Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

In die Laaste Pylvak - of nie?

deur
Elmer Grobler

Leef ons werklik naby aan Jesus se wederkoms?

Daar bestaan 'n verwagting by sommige kinders van die Here dat ons baie naby aan die wederkoms van Jesus Christus lewe. Is hierdie verwagting realisties? Die Kerk van Jesus Christus sal oor 'n paar jaar van nou af 2,000 jaar oud wees. Beteken dit iets? In 'n ander artikel brei ek meer hieroor uit.

Dit is inderwaarheid so dat ons in 'n unieke tyd van die geskiedenis van die Kerk leef. Daar bestaan 'n opgewondenheid in die harte van baie Christene dat God tans besig is met die laaste skuiwe in die geskiedenis van die wêreld ter voorbereiding van Jesus se wederkoms. Terwyl ons versigtig moet wees om nie elke ding wat gebeur in die wêreld en elke nuwe president of pous wat verkies word aan 'n spesifieke eindtydse profesié te probeer koppel nie, kan ons nie die gewaarwording ignoreer dat die legkaart van Bybelse eindtydprofesieë besig is om 'n stadium van voltooiïng te bereik nie.

Ek weet daar is Christene wat met my sal verskil, 'n dierbare, toegewyde (en hoogs-ingeligde) Christenvriend van my het onlangs vir my gesê, hy dink Jesus se wederkoms is nog so 200 jaar weg. Ek moet erken, ek was nogal bietjie onkant gevang deur sy uitspraak. Dit is inderwaarheid so dat daar al baie wêreldgebeure gekom en gegaan het wat "profete" aan 'n spesifieke vervulling van 'n eindtydse profesie gekoppel het, wat toe nooit die vervulling daarvan was nie. Kort-kort is daar maar weer 'n nuwe "profeet" wat 'n datum aan Jesus se wederkoms koppel om dan net weer verkeerd bewys te word. Hierdie tendens het die vermoë om kinders van die Here se wederkomsverwagting te verflou en 'n mens se visie te verdof vir die vervulling van wederkomsprofesieë. Dit het na die draai van die millennium ook met my gebeur.

Ons moet egter versigtig wees om nie deur die afvallige en materialistiese gees in die Kerk van ons tyd meegesleur te word nie. Dit was Jesus se bedoeling dat die Kerk voortdurend in 'n gees van verwagting op Sy wederkoms moes en moet leef. Om hierdie verwagting lewendig te hou is dit van fundamentele belang dat ons sal verstaan waarmee God tans in die wêreld besig is. Dit verstom my dat so min Christene ooit hierdie vraag vra en met erns na die antwoord soek. Sien ons die groter Bybelprentjie besig om in volmaakte vervulling te gaan?

Waarmee is God tans in die wêreld besig?

In die artikel, God se Skeppingsdoel vir die Mens, het ons afgesluit met die stelling: die doel van die skepping was om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid. In die artikel, Die Bruid van Christus - Feit of Fobie?, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat die Bruid van Christus verteenwoordigend sal wees van elke stam, taal en nasie. Dit is dus onteenseglik duidelik dat die primêre taak waarmee God tans in die wêreld besig is, is om Sy Bruid te versamel uit die nasies.

Die Laaste Pylvak - Verseker!

'n Baie belangrike ding wat ons moet verstaan is die volgende: 

Die wederkoms van Jesus Christus hang nie af van wanneer die Bybelse wederkomsprofesieë in finale vervulling gaan nie -- die finale vervulling van Bybelse wederkomsprofesieë hang af van wanneer die Kerk, Jesus se Groot Opdrag voltooi het!

Vriende, daar is geen twyfel dat ons in die laaste pylvak voor Jesus se wederkoms leef nie! (Ek skryf in volgende artikels meer hieroor.) Hoe lank hierdie pylvak gaan wees weet ons nie, maar van een ding is ek seker - al die hekkies (van Bybelse eindtydprofesieë) is reeds oorgesteek! Dit is slegs die pylvak wenpaal toe wat nog oorbly! 

Hoe lank (of kort) die laaste pylvak gaan wees hang van slegs EEN DING af:  hoe lank (of kort) dit gaan neem om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik en Jesus se Groot Opdrag te voltooi! Daarom moet die bereiking van die Onbereikte Wêreld die Kerk se hoogste en eerste priorioteit wees -- anders is die Kerk uit pas met dit waarmee God in die wêreld besig is! Waarmee is jy primêr besig?

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.