Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Christen se Identiteitskrisis!

deur
Elmer Grobler

In Mat 26:73,74 lees ons die verhaal van Petrus toe hy vir Jesus verloën het. Dit is die verhaal van Petrus se indentiteitskrisis: “‘n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. ’n Mens kan dit aan jou spraak hoor.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!” Petrus was bang om homself met Jesus te identifiseer omdat hyself dalk ook gevange geneem kon word.

Wanneer jy jouself nie in die openbaar met Jesus wil identifiseer nie, is die onvermydelike gevolg dat jy Hom verloën. Jesus sê in Mar 8:38: "Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele." Christene verloën Jesus daagliks sonder dat hulle dit eers besef. Hierdie is die Christen se indentiteitskrisis. Daar bestaan seker min twyfel dat die Kerk van Jesus Christus in Suid-Afrika (en waarskynlik die wêreld) tans die grootste identiteitskrisis van sy bestaan beleef! Wie is waarlik ’n Christen en hoe ken ’n mens ’n Christen uit in vandag se wêreld?

‘n Tiener se identiteitskrisis

Baie kinders kom op ’n stadium gedurende hulle tienerjare by ’n identiteitskrisis te staan. Gedurende die oorgang van kind na volwassene verander jou wêreld van ’n beskermende, huislike, relatief geslote en beperkte wêreld na ’n ruwe wêreld daarbuite waar dikwels ander norme en standaarde geld as dié waarmee jy groot geword het, en jy raak verward. Die gevolg is ’n identiteitskrisis! Wie is ek? Waar hoort ek? Met wie moet ek my identifiseer? Hoe moet ek optree in ’n wêreld wat anders dink en voel?

Ons ken almal die simptome van ’n jongmens se identiteitskrisis - opstandigheid en rebellie; wil nie meer kerk toe gaan nie; oorbel in die oor; klere en tasse met slagspreuke en tekens daarop; snaakse kleredrag en haarstyle; ens.

Die Christen se indentiteitskrisis

Die Christen van ons dag is ook verward! Wie, wat en waar is die Kerk? Met wie moet ek my as Christen identifiseer en met wie nie? Die norme en standaarde van die kerk van vandag is nie meer dieselfde as waarmee ek grootgeword het nie! Op ’n stadium was dit nog relatief maklik om te weet of iemand ’n Christen was of nie. Al wat jy nodig gehad het om te weet was of die persoon weergebore is of nie - en jy kon dit sien nog voordat hy dit bely, want hy het anders gelyk, geruik, gepraat en gedoen as die wêreld! Vandag maak byna almal wat hulle as Christene beskou, daarop aanspraak dat hulle ‘weergebore’ is, maar weinig toon die ‘identiteit’ van wedergeboorte, naamlik ’n veranderde en heilige lewe!

Ek het op 'n keer ’n ryloper opgelaai en terwyl ek met hom gesels kom dit aan die lig dat hy ’n lid van Hare Krishna was. (Dit is Boeddhisme.) Toe ek hom vra hoe dit gebeur het dat hy by Hare Krishna betrokke geraak het, was sy antwoord: “I was born again!” ’n Mens kan dus glo dat jy weergebore is sonder om gered te wees!

Hoe werk identiteit en simboliek in die praktyk?

’n Polisieman word geïdentifiseer deur sy uniform, en is simbool van die staat se gesag. ’n Skolier word geïdentifiseer deur sy skooldrag en is simbolies van iemand wat ‘n skolier van ‘n bepaalde skool is. Lidmaatskap van ’n klub of organisasie word geïdentifiseer deur ’n wapen, baadjie of ’n identiteitskaart. ’n Firma identifiseer homself deur sy naam, sy embleem en sy reklame; en die publiek vorm ’n beeld van daardie onderneming op grond van sy openbare aktiwiteit en verklarings. Aan die Springbokembleem in sport is ’n bepaalde identiteit en simboliek gekoppel. Aan ons nuwe landsvlag en volkslied is ’n bepaalde identiteit en simboliek gekoppel met wie sommige intiem identifiseer en ander weer nie. So kan jy maar deur die lewe gaan — elke mens, groep, ras, besigheid, organisasie, kerk, politieke party, of land, het ‘n simboliek wat sy identiteit weerspieël.

Die plakkers agterop ’n motor identifiseer die karakter van sy bestuurder. Waar die hart van vol is, loop die bumper en sosiale media van oor. Die kleredrag van ’n persoon vertel boekdele van sy persoonlikheid, karakter, smaak en status. So kan jy maar dwarsdeur die lewe gaan. Elke mens in die wêreld kan op een of ander wyse geïdentifiseer word, en die Christen is geen uitsondering nie!

Mense word gelees!

Wanneer ’n mens ’n polisieman in uniform sien, verwag jy ’n bepaalde gedrag of optrede van hom. Wanneer iemand die identiteit van ’n sekere organisasie, gesag, groep, godsdiens, kerk of instansie vertoon, verwag die publiek ’n gedrag of optrede van daardie persoon of groep in ooreenstemming met die identiteit wat hy vertoon. So werk dit ook met die Christen! Elke mens op aarde word gelees. Wanneer twee mense mekaar vir die eerste keer sien of ontmoet, lees hulle mekaar en vorm ’n opinie van mekaar. Ook Christene word gelees! Die Bybel sê ook so! Daar staan in 2 Kor 3:2,3: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie maar op die harte van mense.”

Die Christen se verwarde identiteit!

Wat is verwarde Christen-identiteit? ’n Christen is tog iemand wat getuig dat hy deur Christus verlos is van sonde! ’n Verwarde Christen-identiteit is iemand wat ’n dubbelsinnige getuienis na buite uitdra omdat hy ’n verdeelde hart het. Met sy mond bely hy dat hy ’n Christen is, maar dit waarmee hy hom identifiseer getuig nie van verlossing nie.

Hoe ken ek ’n Christen uit? Is almal wat sê hulle is Christene regtig Christene? Het die Bybel nie ook ’n uiterlike standaard vir Christene nie? Of is die Evangelie slegs ’n saak van die hart? Sommige beskou alle uiterlike tekens van Christen-wees as wetties. Maar is dit? Die Bybel is ondubbelsinnig duidelik oor verwarde identiteit!

Daar staan in 1 Joh 2:15,16: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is--die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe--is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Daar staan ook in 2 Kor 6:14-17: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? Hoe kan daar eenstemmigheid wees tussen Christus en Belial? Hoe kan 'n gelowige dieselfde belange hê as 'n ongelowige? ... Ons is immers die tempel van die lewende God. ... Daarom: "Gaan van hulle af weg en sonder julle af," sê die Here, "en moenie wat onrein is, aanraak nie."“

Met wie moet die Christen hom identifiseer?

Natuurlik met Jesus Christus! Hy dra tog immers Sy Naam, naamlik Christen! Maar waarin moet ek my met Christus identifiseer? ’n Mens kan en moet jou identifiseer met elke aspek van Jesus se lewe. Maar:

Die geheim van ’n Geesvervulde lewe - en ook van eenheid onder Christene - is identifikasie met Jesus Christus in Sy dood en in Sy opstanding!

As jy jouself nie identifiseer met die dood en opstanding van Jesus Christus nie, sal jy ‘n verwarde Christen-identiteit na buite uitdra, ‘n kragtelose getuienis hê, en die krag van Christen-wees nie ken nie! Wanneer ek praat van identifikasie met Jesus in Sy dood en opstanding praat ek nie van die nagmaal of doop nie! Ek praat ook nie van die hang van ’n kruis om jou nek nie! Wat  beteken dit dan om jouself te identifiseer met die dood en opstanding van Christus?

Dit beteken om, net soos Jesus Christus vir jou sonde aan die kruis van Golgota gekruisig is, jy jouself saam met Hom gekruisig en dood vir die sonde, jou aardse sondige natuur en die wêreld te reken — en net soos Jesus uit die dood opgestaan het, jy jouself reken as saam met Christus opgestaan het in ‘n nuwe lewe!

Dit beteken dat jou ‘eie-ek’ wat jou eie identiteit wil handhaaf, en wil leef en maak soos hy wil en sy eie ding wil doen, gekruisig moet wees!

Hierdie boodskap loop regdeur die Bybel soos ‘n goue draad! Ons lees onder andere in Rom 6:1-14: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem? Beslis nie. Hoe kan ons wat dood is vir die sonde, nog daarin voortlewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so 'n nuwe lewe kan lei. Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding. Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was [oue mens] (ons sondige natuur of ‘eie-ek’), saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. .... Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe. .... Julle moet dus altyd [reken] dat ook júlle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus. Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer ... nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as 'n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, ... stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil. [Want die sonde sal oor julle nie heers nie;...]” (NV met insetsels in [ ] uit OV.)

Natuurlik is dit iets wat ’n mens slegs deur die krag van die Heilige Gees kan doen, en daarom begin dit by ‘n algehele geloofsoorgawe in gebed waar jy die Here Jesus vertrou om jou met Sy Gees te vervul! As jy wil weet hoe om met die Heilige Gees vervul te word, volg hierdie skakel.

Liewe mede-broeder en suster, iemand wat hom met Jesus Christus identifiseer, het klaar gespeel met sonde en die vlees! Iemand wat hom met Jesus Christus identifiseer haat sonde, die wêreld en die vlees, en gaan uit sy pad om nie daarmee te identifiseer nie! Ek moet my wel met die sondaar indentifiseer, want ook ek is een uit genade gered! Maar ek mag my nooit met sy sonde identifiseer nie! Die oomblik dat jy jouself identifiseer met sonde en die wêreld, verloën jy vir Jesus — want Jesus is heilig en Hy haat sonde — soveel so dat Hy Sy eie lewe daarvoor afgelê het! As jy jou met Jesus identifiseer sal jy die sonde net so haat, en sal jy jou oue mens, sondige natuur, of ‘eie-ek’ aflê om saam met Christus gekruisig te word!

Dit word vertel dat Alexander die Grote op ‘n keer vir een van sy troepe wat aan wangedrag skuldig was, gevra het: "What is your name?" Die troep het geantwoord, "Alexander, Sir", waarop Alexander die Grote soos volg geantwoord het: “Young man, change your behaviour, or change your name!” Is jou naam Christen? Waarmee identifiseer jy in jou verhoudinge, jou gesprekke, jou plesier, jou affiliasies, jou gedrag, jou taalgebruik, jou voorkoms, jou kleredrag, en jou gewoontes?

Christen, verander jou verwarde identiteit — of verander jou naam!

As jy jou met Jesus Christus en Sy Evangelie identifiseer soos ons dit hierbo verduidelik het, sal jy jou ook met God se wêreld van Joh 3:16 wil identifiseer. Dan sal jy ‘n passie vir die Evangelie en ‘n verlore wêreld hê. Volg die skakel hieronder waar jy ‘n belangrike rol kan speel om  die Onbereikte Wêreld met die Evangelie te help bereik. As jy nie ‘n passie vir ‘n verlore wêreld het nie, soek God — want dan is jy op ‘n verkeerde pad, met ‘n verwarde identiteit!

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.