoog na God se standaard van liefde. Minagting van die wet het tot gevolg dat daar ‘n oppervlakkige sondebesef by baie Christene bestaan. Sommige veralgemeen deur te sê, maar God sien nie meer my sonde raak nie — Hy kyk na my deur die bril van Jesus se geregtigheid. Dit is ‘n misleiding en verdraaiïng van die waarheid. Dit is slegs waar vir sonde wat ek bely, en my van bekeer het — dit is nie ‘n lisensie om in sonde voort te leef nie!
  • ‘n Bybelse Christen is iemand wat soek na verlossing van die mag van sonde en die wet — soek na meer van die krag van die Heilige Gees in my lewe en nie rus totdat ek die vervulling met die Heilige Gees en die oorwinnende, vrymakende krag van die Heilige Gees oor sonde en die wet — wat elke Christen se regmatige erfenis in Jesus Christus is — in my lewe ervaar en beleef nie.

Pasop vir ‘n ander Evangelie

“Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het.“ (2 Kor 11:4. NV)

Daar is baie ander dinge wat ook as eienskappe van ’n Christen genoem kan word — soos byvoorbeeld gawes, ‘n verskeidenheid van seëninge, ervaringe, wonderwerke, genesings, aanbiddingsvorme, bedieninge en roepinge — maar hierdie dinge verskil van Christen tot Christen en het te make met ons toerusting om die Evangelie die wêreld in te dra. Daar is leraars wie se sentrale woordbediening op hierdie versierings bo-op die koek fokus, terwyl hulle boodskap mank gaan aan die wesenlike inhoud van die Evangelie. Dit klink wonderlik vir hulle wat in die gehoor gestreel wil word, maar in werklikheid verdeel, en uiteindelik vernietig dit die Kerk!

Hierdie dinge maak nie van ons Christene of beter Christene nie, en as jy getuig van ‘n Goddelike ingryping, wonderwerk of seën in jou lewe terwyl jou lewe nie op die standaard van God se wet van liefde is nie, is dit ‘n voorbeeld waarvan 1 Kor 13:1,2 praat: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie.”

As jy die woord “liefde” in bogenoemde verse vervang met “God se wet van liefde”, sal jy die groter prentjie raaksien en beter verstaan wat Paulus met ‘liefde’ bedoel. Wanneer jy Paulus se beskrywing van liefde in vers 4 tot 7 in 1 Kor 13 bepeins, sal jy agterkom dat elkeen van daardie liefdeseienskappe ‘n toepassing in God se wet van liefde het, soos dit in die Tien Gebooie saamgevat is.

Waarom is ons so verdeeld?

Waarom kan die Kerk van Jesus Christus oor denominasionele grense dan nie saamstem oor wat ‘n Bybelse Christen is nie? Waarom bly ons steeds verdeeld oor basiese kwessies? Beantwoord Jesus hierdie vraag dalk in Mat 24:12: “Omdat die minagting van die wet van God sal toeneem, sal die liefde by baie verkoel.”? Is dit dalk waarom ons nie meer die Tien Gebooie tydens ons eredienste lees nie? Is ons bang om as ‘wetties’ of ‘formalisties’ gebrandmerk te word? Is dit dalk so dat indien die moderne kerk van ons tyd weer die tien gebooie begin lees en hoor tydens eredienste, die kerk sal leegloop? Dalk is dit so! Dalk is dit juis die waterskeiding!

Satan haat die wet van God! Regoor Amerika, onder andere, bestaan daar aksies om die Tien Gebooie te verwyder uit die openbare lewe. Waar evangeliese Christene dit regkry om die Tien Gebooie ten toon te stel, probeer die magte van die duisternis met mening om dit af te breek. Byvoorbeeld, op 28 Junie 2017, het ‘n man ‘n pasopgerigte monument van die Tien Gebooie in Arkansas met sy motor platgery. Wees verseker dat die duiwel en sy bose magte ook die wet van God in jou eie lewe met mening wil vernietig! Pas veral op vir die ander Jesus!

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam bose geeste uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?’ Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Mat 7:21-23. (NV)
Die vraag is nie, ‘ken jy die Here?’, nie. Die vraag is, ‘ken die Here jou?’.

Lees gerus ook die volgende artikels:

‘Die Ander Jesus’

‘Die Christen se Identiteitskrisis!’

‘Drie Tekens dat die Wederkoms Vlak Voor die deur is - Deel 3’

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.