Wanneer sal die Hele Wêreld met die Evangelie bereik word?
deur
Elmer Grobler
Opgedateer: September 2025
Wanneer mens hoor dat daar nog ongeveer 3 biljoen mense in die wêreld is wat geen, of weinig toegang tot die Evangelie het, lyk dit of die taak nog baie ver van afgehandel is. Hierdie is die een kant van die verhaal, maar ek wil vir jou die anderkant van die verhaal vertel. Voor ons egter verder gaan wil ek eers die vraag beantwoord:
Wat bedoel ons wanneer ons sê dat die hele wêreld met die Evangelie bereik moet word?
Dit beteken nie dat elke mens gered moet of sal word nie. Dit beteken selfs ook nie dat elke mens op aarde die Evangelie moet of sal hoor nie. Dit beteken ook nie dat elke mens binne bereik van 'n kerk of 'n Bybel sal wees nie. Dit beteken eenvoudig dat niemand eendag 'n verskoning voor die oordeelstroon van God sal hê dat hy of sy nie geweet het, of kon geweet het as hy of sy wou nie -- en net God weet wanneer hierdie punt bereik sal word. Met ander woorde, dit beteken dat elke mens op aarde op een of ander wyse toegang tot die Evangelie kan bekom in 'n verstaanbare formaat, taal of plek, as hy of sy wil. Ons lees in Rom 1:20: "Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; ..." Die Here sal Homself bonatuurlik aan elke mens op aarde openbaar wat in opregtheid na Hom soek! Nou kan ons die vraag beantwoord:
Wanneer sal die hele wêreld met die Evangelie bereik word?
Weet jy dat God besig is met ’n wonderwerk onder die oë van die Kerk terwyl meeste Christene totaal onbewus is daarvan! Vir die eerste keer in die geskiedenis van die wêreld is dit nou moontlik om elke volk, stam en taal met die Evangelie te bereik met behulp van die moderne tegnologie — gedurende ons leeftyd! Ons leef in die tyd van die tegnologiese revolusie! Die digitale tegnologie is besig om teen so ‘n geweldige spoed te ontwikkel dat dit moeilik is vir Mnr en Mev Gemiddeld om by te hou.
1. Elke mens op aarde sal binnekort digitaal verbind wees.

Daar is natuurlik ‘n negatiewe kant van die tegnologiese revolusie waarvan ons bewus is, naamlik ‘n beweging na ‘n “big-brother”, super-beheerde, skyfie-kommersiële, hoë-tegnologiese en kunsmatige intelligensie samelewing wat uiteindelik deur die antichris beheer sal word — en wat ook ‘n teken van die eindtyd is waarin ons leef. Daar is egter ‘n positiewe kant van die tegnologiese revolusie, en dit is die feit dat elke mens op aarde binnekort digitaal verbind sal wees — en daarom toegang tot die Evangelie van Jesus Christus sal hê. Hierdie is die volgende groot ding wat in die wêreld besig is om te gebeur!
God is besig om ‘n wonderwerk te bewerkstellig! Die Here is besig om ‘n pad vir die Evangelie te baan na elke volk, stam en taal in die wêreld soos nog nooit voorheen in die geskiedenis van die wêreld nie!
2. Nuwe Bybelvertalings word toegevoeg teen ‘n fenominale tempo.
'n Belangrike indikasie van die stand van wêreldsending is die stand van Bybelvertaling. Die verspreiding van die Evangelie na elke volk, stam en taal is onderworpe aan die beskikbaarheid van die Bybel, of minstens die Evangelie in 'n verstaanbare taal vir elke mens in die wêreld.
Daar bestaan 'n totale behoefte aan 'n Bybelvertaling in 4,893 tale in die wêreld. Gedeeltes van die Bybel is reeds vertaal in 4,007 tale, wat 99% van die wêreldbevolking verteenwoordig. Hierdie vertalings is in druk, sowel as op elke moontlike mobiele instrument beskikbaar. Wycliff Bybelvertalers berig soos volg: "As of 1 August, 2025, just 544 of the world’s 7,396 living languages remain on the waiting list for Bible translation to begin. A year ago, the number was 985 languages. In 2020, it was more than 2,000. In 1999, it was more than 5,000."
YouVersion het as volg berig op 20 Oktober 2015: “Together with our partners from several visionary Bible translators and providers, YouVersion is working to get the Bible to every person on Earth, no matter where they live or what language they prefer. And now, for the first time in the history of the world, together, we have the tools to see this dream become a reality…within this generation. … In the past six months alone, … we’ve been privileged to add 102 new Bible versions to the Bible App, in 86 new languages. ... With these latest additions, that means the Bible App now features 1,200 versions in 868 languages. For free. To anyone in the world who wants them.”
Ten tye van hierdie skrywe (Sept 2025) was daar reeds 2,342 tale beskikbaar op YouVersion Bible App, teenoor 1,367 in 2019. Dit is ‘n toename van 71% binne 6 jaar.
3. Die Bybel en die Evangelie is nou vryelik beskikbaar regoor die wêreld deur digitale tegnologie.

Ons het reeds vir u die statistieke gegee van die nuwe vertalings wat toegevoeg word op die YouVersion Bible App. Ons hoef dus nie meer Bybels in te smokkel na lande wat geslote is vir die Evangelie nie. Die Bybel is beskikbaar op hulle selfone!
Selfoontegnologie is besig om teen ‘n skrikwekkende tempo te ontwikkel en dit word gedryf deur groot internet maatskappye soos ons reeds hierbo gemeld het. Meer mense in die wêreld het reeds toegang tot ‘n selfoon as wat toegang tot ‘n toilet het. Volgens 2019 statistieke besit 67% Van die wêreldbevolking 'n selfoon, terwyl 'n veel groter persentasie toegang tot ‘n selfoon het. In sekere arm gemeenskappe is daar dalk slegs een selfoon per huisgesin, maar die hele gesin het toegang daartoe.
Selfoontegnologie is ook besig om dit vir plaaslike en inheemse sendelinge moontlik te maak om mense met behulp van digitale media te bereik. In plaas van met ‘n Bybel onder die arm, stap ‘n sendeling nou met ‘n slimfoon in sy sak.
4. Die probleem van ongeletterdheid word oorbrug met digitale tegnologie.
Oudio en visuele tegnologie word gebruik om die probleem van ongeletterdheid te oorbrug. Oudio-Bybels is reeds beskikbaar op YouVersion in baie tale terwyl meer tale voortdurend toegevoeg word.
Gedeeltes van die Bybel is ook beskikbaar in visuele formaat in al die groot wêreldtale. Die Jesus-film is reeds in meer as 2,210 tale vertaal en kan verstaan word deur meer as 95% van die wêreld se bevolking — en is beskikbaar op ‘n selfoon! "Mission 865TM aims to translate the JESUS film into every heart language with 50,000 or more speakers, representing 99% of the world."
5. Baie sendingorganisasies het reeds op die tegnologiebus geklim met groot sukses.
Die internet en digitale media soos Facebook, YouTube, en 'n groot verskeidenheid van nuwe toepassings word toenemend deur sendingorganisasies en kerke gebruik om die Evangelie die hele wêreld in te stuur.
‘n Nuwe bewustheid en beweging regoor die wêreld is besig om die klem te plaas op die voltooiïng van die Groot Opdrag en die bereiking van die onbereiktes met die Evangelie. Voorbeelde hiervan is Vision 2033, illumiNations, Faith Comes By Hearing, Alliance For The Unreached, ||| A Third Of Us.
Ons het nie spasie om van al die radio-, oudio-, video-, en televisiebedieninge en projekte te vertel wat mense regoor die wêreld met die Evangelie bereik wat nooit vroeër bereik kon word nie!
6. Die Here is besig om Homself aan onbereikte groepe te openbaar op bonatuurlike wyses.
Wanneer sal die Onbereikte Wêreld met die Evangelie bereik word? As ons hierdie antwoord weet, weet ons wanneer om Jesus Christus se wederkoms te verwag. Jesus Christus kom om Sy kinders en Sy Bruid te haal -- en die Bybel leer vir ons dat Sy kinders en Bruid verteenwoordig sal word deur elke nasie, volk, stam en taal. (Op 5:9 en 7:9.)
Dit wil voorkom of hierdie laaste groep onbereikte mense die moeilikste is om te bereik met die Evangelie. Die deure vir die Evangelie is reeds besig is om stadig maar seker toe te gaan oor die sosiale media, ter voorbereiding vir die verskyning van die Antichris. Alhoewel God nie die Kerk se opdrag namens haar sal uitvoer nie, weet ons ook dat die Here Homself aan groot getalle Moslems en mense van ander godsdienste regoor die wêreld openbaar op buitengewone maniere. Daar is talle berigte van Moslems en andere regoor die wêreld wat getuig dat hulle deur drome en op bonatuurlike wyses 'n ontmoeting met Jesus Christus gehad het. Ons lees in Op 14:6: "En ek het ‘n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met ‘n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke."
Die vlugtelingkrisis is nog so 'n voorbeeld. Miljoene vlugtelinge regoor die wêreld verkry toegang tot die Evangelie in die lande waarheen hulle vlug. Dit is my beskeie mening dat die Here 'n bonatuurlike pad vir die Evangelie sal maak na elke nasie, volk, stam en taal reg voor Sy wederkoms. Die wederkoms van Jesus Christus is inderdaad vlak voor die deur!
Die vraag is, is jy betrokke by Jesus Christus se Groot Opdrag? Jy is 'n geroepene! Volg hierdie skakel om te lees hoe jy betrokke kan raak.