Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Wêreld van God se Passie

deur
Elmer Grobler

In die artikel, ‘God se Passie vir die Wêreld’, het ons gepraat oor Joh 3:16: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (OV). Ons het gesê hierdie is die kragtigste en passievolste stelling wat die wêreld nog ooit gehoor het! Jy ken hierdie vers uit jou kop. As hierdie vers nie vir jou bekend is nie, is jy deel van die Onbereikte Wêreld. Maar weet jy wat is die wêreld van God se passie?

Twee verskillende wêrelde ...

Ons lees dat God ‘die wêreld’ so lief gehad het. Wat of wie is die ‘wêreld’ waarvan Joh 3:16 praat? Die Bybel gebruik die woord 'wêreld' in verskillende kontekste op verskillende plekke, daarom is dit belangrik om te verstaan wat hierdie vers met ‘wêreld’ bedoel. Byvoorbeeld, in 1 Joh 2:15 lees ons: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” Dit kan dus nie dieselfde ‘wêreld’ wees waarvan die Bybel praat in Joh 3:16 en in 1 Joh 2:15 nie. Die een ‘wêreld’ moet ons liefhê en die ander een nie. Die wêreld van Joh 3:16 het God lief, maar die wêreld van 1 Joh 2:15 haat Hy!

Die wêreld van 1 Joh 2:15 is die wêreld van die gevalle mens

Die wêreld van 1 Joh 2:15 word op verskillende maniere beskryf in die Bybel, maar die apostel Paulus beskryf dit raak in 2 Tim 4:10 waar hy sê: “Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het, ...” Wanneer Petrus in 1 Pet 1:1 en 17, en 1 Pet 2:11 praat van Christene as vreemdelinge in hierdie wêreld, dan praat hy van dieselfde ‘wêreld’ as Paulus in 2 Tim 4:10 en Johannes in 1 Joh 2:15.

Hierdie 'wêreld' is die teenwoordige, tydelike, verganklike wêreld wat onderworpe is aan die sondeval. Dit is die sondige wêreld van die natuurlike mens wat gedryf word deur mensbelang, humanistiese geregtigheid, menslike begeertes, menslike bevrediging, menslike vervulling en menslike verwesenliking. Hierdie ‘wêreld’ word gedryf deur selfliefde, selfbelang, selfregverdiging, selfbevrediging, selfverwesenliking, eie geregtigheid en selfvervulling. Hierdie ‘wêreld’ word gedryf deur die mens se aardse en gevalle natuur en sy tydelike bestaan. Dit is die ‘wêreld’ van aardse begeertes, aardse behoeftes, aardse voorliefdes en aardse passie. Hier geld wêreldse norme en standaarde, wêreldse verhoudinge en wêreldse oplossings.

Die wêreld van Joh 3:16 is God se wêreld

Wat is die konteks van die ‘wêreld’ in Joh 3:16? Wat is die objek van die passie van God? Ons kry die antwoord wanneer ons ’n visie kry van die oorkoepelende Bybelboodskap en God se groot doel en plan met die skepping. Die wêreld van Joh 3:16 verwys na die plan wat God in gedagte gehad het met die skepping, en die doel waarvoor Hy die mens geskep het voor die sondeval.

Wat is hierdie doel en plan? In Genesis hoofstuk 1 kry ons die eerste deel van die prentjie. In Gen 1:26-28 lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers ... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers ..."  Dit is dus duidelik uit hierdie verse dat God ‘n nageslag, ‘n familie, na Sy beeld wou skep om oor Sy skepping te heers. Hierdie is egter slegs die een helfte van die prentjie. Die volledige prentjie kry ons eers wanneer ons by Openbaring 22 kom.

Die sondeval ...

In Genesis 3 kry ons die verhaal van die sondeval en die oënskynlike mislukking van God se plan. Die sondeval is die rede waarom daar ‘n Messias en ‘n Redder moes kom. Die sondeval is die rede waarom Joh 3:16 in die Bybel staan, en die rede waarom baie mense Joh 3:16 verkeerd verstaan is omdat hulle nie die sondeval verstaan nie. Daar is mense wat glo dat God die mens in sy sonde liefhet — en daarom nie sal toelaat dat hulle verlore gaan nie. Dit is ‘n dwaling!

Die sondeval is die waterskeiding — die sondeval het veroorsaak dat daar ‘n verskil tussen die ‘wêreld’ van 1 Joh 2:15 en dié van Joh 3:16 gekom het. Die ‘wêreld’ van Joh 3:16 is God se wêreld. Die ‘wêreld’ van Joh 3:16 is die wêreld van die mens soos God hom oorspronklik geskape het. Dit is op grond van hierdie onderskeid dat Jesus in Mat 24:40,41 gesê het: “Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.” Altwee hierdie mense leef in dieselfde wêreld, maar die een is van die gevalle wêreld van 1 Joh 2:15 en die ander van God se herstelde wêreld van Joh 3:16.

Die wêreld van Joh 3:16 word gedryf deur Godsbelang, Goddelike geregtigheid, Goddelike bevrediging en vervulling, en Goddelike verwesenliking. Hierdie wêreld word gedryf deur God se natuur, Sy begeertes, Sy behoeftes, Sy liefde en Sy passsie. Hier geld hemelse norme en standaarde, hemelse verhoudinge en hemelse oplossings. Die sentrale boodskap van Joh 3:16 is juis dat God die mensdom wil red vanuit die gevalle wêreld van 1 Joh 2:15, na God se herstelde wêreld van Joh 3:16!

Die herstel van die sondeval

Die hele res van die Bybel, vanaf Genesis hoofstuk 4 gaan dus oor een primêre boodskap, naamlik hoe God te werk gaan om die gevalle wêreld te herstel na God se wêreld soos Hy dit aanvanklik bedoel het. In die Ou Testament lees ons hoe God Sy karakter aan die mens kom openbaar en vir Homself ‘n volk voorberei het om die Messias te ontvang. In die Nuwe Testament lees ons die boodskap van God se verlossingsplan vir die mens en die Kruiswerk van Jesus Christus.

In Openbaring lees ons die eindresultaat van God se verlossingsplan. In Openbaring hoofstukke 19-22 lees ons: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. ... (19:7) … En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. (20:11,12) ... En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. (21:2) … en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien. En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees. En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.” (22:3-5)

In Op 22:7,12 lees ons wat ons fokus moet wees: “Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar. ... En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. ... “

God se skeppingsdoel ...

Wat is God se skeppingsdoel? Dit bring ons terug by die wêreld van God se passie. God het die wêreld so lief gehad — watter ‘wêreld’? Waarom het God die mens geskape — hier kom die antwoord — volg nou mooi:

God is besig om ‘n nageslag en familie vir Homself, en ‘n bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om die hemel te bevolk — deur hulle te versamel uit elke volk, stam en taal in die wêreld; Sy beeld wat verlore gegaan het met die sondeval in hulle lewens te herstel en hulle te gebruik vir Sy doel hier op aarde; met die doel om hulle uit te haal uit die teenswoordige wêreld en met die wederkoms van Jesus en die bruilof van die Lam met Hom verenig te word in ‘n ewige liefdesverhouding — om in ewigheid saam met Hom te regeer oor die skepping.

Hierdie Goddelike nageslag en familie word in die Bybel genoem die Kerk — die Ekklesia — die uitgeroepenes.

Die verheerlikde Kerk is die doel van God se skepping en die objek van Sy passie!

Paul Billheimer som dit so pragtig op. Hy sê: "The universe, including this planet, was created for one purpose: to provide a suitable habitation for the human race. The human race was created in the image and likeness of God for one purpose: to provide an eternal companion for the Son. After the fall and promise of redemption through the coming Messiah, the Messianic race was born and nurtured to bring in the Messiah. And the Messiah came for one intent and only one: to give birth to His Church, thus obtaining His Bride. The Church, then — the called out body of redeemed mankind — turns out to be the central object, the goal, not only of mundane history but of all that God has been doing in all realms, from all eternity." (Destined For The Throne deur Paul E Billheimer (© Christian Literature Crusade, Inc., 1975) bls 21)

Wanneer God sê Hy het die wêreld so lief dat Hy Sy eniggebore Seun gegee het, sien Hy die eindresultaat. Hy het die verheerlikde Kerk — Sy bruid in gedagte! God sien die geheelprentjie – Hy sien die voltooide Kerk – die voltooide Ekklesia. Maar ek hoop jy het iets raakgesien — die verheerlikde Kerk en Bruid van Jesus Christus sal verteenwoordig word deur elke volk, stam en taal op aarde! In Op 7:9,10 lees ons: “Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; ...” Dít is die wêreld van God se passie!

Vir Joh 3:16 om vervul te word, moet elke mens op aarde die geleentheid hê om ‘n geloofskeuse vir Jesus te kan maak as hulle wil. Dus moet die Evangelie beskikbaar wees aan elke mens op aarde. Daarom moet elke volk, stam en taal met die Evangelie bereik word! Daarom is die Groot Opdrag van Jesus Christus aan die Kerk gegee. Daarom het Jesus in Mat 28:19 gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, .. “  en in Mar 16:15: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. “  en in Han 1:8: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.”

Mag ek vir jou ‘n persoonlike vraag vra? Wat is die ‘wêreld’ van jou passie? Dit kan slegs een van twee moontlikhede wees: die sondige wêreld van 1 Joh 2:15 — of God se wêreld van Joh 3:16! Jy sal ‘n keuse moet maak!

As jy wil weet hoe om gered en weergebore te word, volg hierdie skakel.

As jy wil weet hoe om 'n Geesbeheerde en oorwinnende geestelike lewe deelagtig te word en 'n bruikbare dissipel van Jesus Christus te wees, volg hierdie skakel.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.