Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Hoe om die Stem van God te Hoor

deur
Elmer Grobler

Februarie 2017

Die verskil tussen hoor en HOOR

Ek het onlangs ‘n boodskap in my eie gemeente gehoor wat my diep geraak het — behalwe vir die boodskap, het ek die stem van God gehoor! Daar is ‘n groot verskil om ‘n boodskap te hoor en om die stem van God te hoor. Dit is moontlik om na ‘n boodskap te luister of om ‘n geestelike artikel of boek te lees en met alles saam te stem, sonder om die stem van God te hoor.  

Wat is die verskil? Die verskil is dat ‘n mens met elke woord van ‘n boodskap kan saamstem, maar dat dit geen wesenlike of dringende toepassing in, of impak op jou lewe of bediening het nie. Die boodskap raak jou nie DIEP nie en het geen lewensbelangrike verandering in jou lewe tot gevolg nie. Ons lees in Han 2:37 dat Petrus se boodskap sy gehoor diep getref het: “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?” Wanneer ‘n mens die stem van God hoor, lei dit altyd tot geloofsaksie.

Dit is merkwaardig dat baie Christene geloof met passiwiteit verbind. Vir sommige beteken geloof — ek doen niks, God doen alles. Dit klink vreeslik vroom, maar dit is ‘n wanbegrip van geloof. Daarom sit die kerkbanke vol passiewe mense. ’n Lewende geloof lei altyd tot geloofsaksie. Wat maak die verskil? Die Heilige Gees — die bediening van die Heilige Gees maak die verskil! Dit is slegs die Heilige Gees wat ‘n mens kan laat HOOR! Dit is slegs die Heilige Gees wat ‘n mens kan laat uitroep, ‘wat moet ons doen, broeders?’

In die diens waar ek teenwoordig was het ‘n groot las op my hart gedruk en ‘n geweldige hartseer het my oorweldig omdat ek geweet het dat daar mense in die kerk gesit het, waarvan sommige langs my, wat nie die stem van God hoor nie — wat Hom moet HOOR! In my hart het ek gebid, ‘O GOD! Dat hulle wat langs my sit ook U stem mag HOOR!’

Waarom hoor mense nie die stem van God nie?

Mense hoor nie die stem van God nie om slegs EEN rede — die afwesigheid van die werking van die Heilige Gees! Wie se skuld is dit? Dit kan een van twee partye se skuld wees— die spreker of skrywer, of die hoorder of leser — of albei. Wanneer die Heilige Gees beperk of geblokkeer word in, of die bedienaar, of die ontvanger se lewe, sal die Heilige Gees nie werk nie. Beide die bedienaar sowel as die ontvanger moet aan die Bybelse voorwaardes voldoen vir die Heilige Gees om ongehinderd te werk.

Wat is die Bybelse voorwaardes vir die Heilige Gees om ongehinderd te werk? In ‘n neutedop behels dit die volgende. By die bedienaar behels dit ‘n ernstige soeke en wag op God in gebed na die Woord van God vir die ontvanger, terwyl sy boodskap sowel as sy lewe in volle harmonie met die Skrif moet wees; terwyl dit by die ontvanger ‘n opregte openheid en ontvanklikheid vir God se waarheid is, en ‘n gewilligheid om aan Sy Woord gehoorsaam te wees.

Die boodskap

Ek wil egter graag in ‘n neutedop die boodskap wat my so diep getref het in my eie woorde, en soos ek die stem van die Heilige Gees gehoor het, aan jou oordra. Dit is my bede dat dit jou net so diep sal tref, en dat jy die stem van God vir jou lewe in jou omstandighede duidelik sal hoor.

Die Skriflesing het gekom uit Op 2:1-11 — die boodskap van Jesus Christus aan die gemeente van Efese. Die teks van oordenking was vers 4 en 5: “Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat!” (NV)

Dit staan nie in die Bybel dat hierdie gemeente nie die stem van God gehoor het nie, maar uit die geskiedenis kan ons dit aflei. Waar die gemeente van Efese destyds bestaan het in Turkye, is vandag net ruïnes en Turkye is vandag ‘n Islamitiese land. Jesus Christus het inderdaad hierdie gemeente se lamp weggevat. So is daar baie ander voorbeelde in die wêreld. Wat skrikwekkend is van hierdie waarheid is dat die Here op die punt staan om die Kerk in Suid-Afrika se lamp weg te vat as ons ons nie bekeer nie, vir redes wat ek hieronder gaan verduidelik.

Wat is jou lamp?

Wat beteken dit as God ‘n gemeente of individu se kandelaar of lamp wegvat? Jesus sê in Mat 5:14,15: “Julle is die lig vir die wêreld. ... ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.” Jou lamp is nie jou redding nie — dit is jou getuienis. Dit is jou Goddelike lewensdoel. Dit is jou hemelse en Christelike roeping hier op aarde. Dit is waarvoor God jou wil gebruik in hierdie wêreld. Die Here het ‘n spesiale en unieke Koninkryksroeping vir elkeen van Sy kinders en vir elke gemeente — dít is jou en jou gemeente se kandelaar of lamp!

Dit is moontlik dat God jou en jou gemeente se lamp kan wegvat. Dit beteken dat die Here jou en jou gemeente nie meer gebruik vir die doel waarvoor Hy jou geroep het nie. Dit beteken dat God jou uitlos dat jy maar voortgaan om jou eie ding te doen — met die gevolge wat dit ookal mag inhou. Dit beteken dat die Here iemand anders sal vind om die taak waarvoor Hy jou geroep het te vervul. Dit beteken dat God jou systap vir Sy diens. Dit beteken dat jy God se plan en doel vir jou lewe mis. Dit beteken dat jy nie God se roeping vir jou lewe leef nie, en dat Hy jou ook nie meer verder vir Sy doel gebruik nie.

Wat is die primêre en hooftaak waartoe Jesus Christus elkeen van Sy kinders en elke gemeente roep? Dit is om die Evangelie uit te dra na elke volk, stam en taal, om die Bruid van Christus te help versamel uit die nasies, en om Jesus se Groot Opdrag te help voltooi! Ons het hierdie onderwerp reeds breedvoerig in ander artikels behandel. As jy meer hieroor wil lees, volg gerus die skakels aan die onderkant van hierdie artikel.

Die hartseer van hierdie scenario is dat jy dalk die voorwaarde vervul vir jou lamp om weggevat te word sonder dat jy dit besef — omdat jy God se stem nie hoor nie! Net soos die gemeente van Efese, is jy aktief besig met wat jy meen, Koninkrykswerk is. Jy is elke Sondag by die kerk — besig met baie wonderlike dinge en jy doen inderdaad ook baie goeie werk. Die Here se Naam is voortdurend op jou lippe en jy gee vir God al die eer. Jy glo vas jy is besig om God te verheerlik daar waar jy is. Daar is net een probleem — die EEN DING, die primêre taak waarvoor die Here jou geroep het — om die Evangelie uit te dra tot aan die uiteindes van die aarde — verwaarloos jy omdat jy nie die stem van God hoor nie!

Waarom hoor jy nie die stem van God nie?

Jy vervul nie die Bybelse voorwaarde vir die Heilige Gees om in jou lewe te werk nie. Jy het ‘n verdeelde hart! Jy het jou fokus verloor! Die Here sê, jy het Hom nie meer nie so lief soos toe jy tot bekering gekom het nie. Jy het jou eerste liefde verloor. Jy het Hom nie meer so lief soos toe Hy jou aanvanklik geroep het nie. Jy is nie meer getrou aan die opdrag wat Hy vir jou gegee het toe Hy jou oorspronklik geroep het nie. Jy het toegelaat dat baie ander dinge jou eerste liefde en jou toewyding aan God se roeping vir jou lewe, verdeel — jou kinders, jou werk, jou besigheid, jou familie, jou vriende, jou verhouding(s), jou teologie, jou politiek, jou persoonlike doelwitte, jou strewe na eie waarde, jou persoonlike belangstellings, jou gerief, jou plesier, jou wat-ook-al.

Op 2:5: “Dink daaraan hoe ver (jy) al agteruitgegaan het. Bekeer (jou) en doen weer wat (jy) in die begin gedoen het. Anders, as (jy) (jou) nie bekeer nie, kom Ek na (jou) toe en sal Ek (jou) lamp van sy plek af wegvat!” (NV)

Waartoe roep God jou?

1. God roep jou in die eerste plek tot bekering en wedergeboorte! As jy nog nie ‘n getuienis van wedergeboorte het nie, volg hierdie skakel waar ons vir jou stap vir stap sal verduidelik hoe om weergebore te word. Het jy Sy stem gehoor? Wat gaan jy daaromtrent doen?

2. As jy reeds weergebore is, roep God jou tot ‘n nuwe bekering. God roep jou tot algehele oorgawe, heiligmaking en ‘n Geesbeheerde lewe! God roep jou om jou te bekeer van jou verdeelde hart! God roep jou om jou te bekeer van jou geestelike louheid. God roep jou om jou Goddelike fokus te herstel. God roep jou om jou te bekeer van jou halfhartige en selfgerigte godsdiens! God roep jou tot ‘n heelhartige en onvoorwaardelike geloofsoorgawe van elke terrein van jou lewe sodat Hy jou kan gebruik soos en waar Hy wil! Het jy Sy stem gehoor? Wat gaan gaan jy daaromtrent doen? As jy meer hieroor wil lees volg hierdie skakel.

3. God roep jou tot Sy diens! Die Here roep elkeen van Sy kinders tot Sy diens — daar is geen uitsondering nie! As jy sê jy is ‘n kind van God, is jy ‘n geroepene! Die vraag is net, het jy al God se roepstem gehoor? Sommige roep Hy tot voltydse diens, andere tot deeltydse diens — maar Hy roep almal! Hy roep jou om die HELE wêreld met die Evangelie te help bereik. Is jy tot Sy beskikking? Het jy Sy stem gehoor? Wat gaan jy daaromtrent doen?

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.