Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Wat Moet Ons Doen, Broeders? - Deel 1

deur
Elmer Grobler

Hierdie artikel behels die eerste helfte van die laaste hoofstuk van my boek, 'As Jesus Vertoef Om Te Kom', wat ek in 2012 gepubliseer het. Die onderwerp van die boek is die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag. Ek publiseer dit graag weer hier. Die opskrif van hierdie hoofstuk is 'n aanhaling uit Han 2:37: "Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?" Ongelukkig was dit nie dieselfde reaksie wat ek ontvang het op my boodskap nie, maar ek herhaal dit nietemin weer hier.

“Wat Moet Ons Doen, Broeders?”

Ek vertrou dat ek daarin geslaag het om vanuit die Woord van God aan te toon dat die voltooiïng van die Groot Opdrag en die neem van die Evangelie na elke nasie, volk, taal en stam die primêre taak van die Kerk is. (Sien gerus die ander artikels hieronder wat reeds gepubliseer is.) Dit is nie ‘n addisionele of bykomstige funksie waarby die Kerk betrokke kan wees op ‘n vrywillige basis nie! Dit staan op ‘n gelyke voet met plaaslike gemeentegroei! Dit is eenvoudig ‘n opdrag om dit wat ons plaaslik doen ook te doen tot aan die uiteindes van die aarde! As ‘n gemeente die Groot Opdrag nie so hanteer nie is sy eenvoudig besig om God se plan en doel vir die gemeente te mis!

Stop Fondsinsameling vir Sending!

Waarom is dit dan nodig om fondse in te samel vir sending? Is dit nie tragies dat sendelinge en sendingorganisasies dikwels hulle eie fondse moet genereer om die werk van die Kerk te doen nie! Wat ‘n tragedie dat die hooftaak van die Kerk nie ten volle deur die Kerk befonds word nie! Wat ‘n skande dat sendelinge en sending-organisasies wat geroep is om die werk van die Kerk te doen en die Evangelie na die onbereikte wêreld te neem, hulle tyd en energie moet bestee om finansiële ondersteuning te werf om hulle in staat te stel om die hooftaak van die Kerk te vervul! Wat ‘n skande dat die belangrikste taak van die Kerk moet steun op kollektes, blikkie-projekte, koek- en tweedehandse klereverkopings om die werk van die Kerk te doen! Waarom nie liewer fondse insamel vir die plaaslike gemeente as die gemeente nie kan uitkom met sy fondse nadat die eerste 50% aangewend is vir wêreldsending nie?

Etlike jare gelede is die geloofsoffer konsep bekendgestel in baie kerke om sending te ondersteun. Die gedagte van ‘n geloofsoffer was om die Here te vertrou om my in staat te stel om iets vir sending te gee bo en behalwe my normale tiende. Terwyl die konsep van die geloofsoffer goed was, was ek absoluut ontsteld om te ontdek dat baie gemeentes die geloofsoffer gebruik as hulle totale sendingbydrae, en hulleself sodoende te onthef van die verantwoordelikheid om sending vanuit hulle algemene gemeente-fondse te  ondersteun!

Wat ‘n skande dat sendelinge wat die hooftaak van die Kerk vervul vir fondse moet bedel om die werk van die Kerk te doen! Wat ‘n skande dat ‘n gemeente tevrede is om sy oorskietfondse vir sending te gee! Wat ‘n klap in die gesig van Jesus Christus dat ‘n gemeente fondse moet insamel om Jesus se Groot Opdrag uit te voer, terwyl die plaaslike leraar ‘n volle salaris, pensioen en mediese voordele ontvang — terwyl sommige selfs in weelde leef! Daar is geen twyfel in my gemoed dat ek die hart van God vertolk wanneer ek my sterkste misnoë en hartseer uitspreek teenoor hierdie toedrag van sake in die kerk!

Ek het onlangs ‘n leraar hoor sê dat leraars en leiers behoort aan te bied om hulle leefstyl met dié van die sendelinge wat hulle as gemeente ondersteun, om te ruil. Ek haal my hoed af vir hierdie leraar — ek dink hy verstaan iets wat baie ander nie verstaan nie!

Waarom die Kerk Minstens 50% van sy Inkomste op Wêreldsending Behoort te Bestee

Eintlik is hierdie ‘n baie dom vraag, want ‘n mens het nie ‘n rekenaar nodig om die antwoord uit te werk nie! Enige iemand wat tot twee kan tel behoort die antwoord te weet! As twee vennote in een onderneming saamwerk om ‘n gemeenskaplike doelwit te bereik, die een werk hier plaaslik en die ander werk oorsee, watter deel van die inkomste behoort elkeen te kry?

Die plaaslike gemeente en sending is gelyke vennote met ‘n gemeenskaplike doelwit — terwyl die een die Kerk plaaslik bestuur, neem die ander die Kerk na die uiteindes van die aarde. Watter deel van die inkomste moet aan elkeen toebedeel word?

Ongelukkig kom die kerk by ander antwoorde uit! In die VSA word 1,8% van Christene se inkomste vir Christelike doeleindes geskenk — kom ons noem dit kerklike inkomste. Van hierdie 1,8% kerklike inkomste word 5,7% op sending bestee. Van hierdie 5,7% sendingbesteding word 87% bestee op sendingvelde wat reeds bereik is met die Evangelie, terwyl slegs 1% bestee word op die onbereikte wêreld. Bron: The Traveling Team - Mission Stats. Daar is geen rede om te glo dat die prentjie in Suid-Afrika veel anders is nie.

Dominee, Pastoor, Leier — Sal jy Gewillig wees om Geroep te word as Sendeling?

Dink net wat kan gebeur as 50% van ons leraars en pastore in Suid-Afrika uitgestuur kan word na die sendingvelde van die wêreld? Sal jy gewillig wees om deur God geroep te word na ‘n sendingveld? Of sal jy dalk te veel gerief en gemak moet opoffer? Wat as jy nog boonop jou eie finansiële ondersteuning moet werf om te kan gaan? Miskien roep die Here jou om die Evangelie te help stuur via die elektroniese media êrens in die midde-ooste; of miskien roep Hy jou om kerkleiers op te lei êrens in Afrika; of miskien roep Hy jou om Engels te leer aan Moslem studente in Frankryk; of miskien roep Hy jou om die vertaling van die Bybel te fasiliteer in die taal van ‘n onbereikte stam in Asië.

Wanneer julle as gemeente dit volgende keer nodig vind om fondse in te samel vir sending, reël ‘n biduur saam met die kerk- of gemeenteraad en vra, “Here, wat wil U hê moet ons opoffer om ons gemeente in harmonie te bring met U doel vir die wêreld en vir ons as gemeente?”

Miskien wonder jy hoe jou gemeente kan klaarkom met een plaaslike leraar minder? Die elektroniese media is besig om teen so ‘n geweldige tempo te ontwikkel dat dit reeds moontlik is om verskeie gemeentes vanuit een sentrale punt te bedien met die Woord. Inteendeel, daar bestaan reeds gemeentes wat Sondae op  ‘n groot skerm na die leraar luister waar hy vanuit ‘n ander gemeente besig is om die Woord te bedien aan ‘n aantal gemeentes.

Het dit nie miskien tyd geword dat die kerk gespeen word van die gedagte dat die dominee of pastoor alles moet wees en doen nie? Die meerderheid lidmate is so gewoond om bedien te word, maar is ware kerkwees nie ‘n saak van dien nie? Miskien het dit tyd geword dat ons nuut na die plaaslike gemeente sal kyk en hoe ons funksioneer. Daar bestaan by my geen twyfel dat die Here ‘n antwoord het vir elke uitdaging waarmee ons gekonfronteer word nie — as ons net gewillig sal wees om gehoorsaam te wees aan Sy leiding, buite ons hokkies te dink, uit ons gemaksones te beweeg, en God te vertrou!

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.