Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

'n Ander Jesus - 'n Ander Evangelie

deur
Elmer Grobler

Die Woord van God waarsku ons teen misleiding

In 2 Kor 11:3,4 waarsku die apostel Paulus die gemeente van Korinte: "Maar ek is bang dat julle gedagtes weggelei sal word van die onverdeelde en suiwere toewyding aan Christus, net soos Eva verlei is deur die listigheid van die slang. Ek sê dit omdat julle so maklik daarmee genoeë neem as iemand 'n ander Jesus kom verkondig as wat ons verkondig het, en julle neem net so maklik 'n ander gees en 'n ander evangelie aan as dié wat julle van ons ontvang het." (NV)

Regdeur die Nuwe Testament waarsku die Woord van God ons dat ons moet oppas vir misleiding. Regdeur die eue was daar misleiding en het daar valse kerke en bewegings tot stand gekom, maar gewoonlik was hulle maklik identifiseerbaar. Die Bybel waarsku ons egter dat in die laaste dae voor die wederkoms van Jesus Christus daar ‘n groot afvalligheid in die Kerk van Jesus sal plaasvind. Hierdie profesié is besig om voor ons oë in vervulling te gaan en Christene van alle denominasies word deur hierdie stroom van misleiding meegesleur.

Die groot gevaar van die misleiding van ons tyd is dat dit uiters subtiel is en plaasvind binne die raamwerk van erkende prostestantse en evangeliese kerke. Met die gevolg dat baie wel-menende Christene nie eers besef dat hulle mislei is nie. Kom ons gaan kyk na ‘n paar verse uit die woord wat ons spesifiek waarsku teen misleiding.

In Mat 24:24 sê Jesus: “Daar sal vals christusse en vals profete na vore kom, en hulle sal groot tekens en wonderwerke doen om, as dit moontlik was, selfs die uitverkorenes te mislei.” (NV)

Kol 2:8: “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie (teorieë en argumente wat misleidend is nie — NV), volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” (OV)

2 Tes 2:9,10: “Deur die werking van die Satan sal die verskyning van die wettelose gepaard gaan met groot magsvertoon en allerhande vals tekens en wonders en met gruwelike misleiding van dié wat verlore gaan, omdat hulle nie die waarheid liefgehad en tot hulle redding aanvaar het nie.” (NV)

1 Tim 4:1: “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.” (NV)

2 Tim 3:1-5: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, … (OV) Hulle sal eerder liefde vir genot hê as liefde vir God. Hulle sal nog die uiterlike skyn van die godsdiens hê, maar die krag van die godsdiens sal hulle nie ken nie.” (NV)

Die karakter van misleiding

Die ding wat ons moet verstaan omtrent misleiding is dat dit subtiel is — dit is nie ooglopend nie. Dit is nie sommer maklik op die oppervlakte waarneembaar nie. Dit kom dikwels eers na verloop van tyd aan die lig. Wanneer iemand jou openlik mislei is dit nie meer misleiding nie — dan is dit verleiding. Die karakter van verleiding is duidelik vanuit die staanspoor. Verleiding is nie so ‘n groot gevaar vir die kind van die Here soos misleiding nie, want ‘n kind van die Here kan verleiding onmiddellik identifiseer vir wat dit is — maar misleiding word gewoonlik eers geopenbaar met verloop van tyd, somtyds ’n geruime tyd.

Die fokus van misleiding

Misleiding fokus altyd op ‘n verkeerde begrip of wanvoorstelling van God — Sy karakter, wie, wat en hoe Hy is — en daarmee saam die inhoud, betekenis en gevolge van Jesus Christus se kruisdood en opstanding. Daarom moet ‘n Christen sy Bybel ken! Daarom moet ‘n Christen die Bybel stelselmatig deurwerk van voor tot agter en nie slegs die mooi gedeeltes van die Bybel lees nie.

Baie Christene lees die Bybel soos hulle vis eet — hulle eet die vleis maar spoeg die grate uit. Denys Arcand, wat die film “Jesus of Montreal” vervaardig het, het homself so uitgelaat: “The Bible is such an old and mysterious book --- it’s so full of contradiction that you can use it anyway you want. It’s been used by people to justify almost anything. Those words are so enigmatic that any mind can take them and twist them into whatever meaning it wants.” Iemand het egter eendag tereg opgemerk: Die waarheid lê nie opgesluit in, “Daar staan geskrywe ...” nie, maar in, “Daar staan OOK geskrywe ...” (Jesus aan die duiwel in Mat 4:7) Lees gerus ook die artikel, ‘Is die Bybel nog relevant vir ons moderne wêreld?’

Die ander Jesus

Vriende, dit is ongelukkig waar dat baie wel-menende Christene in ons tyd ‘n ander Jesus aanbid as Jesus Christus van die Bybel! Kan dit wees dat twee Christene in dieselfde evangeliese kerk of gemeente twee verskillende Jesusse aanbid? Hoe is dit moontlik?

Die Jesus wat jy aanbid kan een van die volgende twee wees — dit is of Jesus Christus van die Bybel, of dit is ‘n Jesus wat jy vir jouself visualiseer in jou gedagtes op grond van wat jy weet van Hom, of van Hom wil weet. Laasgenoemde is gewoonlik eerder waar!

Soos ons gesien het in die Bybelverse wat ons hierbo aangehaal het, is die Satan aktief besig om Christene te probeer mislei deur ‘n wanvoorstelling van Jesus Christus. Moenie dink dat omdat jy ‘n weergebore Christen is, jy is immuun teen sataniese misleiding nie! As jy dit glo, is dit insigself ’n misleiding van die Satan! Die Satan sal alles in sy vermoë doen om kinders van die Here se oë en ore toe te hou vir die waarheid van die Woord. Vier van die vyf waarskuwings uit die verse hierbo is aan die adres van weergebore Christene gerig!

Hoe lyk die ander Jesus?

Die ander Jesus se primêre eienskap is liefde. (Dit klink nogal baie reg en Bybels, nie waar nie.) Die feit dat hy ook heilig is, is egter van minder belang. Sy heiligheid word eintlik verskans deur sy liefde. Sy liefde het sy heiligheid oorwin aan die kruis, daarom is sy heiligheid eintlik nie meer relevant nie. Die sondeval en sy gevolge word heeltemal geïgnoreer of misverstaan. Wanneer ek weergebore word, word ek gebore in die liefde van Jesus. Sy liefde breek deur in my lewe — die feit dat ek ‘n sondaar is, is eintlik maar akademies.
Hierdie Jesus se liefde is mensgerig — dit is humanistiese liefde. Joh 3:16 sê mos, want so lief het God die wêreld gehad. Dit beteken dat hy die mens lief het in sy sonde en ten spyte van sy sonde, want Jesus het mos vir die sonde van die wêreld gesterf. Daarom kan enige iemand na Jesus toe kom net soos jy is. Sonde is nou nie meer ‘n saak van primêre belang nie, want Jesus vergewe my sonde van die verlede, die hede sowel as die toekoms. As ek sy kind is, is die sonde-kwessie nou afgehandel. Ek moet dus voluit (vir myself) lewe terwyl ek lief is vir almal en niemand liefdeloos behandel nie. Jesus is nou aan my kant. Jesus is nou in my diens.
Hierdie Jesus soek my beste belang en wil my seën. Dit is sy wil dat dit met my goed sal gaan, dat ek suksesvol en gelukkig sal wees in wat ek doen, dat ek gesond en voorspoedig sal wees en dat ek op hierdie manier ook andere kan ophelp en na hierdie wonderlike Jesus toe lei. Die eerste en groot gebod is ek moet my naaste lief hê soos myself. Daarom moet ek eerstens myself liefhê en ‘n ‘gesonde’ selfbeeld hê. Andere moet die ‘liefde’ van Jesus in my lewe sien en ervaar (sonder om van sonde oortuig te word — dit is veroordelend).
Hierdie Jesus dink net positief. Hy praat net positief. Hierdie Jesus is nie ‘wetties’ nie en hy praat met my slegs deur die mooi en positiewe gedeeltes van die Bybel. Ek lees net boeke wat my bemoedig en goed laat voel. Hy spreek net lewe deur my — nie ‘dood’ nie. Hy lig alle mense op met positiewe verklarings. Ek praat goed van alle mense (behalwe van dié wat my kwaad maak), selfs in hulle sonde — behalwe as iemand my konfronteer met die waarheid van die Woord — daardie persoon is wetties en veroordelend en word met alle mag weerstaan. Dit is eintlik hierdie ‘wettiese’, ‘veroordelende’ en ‘doodspraak’ mense wat tot bekering moet kom.
Hierdie Jesus ‘openbaar’ homself ook in ‘liefde’ aan sy kinders. Hulle leef in ’n ’verhouding’ met hom, hulle ’praat’ met hom en hy met hulle. Hulle ervaar hom as werklik in hulle lewens. Wie is hierdie Jesus? “Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstellings van bose geeste aanhang.” 1 Tim 4:1. (NV)

Hoe lyk die Jesus van die Bybel?

Die Jesus van die Bybel is in die eerste plek heilig — daarom is Sy liefde so oneindig groot! Sy liefde word juis in Sy heiligheid geopenbaar! Jesus Christus van die Bybel het gekom om die gevolge van die sondeval in die hart van die mens te herstel. Die kenmerk van egte wedergeboorte is sonde-oortuiging. Daarom moet elke mens wat bely dat hy of sy weergebore is, die vraag opreg antwoord — het ek onder ware sonde-oortuiging gekom en is ek van my sonde verlos?
Die liefde van die Jesus van die Bybel is Godgerig — dit is Goddelike (agape) liefde! Die eerste en belangrikste simptoom van iemand wat hierdie liefde het is dat jy die Here jou God liefhet met jou hele hart en jou naaste soos jouself (nadat jy van jou sonde verlos is en jou sondige selfbeeld en eie belang by die kruis afgelê het!) Jou begrip van liefde het heeltemal verander want dit kom nie meer uit jouself nie — jou liefde vir mense en jou geliefdes is die uitvloeisel van jou liefde vir God.
Die Jesus van die Bybel soek God se beste belang vir my lewe. My lewe is Godgerig — nie mensgerig nie! My eie voorspoed en geluk is nie meer van primêre belang nie, maar wel of ek in die middelpunt van God se wil en plan vir my lewe staan. Ek het ‘n visie vir ‘n verlore wêreld gekry en ek word gedryf deur ‘n las vir ander mense wat soos ek voorheen was, verlore is. Ek het ‘n begeerte om vir Hom te werk en as ek gerief en plesier moet opgee om aan Hom en Sy roepstem gehoorsaam te wees doen ek dit met blydskap want my vreugde en vervulling kom nie meer van aardse dinge nie, maar van die inwonende Heilige Gees wat my lewe vul met die krag waarvan Han 1:8 praat.
Die Jesus van die Bybel praat nie positief nie — Hy spreek in en deur geloof — en somtyds is dit negatief as dit bedoel is om iemand wat op ’n verkeerde pad is te waarsku! Daarom het Jesus die tafels van die handelaars in die tempel in Luk 19:45 omgekeer en hulle met ‘n sweep uitgejaag. Daarom het Jesus die Fariseërs slange, kinders van die duiwel en addergeslag genoem. Positiewe denke en verklaring is die duiwel se namaaksel vir geloof. Dit is waarom mense nie meer tot hartgrondige bekering kom nie, want ons is te bang om ‘dood’ te spreek. Dit is ‘n misleiding van die Satan! Nêrens in die Bybel lees ek dat ons moet ‘lewe’ spreek nie! Inteendeel, ek lees in Joh 14:6 dat Jesus gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” En in Joh 6:63: “Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek (Jesus Christus) tot julle spreek, is gees en is lewe.”  Dit het Jesus gesê nadat Hy die volgende uiters negatiewe uitspraak gemaak het: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie.” Joh 6:53. (NV) Dit is geloofspraak — nie doodspraak nie! Ons moet die waarheid in liefde spreek — dit is ons opdrag!
Die Jesus van die Bybel vra jou hele hele hart en lewe! Die Jesus van die Bybel sus jou nie aan die slaap in jou sonde nie. Die Jesus van die Bybel stap ‘n pad met jou wat beproewing insluit — sodat jy Hom dieper kan leer ken. Heb 12:3-8 sê: “Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie. ... Julle het ook vergeet van die aanmoediging wat tot julle as kinders van God gerig word: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. ... As julle nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders nie.” (NV)

God gee sommige oor aan misleiding

Daar is ‘n beginsel in die Bybel wat min Christene verstaan. Dwarsdeur die Ou Testament lees ons dat God Sy volk oorgegee het aan hulle vyande wanneer hulle in ongehoorsaamheid volhard. In Nuwe Testamentiese verband beteken dit onder andere, dat God mense oorgee aan misleiding en die gevolge daarvan wanneer hulle volhard in ongehoorsaamheid. In 2 Tes 2:9-12 lees ons: “... hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (OV. Beklemtoning my eie.) Vers 11 in die nuwe vertaling lees so: “Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling oorgee, sodat hulle die leuen sal glo.” In hierdie verse sien ons dat God mense oorgee aan dwaling. Ons lees van hierdie selfde beginsel ook elders in die Bybel, onder andere in Rom 1:22-25.

Wanneer ek met iemand gepraat en iemand gewaarsku het oor ‘n saak, en daardie persoon volhard om my raad en leiding te verwerp, dan kom ek op ‘n punt waar ek stil word. Ek praat nie meer daaroor nie — ek gee daardie persoon (met hartseer) oor aan sy of haar eie misleiding. Dit is presies hoe God optree teenoor elkeen wat die waarheid en die gesag van die Woord weerstaan. Hy gee jou oor aan jou eie misleiding sodat jy aanhou glo wat jy wil glo — met die tragiese gevolge wat dit vir jou op die langtermyn mag inhou!

Hoe om verlos te word van misleiding

In die eerste plek moet jy by ‘n plek kom waar jy jouself as ‘n sondaar sien — nie slegs akademies nie! Misleiding is die gevolg van sonde! Jy moet tot die besef kom dat jou natuurlike lewe vir God verwerplik is omdat jou natuurlike gedagtes, emosies en begeertes met sonde besmet is. Jou denke, jou gevoelens, jou menslike oordeel, begeertes en drome is met sonde bevlek omdat jy gebore is met ’n gevalle, sondige natuur — en dit geld vir die beste en wonderlikste mens op aarde! Jy hoef nie ‘n moordenaar, egbreker of leuenaar te wees om te kwalifiseer vir ‘n sondaar nie! In God se oë is elke mens uit die nageslag van Adam en Eva besmet met die sonde-virus! Jou wonderlikste en beste dade, en jou wonderlikste liefde wat jy vir jou vriende en familie het, is vir God verwerplik omdat dit kom vanuit ’n selfgerigte, sondige natuur.

In die tweede plek moet jy ’n begeerte hê om van sonde en jou sondige natuur verlos te word! As jy nie so ’n begeerte het nie, het God jou moontlik oorgegee aan misleiding — dan moet jy die Jesus van die Bybel begin soek! Verskoon die ‘doodspraak’- maar dit kom uit ‘n hart van liefde. Om verlos te word van misleiding verwys ek jou na my artikel, ‘Jou Passie vir God en Sy Wêreld’.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.