Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Wanneer Sal Jesus Christus Weer Kom?

deur
Elmer Grobler

Die einddoel van God se plan vir die wêreld sal vervul word met die wederkoms van Jesus. Daarom moet die wederkoms van Jesus Christus en die ewigheid die Kerk se hoogste doelwit en passie wees.

Die Bybel gee vir ons baie profesieë met betrekking tot Jesus se naderende wederkoms en as ons die wêreldnuus dophou kan ons nie help om tot die gevolgtrekking te kom dat meeste van die Bybelse eindtydprofesieë reeds in vervulling gegaan het, of besig is om in vervulling te gaan nie. Mens kan nie help om te sien hoe die wêreldgeskiedenis besig om in plek te skuif vir die finale vervulling van eindtydse profesieë nie. Baie van dit wat besig is om te gebeur in die wêreld en ons eie land waarvan die nuusmedia vol is, is absoluut in harmonie met die vervulling van Bybelse eindtyd profesieë!

Die geskiedenis van die wêreld, en ook Suid-Afrika, word deur die hand van God geskryf in volmaakte harmonie met God se ewigheidsplan vir die kerk en die wêreld! Die rede waarom baie nie God in die geskiedenis raaksien nie, is omdat hulle nie die geskiedenis in die profetiese Woord van God raaksien nie.

Ek wil kortliks die twee Bybelse profesieë met hulle vervullings uitlig wat spesifiek te make het met die Kerk, en van deurslaggewende belang is vir die Kerk om te verstaan — en waar rondom dit van absolute belang is dat die Kerk van Jesus Christus verenig sal wees!

Die eerste belangrike profesié

Die eerste belangrike profesié is 1 Tim 4:1 en 2 Tim 3:1-5. 1 Tim 4:1 sê: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang.” 2 Tim 3:1-5 sê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”  Hierdie profesieë sê dat in die laaste dae misleiding en liefde vir die teenswoordige, gevalle wêreld wydverspreid onder Christene sal wees.

Ons sien hierdie profesié in vervulling gaan reg rondom ons teen ‘n verstommende pas. Daar is ‘n wêreldwye aanslag teen die Bybel as die Woord van God, soos nog nooit voorheen in die geskiedenis nie! Ons sien hierdie profesié in vervulling gaan ook hier in ons kerke in Suid-Afrika. Ek hoef jou nie hieraan te herinner nie. In Amerika is wetgewing besig om in plek te kom wat enige Christeninstansie, insluitende kweekskole en seminariums, sal verbied om te “diskrimineer” teen enige iemand wat in die LTGB (dit is Lesbian, Transgender, Gay, en Bisexual) kategorie val — al is dit op grond van Bybelse geloofsoortuiging. Ook in Suid-Afrika is soortgelyke wetgewing in die pyplyn.

Baie Christene van ons dag verruil kern Bybelse waarhede vir ‘n maklike, voel-goed en voorspoed evangelie, terwyl massas agter valse profete aanloop. Dit is ‘n tipiese kenmerk van die eindtyd waarvan die Bybel geprofeteer het. Ek kan baie meer voorbeelde gee, maar die genoemde voorbeelde alleen spreek boekdele. Mag God ons bewaar om deur die gees van afvalligheid van ons tyd, meegesleur te word.

Die tweede maar belangrikste eindtydse profesié

Die tweede maar belangrikste eindtydse profesié ten opsigte van die wederkoms van Jesus Christus lees ons in Mar 13:10: “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”  In Mat 24:14 lees dit so: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”

Daar bestaan ‘n onweerlegbare verband tussen die wederkoms van Jesus Christus en die voltooiïng van die Groot Opdrag. Ons kan dus ’n betroubare indikasie kry van wanneer Jesus weer sal terugkom deur na die stand van wêreldevangelisasie te kyk.  Jesus Christus sal nie terugkom voordat Sy Kerk en Bruid voltallig is nie want wanneer Jesus weer kom, kom Hy met die primêre doel om Sy Bruid te kom haal. By implikasie beteken dit dat Jesus nie sal terugkom voordat die Evangelie aan elke volk, stam en taal verkondig is en tot elke mens op aarde se beskikking is nie — want soos ons by herhaling sê, sal die bruid van Christus verteenwoordig word deur elke volk, stam en taal!

Die feit van die saak is egter dat ons nie kan wegkom van die gewaarwording dat Jesus se koms baie naby moet wees nie. Die vraag is, as dit waar is dat ongeveer ‘n derde van die wêreldbevolking nog onbereik is met die Evangelie, hoe kan dit wees dat Jesus se wederkoms baie naby kan wees? Ons beantwoord hierdie vraag in die artikel, ‘Wanneer sal die Onbereikte Wêreld met die Evangelie bereik word?’. In hierdie artkel het ons het bewys hoe dit moontlik is om die Onbereikte Wêreld binne die volgende 10 tot 20 jaar met behulp van die digitale tegnologie met die Evangelie te bereik as die Kerk van Jesus Christus eendragtig en gefokus saam werk vir hierdie doel. Daarom vra Operasie Een Ding elke Christen se betrokkenheid en medewerking by die uitdra van die Evangelie na die Onbereikte Wêreld.

Die vraag wat ons egter wil beantwoord is, hoeveel tyd het ons nog op God se horlosie vir die Kerk?

Waar bevind ons onsself op God se Kerkkalender?

Dit is ongelooflik om te hoor dat sommige Christene glo dat Jesus se wederkoms nog ver in die toekoms is! Vriende, God se genadehorlosie staan op vyf minute voor twaalf! Of is dit dalk 'n minuut voor twaalf? Die dispensasie van genade of die Kerkdispensasie soos dit bekendstaan is byna verstreke. Genadetyd is amper verby!

Ons probeer nie die datum van Jesus se wederkoms voorspel nie. Ons weet ook dat Jesus nie gebore is in die jaar 0 van die Gregoriaanse kalender nie. Alhoewel navorsers verskil oor die presiese jaar van Jesus se kruisigng, weet ons dat dit tussen die jaar 29 NC en 33 NC plaasgevind het. Dit sal dus tussen die jaar 2029 en 2033 presies 2,000 jaar gelede wees dat Jesus uit die graf opgestaan het, die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag, en die Kerkdispensasie begin het — tussen 12 en 16 jaar van nou (2017) af! Alhoewel niemand verseker weet nie, is daar ’n sterk vermoede by baie Christene dat sesduisend jaar van Bybelse geskiedenis verstreke sal wees tussen 2029 en 2033 — 12 tot 16 jaar van nou af!

Op grond waarvan dink ons so?

In Gen 2:2 lees ons: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het.”  In 2 Pet 3:8 lees ons: “Maar laat hierdie een ding julle nie ontgaan nie, geliefdes, dat een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag.” In Op 20:4-6 lees ons: “... en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, ... en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”

Hoe weet ons watter van die tydperke in bogenoemde verse letterlik, en watter figuurlik verklaar moet word? Na my beskeie mening, nie een van die twee nie — dit moet profeties verklaar word. Soos ek in die artikel, ‘Is die Bybel nog Relevant vir ons Moderne Wêreld?’, verduidelik het, is die Bybel ‘n profetiese Boek van Genesis tot Openbaring en moet die Bybel verklaar word binne sy ewigheidsverband. Daarom vra ek met groot vrymoedigheid die vraag, kan dit wees dat God se herstelprogram vir die gevalle skepping ook voltooi sal wees na ses tydperke, en dat God op die sewende sal rus? In die artikel, ’Hoeveel Tyd het die Kerk nog?’  brei ek meer hierop uit, maar bogenoemde verse alleen, spreek boekdele. Ons laat die res oor aan jou eie verbeelding. Wie weet hoe lank daar nog genadetyd gaan wees? Waarvan ek wel oortuig is, is dat God se genadehorlosie op vyf minute (of dalk een minuut) voor twaalf staan — dat die Kerkdispensasie, en daarom die Kerk se tyd om Jesus se Groot Opdrag te voltooi,  byna verstreke is!  

Laat ons verenig rondom wat saak maak ...

Of jy met my saamstem of verskil ten opsigte van die sesduisend jaar van Bybelgeskienis, is egter nie die kern van die saak nie. Laat ons nie hieroor met mekaar stry nie. Wat saak maak is dat ons almal NOU (enige tyd, ten alle tye) die wederkoms van Jesus Christus moet verwag! Dit was Jesus se bedoeling dat elke geslag Sy wederkoms in hulle leeftyd moes verwag. Die vroeë Kerk het mekaar gegroet met die woord, Maranata, wat beteken, Kom Here! ‘n Lewende wederkomsverwagting is die dryfkrag agter die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag. Volgens die Bybel sal daar egter spotters wees wat nie die wederkoms van Jesus verwag nie. Daar staan in 2 Pet 3:3,4: “Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

As jy geweet het dat daar nog net tussen 12 en 16 jaar van genadetyd oor is voor Jesus weer kom — wat sal jy met jou lewe doen? Moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat Jesus gaan terugkom in 2029 of 2033 nie! Al wat ek sê is dat alle Bybelse getuienis dui op die feit dat God se kalender vir die Kerk op vyf minute (of dalk een minuut) voor die einde van genadetyd staan!

Hoe lank gaan hierdie vyf minute wees?

Hoe lank hierdie een minuut gaan duur, hang van slegs EEN DING af! Daar is slegs EEN DING wat die wederkoms van Jesus Christus kan vertraag — en dit is die onvoltooide sendingtaak! Daar is slegs EEN DING wat kan veroorsaak dat Jesus Christus se wederkoms uitgestel word — en dit is as daar nog stamme en tale onbereik is met die Evangelie — want die Bruid van Christus sal verteenwoordig word deur elke nasie, volk, stam en taal! Daarom is hierdie EEN DING ons doelwit. Om die hele wêreld met die Evangelie te help bereik is ‘n absolute, dringende noodsaaklikheid! Waarmee is jy hoofsaaklik besig? Is jy beskikbaar vir God se doel en plan met jou lewe?

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.