Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

‘n Gejaag Na Wind

deur
Elmer Grobler

Die Geheim Van ‘n Doelgerigte Lewe

Boeke en boeke, preke en preke, seminare en seminare is al oor hierdie onderwerp van ‘n doelgerigte lewe geskryf en gelewer oor die eeue, en steeds worstel Christene en nie-Christene met die probleem van doelloosheid (of ‘n gejaag na wind). Mense regoor die wêreld, van alle ouderdomme, gelowe, ryk en arm, geleerd en ongeleerd, worstel op een of ander stadium met hierdie probleem – wat is die doel van my lewe? As jy nog nie met hierdie probleem geworstel het nie, wag maar, dit kom! Miskien kom dit eers die dag wanneer jy ‘n pensioenaris is – al is jy hoe welaf – maar kom sal dit kom! Tensy, tensy jy die geheim van ‘n doelgerigte lewe ontdek het!

Om die geheim van ‘n doelgerigte lewe te ontdek is dit van wesenlike belang dat mens die geheelboodskap van die Bybel moet verstaan. Die hele boodskap van die Bybel staan binne die verband van Genesis hoofstukke 1-3 en Openbaring hoofstukke 19-22. Die hele boodskap van die Bybel staan binne die konteks van vier sleutelgebeure, tewete, die skepping, die sondeval, die eerste koms van Jesus Christus, en die tweede koms van Jesus Christus. Wanneer ‘n mens dit verstaan, gaan die Bybelboodskap vir jou oop en verstaan jy waarmee God besig is in die wêreld. Hier is ‘n bondige opsomming:

God is besig om ‘n nageslag en familie vir Homself, en ‘n bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld — deur hulle te versamel uit elke volk, stam en taal in die wêreld deur die Evangelie van bekering, wedergeboorte en die inwonende, lewe-wekkende Heilige Gees; Sy beeld wat verlore gegaan het met die sondeval in hulle lewens te herstel deur heiligmakende dissipelskap; hulle toe te rus en te gebruik as Sy getuies en instrumente hier op aarde om Jesus Christus se Groot Opdrag aan die nasies te volbring; met die doel om hulle met die wederkoms van Christus en die bruilof van die Lam met Hom te verenig in ‘n ewige liefdesverhouding -- om in ewigheid saam met Hom te heers en regeer oor die skepping.

Laat ek dit vir jou nog meer bondig stel:

God is besig om Sy Koninkryk te bou uit elke volk, stam en taal, wat voltooi sal wees met die wederkoms van Jesus Christus.
Die geheim van ‘n doelgerigte lewe is om jou plek in God se skeppingsdoel, plan vir die wêreld, en Koninkryk te vind; met ‘n fokus op die einddoel.

Paulus beskryf die geheim meesterlik in Fil 3:10-14 soos volg: “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, (11) in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. (12) Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. (13) Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. (14) Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (NAV. Beklemtoning my eie.)

Wat is die wenstreep?

Die wenstreep is die wederkoms van Jesus Christus! Die belangrikste saak in die lewe van ‘n weergebore Christen is die wederkoms van Jesus Christus. Die wederkoms van Jesus Christus sal die Koninkryk van God hier op aarde inlui. Geen geestelike herlewing of politieke en ekonomiese bestel sal dit doen nie. As enige iets anders as die wederkoms van Jesus Christus jou fokuspunt is, is jy besig met ‘n gejaag na wind.

Die belangrikste element van die wederkoms is die Bruilof van die Lam – om met Jesus Christus verenig te word in ‘n ewige liefdesverhouding. As hierdie nie die hoogste en diepste begeerte en fokus van jou lewe is nie, moet jy jou redding bevraagteken en gaan ondersoek instel of jou geloof nie dalk op sand en ‘n gejaag na wind gebou is nie.

'n Ewigheidsfokus is die primêre teken van geestelike lewe. 'n Ewigheidsfokus is die waterskeiding tussen vormgodsdiens en geestelike lewe. 'n Ewigheidsfokus het 'n lewende wederkomsverwagting en -verlange tot gevolg. Waar daar geen wederkomsvisie is nie, is daar ook nie 'n ewigheidsfokus nie en andersom.

Dit bring ons egter by ‘n fundamentele vraag, naamlik:

Wanneer sal die wederkoms plaasvind en kan Christene dit verhaas?

Die wederkoms sal plaasvind die oomblik dat Jesus Christus se Groot Opdrag in God se oë voltooi is! Die belangrikste teken van die wederkoms van Christus is die stand van voltooiïng van die Groot Opdrag!

Die wederkoms van Jesus Christus, wêreldsending en die voltooiïng van die Groot Opdrag hou verband met mekaar want die wederkoms van Christus sal nie plaasvind voor die Bruid verteenwoordigend is van elke volk, stam en taal nie.

'n Ewigheidsfokus het onvermydelik ook 'n fokus op die voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag en die bereiking van die onbereikte wêreld tot gevolg. Christene en die Kerk van Jesus Christus kan Sy wederkoms verhaas deur die Groot Opdrag te help voltooi en elke volk, stam en taal met die Evangelie te bereik. Die Groot Opdrag is immers aan die Kerk te gee om uit te voer.

‘n Gejaag na wind

In Pred 2:11 lees ons wat Salomo se ondervinding was aan die einde van sy lewe: “Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.” (OAV) “Die NAV vertaling lees so: “Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, 'n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.”

Salomo was die rykste, slimste en mees suksesvolste en welvarendste man van sy tyd en het ‘n duisend vrouens en byvrouens gehad. Wat meer is, al sy voorspoed en rykdom was deur God aan hom gegee! (1 Kon 3:13.) Hy het alles in die lewe gehad wat ‘n mens kon begeer, maar steeds tot die gevolgtrekking gekom dat dit ‘n gejaag na wind was. Hoe is so iets moontlik?

Het jy al ooit in jou lewe die ondervinding gehad dat jy baie tyd, geld, inspanning, liefde en toewyding in ‘n saak, projek of ‘n verhouding belê het; en dit op ‘n mislukking uitgeloop het? Die saak waarmee jy jouself so met toewyding besig gehou het, was ‘n gejaag na wind – ‘n vermorsing van tyd, geld en toewyding. Hoeveel te meer as jy jou hele lewe lank al jou tyd, geld, inspanning, liefde en toewyding in die lewe belê, en jy aan die einde uitvind dit was ‘n gejaag na wind – dit het geen ewigheidswaarde gehad nie!

Liewe Christenvriend, daar is ‘n sterk moontlikheid dat ‘n gejaag na wind jou ervaring kan wees aan die einde van jou lewe en wanneer Jesus Christus weer kom. Daar is ‘n sterk moontlikheid dat jy aan die einde van jou aardse lewe kan uitvind dat jou lewe geen ewigheidswaarde gehad het nie. Ek praat nie hier van jou redding nie – ek praat van jou ervaring aan die einde van jou lewe en met die wederkoms van Christus. Die grootste skok wat ‘n Christen kan te beurt val is die ontnugtering met die wederkoms dat jy God se doel en plan vir jou lewe hier op aarde gemis het.

‘n Wanbegrip ...

Daar bestaan ‘n wanbegrip by massas Christene dat ons aardse lewe en die ewige lewe na die dood geen verband met mekaar hou nie. Met ander woorde, ‘solank ek gered is en hemel toe gaan is ek ‘okay’ – in die hemel gaan almal gelyk wees en net lekker saam woon in volmaaktheid. Hierdie is ‘n wanbegrip. Die Bybel leer vir ons dat ons aardse lewe die kwaliteit van ons ewige lewe bepaal. Op verskeie plekke in die Bybel lees ons dat daar loon wag in die hemel wat bepaal gaan word deur ons aardse lewe. Ons lees onder andere in 1 Kor 3:12-15: “En as iemand op dié fondament (Jesus Christus) bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels — (13) elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is. (14) As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; (15) as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”  Met ander woorde – massas Christene gaan in die ewigheid in ‘armoede’ woon!

Wat is ‘n gejaag na wind?

‘n Gejaag na wind is wanneer ‘n Christen se fokus aardsgesind is in plaas van ewigheidsgesind. ‘n Gejaag na wind is wanneer ‘n Christen in hierdie lewe primêr besig is met aardse en fisiese behoeftes, doelwitte en aksies in plaas van ewigheids- en geestelike doelwitte en aksies. ‘n Gejaag na wind is wanneer ‘n Christen nie onderskeiding het tussen God se plan en doel vir sy lewe en sy eie aardse doelwitte en planne nie.

‘n Baie groot deel van die Christendom van ons dag is besig met ‘n gejaag na wind. Sommige verwar selfs hierdie ‘wind’ met die ‘wind’ van die Heilige Gees. Liewe broer en suster, as jy nie ‘n baie duidelike begrip en beeld het van God se plan vir die Kerk, die wêreld en vir jou persoonlik, en dit jou eie gemaak het nie, moet ek jou dringend waarsku, is jy oppad na ‘n gejaag na wind! Meer as dit – jy is oppad na ‘n ewigheid van armoede! Daar wag ‘n groot ontnugtering vir massas Christene met Jesus Christus se wederkoms, omdat hulle ‘n valse beeld van die hemel en die ewigheid het.

Waarmee is God besig in die lewe van elke mens op aarde?

God het ‘n drievoudige doel en plan vir elke mens op aarde:

1. Om jou ‘n kind van God te maak. Om Sy skeppingsdoel in jou te vervul deur jou deel te maak van God se nageslag, familie, hemelse bevolking en Koninkryk. (Die Bybel noem dit regverdigmaking.)

2. Om jou te bekwaam vir die ewigheid. Om die beeld van God in jou te herstel wat deur die sondeval vertroebel is en jou voor te berei en te bekwaam vir jou hemelse burgerskap, taak en leierskap in Sy Koninkryk. (Die Bybel noem dit heiligmaking.)

3. Om jou te gebruik hier op aarde. Om jou toe te rus en te bekragtig om God hier op aarde te verteenwoordig en Sy instrument te wees deur Sy skeppingsdoel te help uitvoer deur jou getuienis en medewerking van Sy plan en doel vir die wêreld, ter voorbereiding vir en in verwagting op Jesus Christus se wederkoms.

Wêreldsending en die voltooiïng van die Groot Opdrag is die belangrikste taak van die Kerk en elke Christen op aarde

Wanneer sal die Groot Opdrag voltooi wees? Hierdie is weereens ‘n hele onderwerp op sy eie, maar in ‘n neutedop is die antwoord soos volg. Jesus Christus alleen weet wanneer die Groot Opdrag voltooi sal wees en die Bruid voltallig is, maar ons weet dat dit nie sal plaasvind voor die Bruid verteenwoordigend is van elke volk, stam en taal op aarde nie. Daarom sal die Groot Opdrag nooit voltooi kan word voor die Evangelie beskikbaar is vir elke volk, stam en taal op aarde nie.

Die eerste en belangrikste fokus van die Kerk en elke Christen moet dus wees om mee te werk om die Evangelie tot die beskikking van elke volk, stam en taal in die wêreld te plaas. Daarom is die vertaling van die Bybel en die Evangelie, en die beskikbaarstelling daarvan aan elke volk, stam en taal in die wêreld, die eerste en belangrikste taak wat voltooi moet word. Tensy hierdie jou fokus as Christen en jou gemeente is, is jy besig met ‘n gejaag na wind.

Is jy en jou gemeente oppad na ‘n gejaag-na-wind-ervaring?

Die Kerk van ons tyd het 'n groter aardse fokus as ewigheidsfokus. Die Kerk van ons tyd is meer bekommerd oor aardse probleme as oor verlore siele en God se ewigheidsdoel en -plan. Die Kerk van ons tyd het 'n gebrekkige wederkomsverwagting en -verlange. Die Kerk van ons tyd het 'n gebrekkige visie vir die voltooiïng van Jesus Christus se Groot Opdrag. Bogenoemde faktore is simptomaties van vormgodsdiens en 'n gebrek aan geestelike lewe en -toewyding. Massas Christene in ons tyd is besig met ‘n gejaag na wind! Waarmee is jy en jou gemeente besig?

Hoe om seker te maak dat jou lewe nie ‘n gejaag na wind is nie

Elke Christen ken die eerste en grootste gebod uit sy kop – jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, siel en gees. Maar slegs ‘n minderheid Christene verstaan wat dit beteken om die Here lief te hê met my hele hart. Dit is nie primêr ‘n gevoel of emosie nie. Dit beteken om myself onvoorwaardelik tot Sy beskikking te stel en oor te gee om Sy doel en plan vir die wêreld en vir my, in en deur my lewe tot uitvoering te bring.

Rom 12:1,2 som dit vir ons pragtig op: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”

Dit begin by ‘n stap van geloof in gebed, waar ek my hele lewe aan Hom oorgee en toewy vir Sy doel en plan, en ek Hom vertrou met my hele lewe – gees, siel en liggaam. Het jy al ‘n algehele oorgawe van jou hele lewe in terme van Romeine 12:1,2 aan God gemaak? Indien nie, kan ek jou waarborg, gaan jy aan die einde van jou lewe tot die ontnugtering kom dat alles waarmee jy jou met soveel toewyding besig gehou het, ‘n gejaag na wind was.

Vier dinge wat God in jou lewe wil gebruik om Sy skeppingsdoel en -plan hier op aarde te help uitvoer

1. Hy wil jou getuienis gebruik

Han 1:8: "... maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde."

In die eerste plek moet jy ‘n getuienis van redding, wedergeboorte en ‘n nuutgemaakte lewe hê. Hy wil hê dat jy deur jou leefstyl en kommunikasie met mense in jou familie-, sosiale-, werks-, en digitale omgewing, ‘n geestelike en hemelse doelgerigte lewe sal uitstraal en deel, wat ander sal laat soek na God. Om ‘n effektiewe getuie vir Jesus te wees moet ’n mens natuurlik ’n getuienis en lewe van geestelike en hemelse doelgerigtheid hê. Het jy so ‘n getuienis en leef jy dit uit ter uitbreiding van Sy Koninkryk?

2. Hy wil jou talente en gawes gebruik

Mat 25:14,15: "Want dit is soos ‘n man wat op reis wou gaan en sy diensknegte roep en aan hulle sy besittings toevertrou. 15 En aan die een gee hy vyf talente en aan die ander twee en aan die ander een, aan elkeen na sy vermoë; ..."

Elke mens op aarde het sekere talente en gawes van God ontvang –– sommige meer en ander minder –– maar elke mens op aarde het ‘n talent! Daardie talente en gawes behoort aan God en hy het dit aan jou geleen om te ontwikkel, aan te wend en te gebruik vir Sy doel en tot Sy eer! Kan ek vir jou ‘n onfeilbare formule vir ‘n mislukte lewensdoel gee? Hier is dit: ‘gebruik en wend jou talente en gawes hoofsaaklik vir jou eie doel en jou eie lewensbehoeftes en plesier aan’. Aan die einde van jou lewe sal jy saam met Salomo in Pred 1:14 getuig: “Ek het alles wat in hierdie wêreld gebeur, bekyk: alles kom tot niks, dit is 'n gejaag na wind.”

3. Hy wil jou tyd gebruik

Kol 4:2,5: "Volhard in die gebed en waak daarin met danksegging; ... 5  Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit."

Daar is twee fundamentele maatstawwe wat ‘n duidelike refleksie is van die toestand van ‘n Christen se geestelike lewe. Die eerste is jou tyd. Hoeveel tyd gee jy vir God in jou lewe? Hoeveel tyd bestee jy in die Woord en gebed? Hoeveel van jou tyd is tot God se besikking vir Sy hemelse doel en plan vir die Kerk, die wêreld en vir jou lewe? Waarop spandeer jy jou beskikbare tyd?

Hoeveel tyd sou jy graag wou hê dat God moet bestee om Homself aan jou te openbaar, jou te beskerm, jou te lei, jou te dra deur beproewing, en jou en jou gesin te seën? Maak seker dat die antwoord op hierdie vraag nie meer is as die tyd wat jy gewillig is om in Sy teenwoordigheid en vir Sy doel op aarde af te sonder nie! Is die tyd wat jy aan God gee beperk tot ‘n Sondag erediens? Moet dan nie verbaas wees as dit die enigste tyd is wat Hy vir jou het nie!

4. Hy wil jou finansies en begroting gebruik

Mat 6:33: “Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”  1 Joh 2:15: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.”

Die tweede fundamentele maatstaf wat ‘n refleksie is van die toestand van ‘n Christen se geestelike lewe, is jou finansies en begroting. Wys my ‘n Christen se begroting, en ek wys jou waar sy of haar hart lê. Wys my waarop jy jou geld bestee en ek wys jou waar jou hart lê. Is dit nie eienaardig dat wanneer daar oor finansies gepraat word, daar onmiddellik ‘n weerstand by baie Christene ontstaan nie. Hierdie is die natuurlike reaksie van die mens se sondige natuur. Maar waar Jesus Christus op die troon van ‘n hart woon, is die reaksie totaal anders. Dan is die gebed van my hart: ‘Here, hoe kan ek U met oorgawe dien deur my finansies en begroting? Wat is daar in my begroting wat ek moet verander of sny sodat ek ‘n instrument in U hand kan wees om die wêreld met die Evangelie te help bereik?

As jy ‘n kind van die Here is, behoort jou geld en eiendom nie aan jou nie! Jy kan nie daarmee maak wat jy wil nie. Dit is deur God aan jou geleen vir Sy doel! Jy is slegs die rentmeester of bestuurder daarvan. Wees verseker, net soos in Jesus se gelykenis in Matteus 25 van die tien talente, sal Hy van jou rekenskap eis vir die wyse waarop jy Sy finansiële gawes bestuur het.

Voor jy jou eerste brood vir die maand koop, beantwoord eers die volgende twee vrae: 1. Het jy (minstens) jou eerste tiende vir die Here afgesonder? 2. Is jy finansieel betrokke by die vervulling van die Groot Opdrag en die onbereikte wêreld? Indien wel, kan jy die seën van die Here op jou finansies verwag. Wat jy saai sal jy maai! As jy op die akker van jou aardse begeertes saai, sal jy ‘n gejaag na wind oes. As jy op die akker van die ewigheid saai, sal jy die seën van die Here oes.

Jesus Christus vra ‘n algehele oorgawe van jou lewe

Ewigheidsfokus is die werk van die Heilige Gees. Geen mens kan 'n ewigheidsfokus opwek deur menslike metodes nie. Dit begin by ‘n algehele en onvoorwaardelike oorgawe van my hele lewe in geloof, in gebed aan Jesus Christus en Sy hemelse doel en plan vir my lewe. Wanneer jy dit gedoen het, neem die Heilige Gees oor in jou lewe. As jy nog nooit so ‘n oorgawe gemaak het nie, nooi ek jou nou om die volgende gebed te bid:

Dierbare Here Jesus Christus, dankie dat U aan die kruis van Golgota gesterf het, nie alleen vir my sondeskuld nie, maar om U hemelse doel en plan in en deur my lewe tot uitvoering te bring! Ek verstaan nou dat U ’n wonderlike plan van oorwinning en vrugbaarheid vir my lewe het en dat U my wil gebruik as U instrument!

Ek bely in hierdie oomblik elke bewuste sonde in my lewe en ek bid dat U my hart sal reinig en verlos van elke ongehoorsaamheid en van elke vorm van rebellie en ongeloof. Verlos my van elke vorm van sonde wat my bind en maak my vry om U met ‘n onverdeelde hart te dien. Kom vervul my hart en lewe met U Heilige Gees.

Ek gee in hierdie oomblik my hele hart en lewe onvoorwaardelik aan U oor om deur U gebruik te word vir U hemelse doel en plan. Kom gebruik my as U instrument om U skeppingsdoel vir die wêreld tot vervulling te help bring en om U Groot Opdrag te help uitvoer deur my lewe. Maak my ‘n vrugbare instrument in U hand.

Dankie dat U my gebed antwoord. Ek loof en prys U, Here Jesus! Ek het U lief, Here Jesus! Amen.

Lees gerus ook hierdie artikel: Wanneer Sal Jesus Christus Weer Kom?

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.