Operasie Een Ding

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Twee Struikelblokke Tot Versoening In 'n Christenhuwelik

deur
Elmer Grobler

Twee foute wat mede-Christene maak wat versoening in 'n verbrokkelde Christenhuwelik ondermyn.

1. Die vingerwys-sindroom.

Die vingerwys-sindroom behels die toedeling van skuld in 'n verbrokkelde Christenhuwelik. Dit is verbasend om te sien hoe vinnig Christene - wat beter behoort te weet - die oorsaak soek vir 'n egskeiding by die optrede van een of beide huweliksmaats tydens die huwelik. (Ek praat nie hier van egbreuk nie.) Hy of sy was so en so, of het dit en dat gedoen of nie gedoen nie -- asof dit 'n aanvaarbare rede is vir 'n egskeiding. Somtyds is hierdie sindroom so subtiel dat sommige nie eers besef waarmee hulle besig is nie.

Om iemand in die beskuldigingsbank te plaas wanneer 'n huwelik verbokkel, is deel van die natuurlike en ongeredde mens se denkwyse. Dit kom natuurlik en dit maak sin vir die natuurlike intellek om so te reageer. Iemand is skuldig! Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar! Die ergste vorm hiervan is wanneer mense buite die huwelik 'n oordeel vel op grond van hoorsê, tweedehandse, of eensydige getuienis. As ons 'n bydrae wil lewer om 'n huwelik te red, moet ons wegkom van die vingerwys- en wie-se-skuld-is-dit-sindroom en fokus op versoening. Daar is gewoonlik baie meer feite ter sprake as wat enige iemand buite die huwelik van weet of verstaan.

2. Beskerming van 'n uitstapmaat

Die ander fout wat Christene dikwels maak met betrekking tot 'n verbrokkelde huwelik, is voortydige vergifnis. Daar is twee sondes waaraan 'n huweliksmaat skuldig kan wees waarvan bekering noodsaaklik is voor die proses van versoening kan begin -- en om 'n huweliksmaat in enige van hierdie situasies te ondersteun of te pamperlang, is om deel van die huweliksprobleem te wees.

Hierdie twee sondes is:

  1. Egbreuk (Ontrouheid in die huwelik.) 
  2. ‍Ekskeiding met uitsluiting van 'n versoeningsopsie. (Die opbreek van 'n huweliksverhouding deur onwilligheid om te versoen, verlating van die huwelik en instel van 'n egskeidingsaksie wanneer die ander huweliksmaat in opregtheid wil versoen.)

Ons dink gewoonlik slegs aan die eerste as 'n groot sonde, maar die tweede is daaraan geslykstaande. 'n Huweliksmaat wat uitstap op sy of haar eggenoot terwyl hy of sy wil versoen, pleeg dieselfde sonde as egbreuk! Die naam van die sonde is onvergewensgesindheid en die Here Jesus het die volgende omtrent hierdie sonde gesê: "Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." Mat 6:14,15. Dit beteken dat wanneer mede-Christene iemand wat weier om met sy of haar huweliksmaat te versoen, beskerm, ondersteun of vergifnis oor so iemand uitspreek, aandadig is aan daardie persoon se sonde van egskeiding!

Ek was lank gelede betrokke by 'n geval waar 'n Christenbroer wat 'n buite-egtelike verhouding met 'n ander vrou gehad het, van sy vrou geskei het en met die ander vrou getrou het, met die gedagte dat daar vergifnis is vir elke sonde - ook hierdie sonde - en dat hy en sy nuwe vrou maar net weer kon voortgaan om die Here te dien soos gewoonlik. Hulle het my probeer oorreed om hulle te aanvaar in Jesus Christus soos vroeër, maar ek kon dit nie doen sonder om my eie geloof in Jesus Christus te kompromiteer nie. Hierdie paartjie het staatgemaak op toekomstige vergifnis, want Jesus vergewe mos my sonde van die verlede, hede en die toekoms! Hierdie is egter 'n ernstige misbruik van die genade van God en as hierdie paartjie nie kragdadig onder sonde-oortuiging en bekering op 'n later stadium gekom het nie, wag daar dalk 'n skok vir hulle voor die regterstoel van God eendag. Die genade van God is verniet -- maar nie goedkoop nie!

Ons is somtyds meer bekommerd oor iemand se gevoel as wat ons gewillig is om die sonde aan te spreek. 'n Tendens wat baie populêr onder sommige Christene is, is die liefdevolle toekrap van sonde -- want die liefde bedek mos alles (1 Kor 13:7)! Maar die Bybelse begrip van liefde vee nooit sonde onder die mat in nie, en 1 Korintiërs hoofstuk 13 doen dit ook nie. Ons aanvaar dikwels die sondaar in liefde sonder om hom of haar sonde aan te spreek. Om iemand op sy of haar sonde te wys, beskou sommige Christene, wat veronderstel is om beter te weet, as liefdeloosheid. Wat is meer liefdevol -- om iemand in sy of haar egskeiding en onvergewensgesindheid te ondersteun en so deel te wees van die opbreek van die huwelik -- of om 'n huweliksmaat op sy of haar sonde te wys en te ondersteun op die pad van versoening?

Onaanpasbaarheid in die Christenhuwelik

Maar wat as twee kinders van die Here in 'n huwelik onaanpasbaar is? Wat as daar voortdurende konflik in die huwelik is? Is dit nie beter as die twee maar liewer skei nie? Het God ons nie tot vrede geroep nie? Maak die Bybel voorsiening vir onaanpasbaarheid in 'n Christenhuwelik? Nog belangriker, is daar 'n oplossing vir onaanpasbaarheid in die Christenhuwelik? Om hierdie vraag te beantwoord lees asseblief my artikels, Die Hemelse Huwelik en Die Vloek Van Egskeiding.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Stel bekend

Missie Oorwin
Ons nooi jou saam op 'n oorwinningstog na die mins-geëvangeliseerde en onbereikte wêreld om 1 biljoen mense in hierdie wêrelddeel met die Evangelie te bereik. Lees meer van hierdie uitdagende en opwindende projek.

Artikels

| Tuisblad | Joernaal |
| Missie Oorwin |
| Visie 1 Biljoen | Visie 1 Persent |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreekliheid |

© Kopiereg 2016-18 Operasie Een Ding.
Alle regte voorbehou.