Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Ses Dinge Waarmee God nie Besig is nie

deur
Elmer Grobler

Wat is die hooftaak waarmee God besig is in die wêreld?

In die artikel, ‘Die Wêreld van God se Passie’, het ons tot die gevolgtrekking gekom dat God met iets heel anders in die wêreld besig is as wat baie Christene dink!

God is besig om ‘n nageslag en familie vir Homself, en ‘n bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om die hemel te bevolk — deur hulle te versamel uit elke volk, stam en taal in die wêreld; Sy beeld wat verlore gegaan het met die sondeval in hulle lewens te herstel; hulle toe te rus en te gebruik as Sy getuies hier op aarde; met die doel om hulle met die wederkoms van Jesus en die bruilof van die Lam met Hom te verenig in ‘n ewige liefdesverhouding — om in ewigheid saam met Hom te regeer oor die skepping.  

Wanneer ons die antwoord op hierdie vraag verstaan, kan ons maklik identifiseer waarmee God nie hoofsaaklik besig is nie.

1. God is nie hoofsaaklik besig om Sy Koninkryk in hierdie wêreld te vestig nie. Jesus het self vir Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” Joh 18:36. Die Koninkryk van God sal eers op aarde kom met Jesus se wederkoms en die aanbreek van die duisendjarige vrederyk.

2. God is nie primêr besig om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak nie. Alhoewel die Evangelie uit die aard van die saak van die wêreld ‘n beter plek maak daar waar dit triomfeer — ons lees hiervan in die geskiedenis van herlewings — is dit nie waarmee God primêr besig is nie. Hierdie wêreld is bestem vir die oordeel.

3. God is nie primêr besig om menslike lyding te verlig, en aardse voorspoed te bring nie. Alhoewel die Evangelie uit die aard van die saak ook voorspoed, genesing en oorwinnings oor menslike lyding tot gevolg het, is dit nie waarmee God primêr besig is in die wêreld nie. In Hebreërs hoofstuk 11 lees ons van die oorwinnings van geloofshelde, maar in dieselfde hoofstuk lees ons ook van ander waarvan die volgende getuig word: “Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.” (Heb 11:38-40)  Jy sien, hier plaas die Woord weereens die kind van God se fokus op die ewigheid!

4. God is nie primêr besig om ons eie plaaslike omgewing, stad en land te verchristelik en almal hier te red nie. Alhoewel dit ‘n edel doelwit is, en in tye van herlewing wel gebeur, is dit nie waarmee God primêr besig is nie. Die Kerk sal altyd ‘n minderheid wees tot Jesus kom. Jesus het self gesê in Mat 7:13,14: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” Ons besef nie altyd hoe bevoorreg ons is om in ‘n Christelike land te woon nie — al is dit slegs in naam.

5. God is nie primêr besig om omgewings, gemeenskappe, dorpe, stede en lande vir Christus te verower nie. Alhoewel dit gedurende tye van herlewings wel plaasvind, is dit nie waarmee God primêr besig is in die wêreld nie.

6. God is ook nie primêr besig om herlewings te gee nie. Alhoewel God wel herlewing gee en ons van baie herlewings in die geskiedenis lees, was die doel daarvan altyd om die Kerk te bekragtig om die Evangelie uit te dra na die uiteindes van die aarde. Gaan lees gerus weer die geskiedenis van die eerste herlewing in Handelinge hoofstuk 2.

Waarmee is God dan hoofsaaklik besig? Soos ons reeds hierbo gesê het, God is besig om Sy Kerk en Bruid te versamel uit elke volk, stam en taal in die wêreld - vir 'n ewigheidsdoel. Daarom moet elke Christen, kerk en gemeente 'n lewende wederkomsvisie en -verwagting hê. Soos reeds genoem, sal die Kerk in hierdie wêreld altyd in die minderheid wees! Die Kerk bestaan uit slegs ‘n klein minderheid van elke geslag — maar sal met Jesus se wederkoms uit ‘n ontelbare skare bestaan wat oor die eeue heen gered is en wat verteenwoordig sal word deur elke volk, stam en taal!

Waarmee moet die Kerk nie hoofsaaklik besig wees nie?

As ons die vorige vraag verstaan, dan moet die Kerk sekerlik hoofsaaklik met dieselfde ding besig wees as waarmee God hoofsaaklik besig is! Dit is verstommend om te sien dat baie gemeentes en kerke hoofsaaklik besig is met alles behalwe dit waarmee God in die wêreld besig is. Wat is die primêre taak van die Kerk? Laat ons begin deur te sê waarmee die Kerk haarself nie hoofsaaklik behoort besig te hou nie en wat nie haar primêre taak is nie:

1. Om God se Koninkryk in hierdie wêreld te probeer vestig nie.

2. Om van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak nie.

3. Om menslike lyding te verlig, siekes gesond te maak, en aardse voorspoed te bring nie.

4. Om ons eie plaaslike omgewing en stad te verchristelik nie.

5. Om omgewings, gemeenskappe, dorpe, stede en lande vir Christus te verower nie.

6. Om herlewings te soek vir plaaslike voordeel nie.

Daarmee ontken ons nie dat God dit ook doen en wil doen nie, maar dit is nie die primêre taak van die Kerk nie.

Wat is die hooftaak waarmee 'n gemeente moet besig wees?

Waarmee moet die Kerk haarself dan hoofsaaklik besig hou? Wat is die belangrikste taak van 'n gemeente? Die primêre taak van 'n gemeente is om die uiteindes van die aarde met die Evangelie te help bereik. Die hooftaak van 'n gemeente is om dissipels en sendelinge van Jesus Christus te maak, hulle te mobiliseer, toe te rus en soveel as moontlik uit te stuur om die onbereikte wêreld met die Evangelie te help bereik.

Dr Oswald Smith beantwoord hierdie vraag in die artikel, ‘Is the Evangelization of the World the Supreme Task of the Church?. In sy boek, Passion For Souls, beskryf Oswald Smith die sendingherlewing wat plaasgevind het in die People’s Church van Toronto gedurende die eerste helfte van die vorige eeu. Wat egter interessant is omtrent hierdie gemeente, is dat al die bogenoemde faktore wat ons gesê het, nie die Kerk se primêre taak is nie, ook gerealiseer het in sy gemeente — omdat hulle die passie van God se hart eerste gestel het.

Dit is egter belangrik dat ons die term wêreldevangelisasie reg sal verstaan. Dit beteken nie dat almal in die wêreld, of ‘n land, stad of dorp gered moet word nie. Om Jesus Christus as Verlosser aan te neem is immers 'n saak van eie keuse en God forseer Homself op niemand af nie! Dit beteken egter wel dat elke mens op aarde toegang tot die Evangelie moet hê en dat die Evangelie tot elkeen se beskikking moet wees.

Die primêre taak van die Kerk is dus om die Evangelie te verkondig, dissipels te maak van bekeerlinge, dissipels te mobiliseer en op te lei as evangeliste en sendelinge, en hulle wat ’n roeping het voltyds uit te stuur om die Evangelie te help uitdra tot aan die uiteindes van die aarde.

Evangeliste en sendelinge behoort die hoofproduk van die Kerk te wees! Die sukses van ‘n kerk of gemeente moet nie gemeet word aan sy aantal lidmate nie, maar aan sy aantal lidmate wat aktief besig is met die bereiking en evangelisering van God se wêreld van Joh 3:16!

Waar pas die ander bedieninge in die gemeente in?

Jy mag nou wonder, maar wat van die vyfvoudige bediening? Bogenoemde stelling ontken nie die vyfvoudige bediening nie — dit beklemtoon slegs die doel daarvan! ‘n Dissipel is iemand wat ander dissipels maak. ’n Dissipel is ’n sendeling — al wat verskil is die sendingveld. Geen lidmaat van ‘n gemeente kan ‘n amp of bediening beklee wat nie die maak van dissipels as hoofdoel het nie. Daar bestaan eenvoudig nie so ‘n amp of bediening in die Bybel nie.

Dr Oswald Smith se People’s Church het gedurende die 1940’s -1950’s meer as 600 voltydse sendelinge uitgestuur en onderhou deur ‘n enkele gemeente van tussen 2,000 tot 3,000 lidmate — vir een eenvoudige rede — hulle het God se doel en plan vir die wêreld, die Kerk, en hulle gemeente verstaan!

Die geheim van ‘n doelgerigte lewe en gemeente

Om ‘n doelgerigte Christelike lewe te lei en ‘n doelgerigte gemeente te wees moet ek en my gemeente primêr besig wees met God se primêre taak vir ons lewens. Kan dit wees dat ‘n Christen besig is met allerhande dinge, behalwe God se primêre doel en taak vir sy lewe? Kan dit wees dat ‘n gemeente besig is met allerhande dinge, behalwe God se primêre doel en taak vir hulle as gemeente? Dit is hartseer om te sien hoe baie Christene en gemeentes vandag besig is om God se primêre doel en plan vir hulle lewens heeltemal mis te leef!

Waarmee is jy hoofsaaklik besig? Wat is die doel van jou lewe? Wat is jou lewensfokus? Waarheen is jy in jou Christelike wandel oppad? 
Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.