Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Passie van God vir die Wêreld

deur
Elmer Grobler

Ek wil graag ‘n paar gedagtes met jou deel oor die bekendste vers in die Bybel, Joh 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”  (OV) Wat ‘n kragtige en passievolle stelling! Hierdie is die kragtigste en passievolste stelling wat die wêreld nog ooit gehoor het!

Jy ken hierdie vers uit jou kop. Dit is immers die mees aangehaalde vers in die Bybel. As hierdie vers nie vir jou bekend is nie, is jy deel van die Onbereikte Wêreld. Kom ons gaan kyk egter bietjie na Joh 3:16 van naderby. Somtyds neem ‘n mens ‘n bekende waarheid so vanselfsprekend dat jy nie die dieper betekenis en die groter prentjie raaksien nie.

God het so lief ...

Die passie van God word vir ons beskryf in Joh 3:16. Joh 3:16 vertel vir ons hoe lief God die wêreld het — God het die wêreld so lief gehad ... Wat is passie? Passie is liefde in die oortreffende trap — passie is om verskriklik lief te wees vir iets of iemand. Daar word na Jesus se kruisdood verwys as, “The Passion of Christ” in die film met hierdie naam.

Joh 3:16 beskryf vir ons waarvoor God die liefste is. Joh 3:16 beskryf vir ons hoe lief God die wêreld het — so lief dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het om aan ‘n vloekhout te sterf vir die objek van Sy passie.

Jy weet dit was vir jou ...

Die verhaal van Jesus se kruisdood ken jy goed — behalwe as jy deel van die Onbereikte Wêreld is. Jy sien die prentjie van die Kruis voor jou geestesoog. Dalk hang daar ‘n kruis om jou nek. Jy weet ook dit was vir jou en my wat Hy so lief gehad het. Ek vertrou dat jy ook weet van ‘n dag in jou lewe toe jy doelbewustelik hierdie waarheid vir jouself toegeëien het in geloof, in gebed. Daarom kan jy getuig dat jy uit genade gered is, jy is Sy kind, weergebore deur die Heilige Gees, gereinig deur die Bloed van die Lam.

Miskien dink jy, jy weet — of miskien weet jy nie seker nie ...

Dit is egter moontlik dat iemand wat hierdie artikel lees nog nie hierdie getuienis in jou hart het nie. Miskien is jy nog nie absoluut seker of jy weergebore is nie. Miskien is jy ‘n goeie mens. Miskien is jy ‘n kerkmens, jy is dalk lidmaat van ‘n gemeente, miskien is jy selfs op die kerkraad — maar jy besef daar is iets wat sommige Christene het wat jy nie het nie. Dan wil ek graag vir jou stap vir stap verduidelik hoe jy sekerheid van jou redding kan verkry — hoe jy weergebore kan word. Volg asseblief hierdie skakel.

Moenie uitstel nie! Want so lief het God vir jou gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat jy wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. Miskien sê jy, maar ek glo reeds — ek is ‘n gelowige. Die Bybel sê in Jak 2:19 dat die duiwels glo ook, en hulle sidder. Ek wil graag vir jou verduidelik wat die verskil is tussen intellektuele geloof en reddende geloof. Dit is die passie van God dat jy weergebore sal word!  Dit is die passie van God dat jy sekerheid van die ewige lewe sal hê!

Die gevaar is onsettend groot dat jy na vandag nooit weer ‘n geleentheid mag kry nie! Nie alleen omdat jy moontlik kan sterf nie — maar omdat elke keer wanneer jy die stem van die Heilige Gees hoor sonder om daarop te reageer in geloof, jou gewete afgestomp word sodat jy Hom al minder en minder hoor — totdat jy Hom later gladnie meer hoor nie! Die wêreld daar buite — en tragies genoeg, ook sommige kerke — is vol mense, waarvan baie bely dat hulle Christene is — wat nie meer die stem van die Heilige Gees hoor nie! Ek pleit by jou — moenie een van hulle wees nie! God het ‘n ewigheidsafspraak met jou vandag! Daarom leer die Woord vir ons in Heb 3:15: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie ...” (OV) Want so intens was die passie van God vir jou, dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sodat jy nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag hê, as jy gewillig is om ’n stap van geloof in Hom te neem.  Volg asseblief nou hierdie skakel!

As jy verseker weet ...

As jy verseker weet dat jy weergebore is en die passie van God vir die wêreld verstaan, is daar ‘n ander belangrike waarheid met betrekking tot Joh 3:16 wat ek graag met jou wil deel, naamlik, die wêreld van God se passie. Wie of wat is die wêreld van God se passie? Ek is seker daarvan dat elke Christen dadelik vir my sal sê dit is elke mens op aarde — en dit is reg. Maar weet jy wat? Daar sterf elke dag ongeveer 66,000 mense sonder dat hulle ooit een keer van Jesus Christus en Joh 3:16 gehoor het!

Roer dit jou hart? Nie? Indien nie, is daar ‘n ander baie belangrike ding wat ek vir jou moet sê. As jy sê jy is weergebore, is die moontlikheid verskriklik groot dat jy op ‘n valse fondament bou of in ‘n teruggevalle toestand verkeer! Want wanneer ‘n mens weergebore is, woon die Heilige Gees in jou hart, en die Heilige Gees is die Gees van Jesus Christus waarvan Joh 3:16 praat, en die passie van God in Joh 3:16 vir ‘n verlore wêreld leef in elke weergebore kind van God se hart! Dit is nie moontlik om weergebore te wees sonder ‘n passie vir ‘n verlore wêreld nie! Daarom skryf die apostel Paulus in 2 Kor 13:5: “Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.”(NV)

Die Wêreld van God se Passsie

Miskien brand die vlam van God se passie vir die wêreld — vir die wêreld van God se passie — in jou hart, maar jy weet nie regtig hoe jy ‘n verskil kan maak nie. Volg die skakel hieronder vir meer besonderhede.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.