Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Bruid van Christus - Feit of Fobie?

deur
Elmer Grobler

In die artikel, God se Skeppingsdoel vir die Mens, het ons afgesluit met die stelling: die doel van die skepping was om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid.

In Op 5:9,10 vind ons ‘n diepsinnige uitspraak: “Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”  (Beklemtoning my eie)

In Op 19:7 lees ons ‘n ander diepsinnige uitspraak: “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.”  En in Op 21:9 lees ons: “En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.”  (Beklemtoning  my eie)

Die verwysing na “konings en priesters” in Op 5:10 is ‘n beskrywing van ons werk of missie in die ewigheid, terwyl die verwysing na “bruid” en “vrou” van die Lam in Op 19:2 en 21:9 God se hoogste doel met die skepping verwoord.

Hier vind ons die geheim van God se toekomstige hoër doel met die skepping van die mens. God se primêre doel met die skepping van die mens was om 'n “Vrou” en “Bruid” vir Jesus Christus te verwek om saam met Hom op Sy troon te regeer as konings en priesters oor die skepping!

Wie is die Bruid?

Wie is die Bruid? Die Bruid is niemand anders nie as die Kerk van Jesus Christus oor al die eeue heen — die “ekklesia” — die uitgeroepenes. Die uiteindelike doel van die Kerk is om die Vrou van Jesus Christus te wees en saam met Hom op Sy troon te regeer oor die skepping in ewigheid. Jamieson, Fausset and Brown beskryf die Bruid as die Triomfantlike Kerk.

Gaan daar eendag mense in die hemel wees wat nie deel van die bruid gaan wees nie? As 'n mens die Bybel fyn lees wil dit so voorkom. Daar sal 'n deel van die Ekklesia wees wat, soos die vyf dwase maagde in Matteus 25, nie gereed gaan wees vir die Bruilofsmaal van die Lam nie -- dalk 'n groot deel -- dalk die oorgrote meerderheid. Ek wil my egter nie by 'n teologiese debat hieroor inlaat nie en volstaan by die gedagte dat die Bruid God se primêre doel met die skepping van die mens was.

Alhoewel die verse in Openbaring hierbo die eerste plek in die Bybel is waar die woord “kerk” (ekklesia) met “bruid” vervang word, bestaan daar goeie redes daarvoor. Die Kerk is nog nie die Bruid nie. Die Kerk word eers die Bruid met die wederkoms van Christus. Behalwe vir die Ou Testamentiese profete, was Johannes die Doper die eerste in die Nuwe Testament om na die bruidsgedagte te verwys in Joh 3:29: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. ... “

Ons vind ook dat Jesus in Sy gelykenisse op meer as een geleentheid gesinspeel het op die bruidsgedagte. ‘n Voorbeeld hiervan is die gelykenis van die bruilof: “Die koninkryk van die hemele is soos 'n koning wat 'n bruilof vir sy seun berei het ...” (Mat 22:2)  en die gelykenis van die vyf verstandige en vyf onverstandige maagde: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.” (Mat 25:1) Albei hierdie gelykenisse verwys na die wederkoms van Jesus.

Ons vind ook dat Paulus op meer as een geleentheid hierdie gedagte onderstreep. In 2 Kor 11:2 sê hy: “Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel“, en in Ef 5:22-33 praat hy oor die verhouding tussen ‘n man en vrou in die huwelik, en dan sluit hy af met hierdie uitspraak: “Hierin lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die kerk.” (NAV) (Vers 32)

Om egter terug te keer na ons vraag, Wie is die Bruid?, is daar 'n belangrike ding wat ons moet verstaan. Die wederkoms van Jesus Christus sal nie plaasvind voor die Evangelie tot elke volk, stam en taal se beskikking is nie, want wanneer Jesus weer kom, kom Hy om Sy Bruid te kom haal, en Sy Bruid sal verteenwoordig word deur elke volk stam en taal in die wêreld!

Die Primêre Doel van die Evangelie

Die primêre doel van die Evangelie is nie om die mens van die hel te red nie! (Alhoewel dit ook waar is.) Die primêre doel van die Evangelie is ook nie om die mens van sonde te red nie! (Alhoewel dit ook waar is.) Die primêre doel van die Evangelie is ook nie om die mens te laat hemel toe gaan nie! (Alhoewel dit ook waar is.) Die primêre doel van God met die skepping van die mens is om 'n Vrou en Bruid vir Jesus Christus te verwek om saam met Hom op Sy troon te regeer in ewigheid; en die doel van die Evangelie is om die mens vir hierdie doel en bestemming te bekwaam en voor te berei!

Toe God gesê het, “Laat daar lig wees ...”, het Hy in gedagte gehad om ‘n Bruid en Vrou vir God die Seun te skep om saam met Hom in ewigheid te regeer oor Sy skepping!

Die Eindpunt — die Doelpale

Die groot waarheid wat hier verstaan moet word is dat die wederkoms van Jesus Christus die vervulling en voltooiïng van God se doel en plan met die mens verteenwoordig — en nie ‘n sekond voor die tyd nie! Die doelpale van die Christen is nie redding, wedergeboorte, heiligmaking, genesing, materiële en geestelike seën en wonderwerke, die vervulling met die Heilige Gees, dissipelskap, die oorwinningslewe of herlewing nie. Al hierdie dinge is bakens, middele, instrumente, gawes en mylpale op die pad, maar die doelpale en klimaks van die Christendom is die wederkoms van Christus en die Bruilof van die Lam — niks anders nie! Die wederkoms van Christus moet die fokuspunt van elke kind van God en die Kerk wees — niks anders nie!

Elke kind van God moet ‘n lewende wederkoms verwagting hê, anders is daar ‘n fundamentele fout met sy verhouding met God! Elke gemeente moet ‘n lewende wederkomsverwagting hê, anders is daar ‘n fundamentele fout met die gemeente!

God se Doel met jou Lewe hier op Aarde

God se doel en plan vir jou lewe is, eerstens, om jou deel van die Bruid van Christus te maak. Tweedens, om jou as Sy instrument te gebruik om die Bruid te help versamel uit die nasies van die wêreld! 

Is jou lewe in harmonie met God se doel en plan vir jou lewe? Is jy betrokke by die uitvoering van God se doel en plan vir jou lewe hier op aarde? Is die wederkoms van Jesus Christus jou hoogste strewe en fokus? Is jy doelgerig betrokke by die bereiking van die Onbereikte Wêreld met die Evangelie? Werk jy doelgerig saam om die Groot Opdrag van Jesus te voltooi sodat Hy kan kom op die wolke? Nie? Dan moet ek vir jou sê is jy buite God se wil en plan vir jou lewe en gaan jy waarskynlik die koms van die Bruidegom mis soos die vyf dwase maagde -- tensy, tensy jy jou bekeer van jou selfgerigte (dalk godsdienstige) lewe en jou algeheel en onvoorwaardelik oorgee aan Jesus Christus en Sy doel en plan vir jou lewe!

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.