Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Sentrale En Wesenlike Boodskap Van Die Bybel

deur
Elmer Grobler

Die Grootste Oorsaak van Misverstand

'n Fundamentele beginsel van effektiewe kommunikasie wat ek in my lewe geleer het, is om die konteks of verband van my boodskap duidelik te definiëer. Een van die grootste oorsake van vertroebelde en gebroke verhoudings kan toegeskryf word aan gebrekkige kommunikasie, en een van die grootste gevolge van gebrekkige kommunikasie is misverstand - en een van die grootste oorsake van misverstand is gebrekkige begrip van die konteks of verband waarop die misverstand betrekking het.

Hierdie waarheid is ook op die Bybel van toepassing. Om die Bybelboodskap reg te verstaan moet 'n mens die konteks of verband van die inhoud reg verstaan. Die vraag is, watter verband? Sommige Bybelleraars glo dat die Bybel streng in sy historiese verband gelees en verstaan moet word. Ek is egter oortuig dat die Bybel in sy ewigheidsverband gelees en verstaan moet word. 

Die Bybel is 'n profetiese boek wat nie gebonde is aan die grense van tyd nie. Die geskiedenis het slegs te doen met tyd - tyd wat in die verlede lê. Wat die Bybel egter uniek maak as die Woord van God is juis die feit dat dit in ewigheidsverband geskryf is, gelees en verstaan moet word. Die Bybel bevat nie slegs profesieë nie -- die Bybel is profeties in sy geheel, daarom is dit die ewige Woord van God. Daar is geen deel van die Bybel wat nie profeties is nie -- daarom is die boodskap van die Bybel grensloos! Die rede waarom die Bybel vir baie geleerdes 'n dooie boek is, is omdat hulle dit slegs in historiese verband lees en daarom die ewigheidsboodskap misverstaan! Hiermee ignoreer ons nie die tyds- of historiese faktor in die Bybel nie, maar is dit belangrik om tyd en geskiedenis binne die verband van die ewigheid te verstaan, soos ons hieronder sal verduidelik.

'n Bybelstudieles uit die Digitale Tegnologie

Ek moes onlangs 'n nuwe webprogram leer en bemeester om my webblaaie mobiel-aanpasbaar te maak. Ek wil graag in 'n neutedop vir jou die beginsels van hierdie program verduidelik omdat dit 'n unieke kommunikasieles bevat en van groot waarde is om die boodskap van die Bybel te verstaan.

Hierdie program werk op die beginsel van konteks of verband. Jy ken mos die vraag goed: "In watter verband staan dit?", of "Met betrekking tot wat sê jy dit?" Die program bestaan uit 'n stel van verskillende elemente of 'houers' waarin inligting of data gestoor kan word en wat inmekaar en aanmekaar gepas word. Die eerste element is die 'liggaam' of 'body' van die webblad. Die 'liggaam' is die 'moederhouer' waarbinne al die ander elemente gestoor word. Die volgende element word genoem 'n 'afdeling', word binne-in 'n 'liggaam' geplaas en definiëer die inhoud en gedrag van daardie spesifieke gedeelte of afdeling van die 'liggaam'. Die volgende element word genoem 'n 'houer', word binne-in 'n 'afdeling' geplaas en definiëer die inhoud en gedrag van daardie spesifieke gedeelte van die 'afdeling'. Die laaste element word genoem 'n 'afdelingsblok', word binne-in 'n 'houer' geplaas en definiëer die inhoud en gedrag van daardie spesifieke gedeelte van die 'houer'. Binne hierdie basiese elemente kan nou 'n rits van ander elemente ingesluit word, soos byvoorbeeld fotos, teks en videos.

Wat egter belangrik is om te verstaan by die bou van 'n webblad is dat elke element die eienskappe erf van sy 'ouer' (parent). Met ander woorde die gedrag van elke element word bepaal deur die eienskappe van sy 'ouer'-element. 'n Ander manier om dit te verduidelik is dat elke element binne die konteks of verband van sy 'ouer'-element staan. As jy hierdie beginsel verstaan, sal jy die Bybel met nuwe oë lees.

Lees die Bybel deur 'n Nuwe Bril ...

Op die foto hierbo het ek vir jou 'n Bybelwebblad gebou op hierdie beginsel. Die webblad se titel is 'Die Sentrale en Wesenlike Boodskap van die Bybel'. Die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel is die 'liggaam' of 'body' van die webblad (die wit gedeelte) en word gedefiniëer deur God-Drie-enig -- wie Hy is, hoe Hy is, Sy karakter en Sy persoonlikheid (die blou gedeelte), soos dit tot openbaring kom in die Bybel. Elke ander onderwerp in die Bybel staan binne die konteks van wie en hoe God is! Enige leerstelling of teologie wat teenstrydig is met die karakter en wese van God-Drie-enig, is dwaalleer. 

Die volgende element op die webblad is die ewigheids-'afdeling' (die ligrooi gedeelte). Die begrip van ewigheid kan slegs verstaan word binne die konteks of verband van die karakter en wese van God. Om dus die Bybel in sy ewigheidsverband te verstaan, moet jy in 'n persoonlike verhouding met Jesus Christus staan en God persoonlik ken. Ons het hierbo gesê dat die Bybel 'n profetiese boek is en in Ewigheidstaal geskryf is. Om die Bybel te verstaan moet jy dus Ewigheidstaal verstaan en die gawe van hierdie taal ontvang mens slegs deur die inwonende Heilige Gees wanneer jy in 'n intieme persoonlike verhouding met Jesus Christus staan. Geen kennis van Grieks of Hebreus is 'n plaasvervanger vir Ewigheidstaal nie!

Binne die ewigheidsverband kry ons drie fases of dispensasies van God se werk in ewigheid, naamlik, die skepping, die herskepping, en die voltooide herskepping. Die skepping verduidelik vir ons wat God se doel is met die skepping. Dan volg die sondeval. Die sondeval lui die dispensasie van tyd in. Met die sondeval het verganklikheid ingetree op aarde. Tyd is teenstrydig met die wese en karakter van God en die gevolg van die sondeval. Die dispensasie van tyd (die groen gedeelte) is die volgende element en staan binne die konteks van die ewigheid. Alhoewel die dispensasie van tyd sy eie elemente bevat, is dit belangrik om te verstaan dat tyd binne die konteks of verband van God se ewigheidplan vir die skepping en die mens staan!

Die Bybel is 'n progressiewe openbaring van God, Sy skeppings-, herskeppings- en verlossingsplan in die dispensasie van tyd. Die herskepping bestaan daarom uit vier dispensasies of tydsfases, naamlik, dié van die gewete; dié van die wet; dié van genade of die Kerkdispensasie; en dié van rus of die duisendjarige vrederyk (die geel gedeeltes). Wat belangrik is om te verstaan is dat die genade- of Kerkdispensasie waarin ons tans leef, soos elke ander dispensasie, binne die konteks van God se wese en karakter, en Sy ewige skeppingsplan staan. Die hele Bybel en elke ander onderwerp in die Bybel moet dus verstaan en geleer word binne die ewigheidsverband van die Bybel en God se ewigheidsplan met die mens.

Die Belangrikheid om die Bybelboodskap in sy Ewigheidsverband te Verstaan ...

Elke mikro-onderwerp in die Bybel (bv geloof, redding, liefde, gehoorsaamheid, heiligmaking, die seën en voorsiening van God, ens.) moet verstaan en geleer word binne die makro-prentjie (of konteks) van die Bybel. Een van die groot gevare van die Christendom van ons tyd is die flagrante misbruik en gebruik van die Bybel in 'n aardse, tydsdispensasionele en daarom verkeerde konteks. Die sosiale media is vol daarvan! 'Vertrou net op die Here', 'Die Here sal jou nooit in die steek laat nie', 'Jou deurbraak kom', 'Spreek lewe', en môre is al jou probleme opgelos, terwyl baie Christene niks verstaan van 'n lewe wat aan die wil, doel en plan van God vir hulle lewens oorgegee en onderworpe is nie!

Laat ek vir jou 'n voorbeeld gee waarvan ek praat. Een van die mees misbruikte verse in die Bybel is Fil 4:13: "Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee." Hierdie vers staan binne die konteks van die apostel Paulus se roeping en bediening in diens van God se herskeppingsplan vir die wêreld, om die Evangelie aan die heidennasies te bring in terme van Jesus se Groot Opdrag. Hierdie vers is slegs van toepassing op iemand wat ten volle en onvoorwaardelik aan Jesus Christus se Woord, Sy wil, Sy plan en Sy doel vir jou lewe oorgegee en onderworpe is. Wanneer hierdie vers aangehaal word vir of deur iemand wat leef om sy persoonlike doelwitte na te streef buite God se wil en plan vir sy lewe, geld 'n ander beginsel, naamlik, God gee so iemand oor aan 'n gees van misleiding. Ons lees onder andere in 2 Thes 2:10,11 : "... omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie ... sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo," (Sien ook 1 Konings 22, 2 Kronieke 18 en Rom 1:24.)

Baie Christene verstaan nie die verskil tussen positiewe denke of -verklaring, en geloof nie! Die gevolg daarvan is dat mense (selfs Christene) 'n verkeerde begrip van God ontwikkel en later in 'n "persoonlike verhouding" met 'n selfgemaakte Jesus in hulle verbeelding leef! In werklikheid is dit niks anders as afgodery nie! Daarom sê die tweede gebod: "Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak ... nie." Ex 20:4. Ook nie in jou gedagtes nie! Enige Godsbegrip wat jy vereer wat nie in harmonie is met die wese, karakter en skeppingsplan van God in die Bybel as geheel nie, is afgodery!

Die Boodskap van die Bybel is Absoluut Relevant vir ons Tyd ...

Die inhoud van die Bybel is net so relevant vir die moderne wêreld van ons tyd as vir die tyd waarin dit geskryf is! Die Bybel is in ewigheidstaal geskryf en verander nooit! Die post-moderne Christen wil die boodskap van die Bybel aanpas en probeer relevant maak vir ons moderne tyd, terwyl hulle die relevansie van die Bybel vir die tyd waarin ons leef nie raaksien nie.

Die geskiedenis van die wêreld en alle wêreldgebeure moet gesien en verklaar word binne die konteks van God se herskeppingsplan vir die wêreld, waarvan die eindtydse profesieë 'n onmisbare element is. 'n Gesonde begrip van die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel is ook 'n basiese voorwaarde vir die korrekte begrip en verklaring van die Bybel se eindtyd-profesieë.

Dit is van fundamentele belang vir die Kerk om te verstaan waar ons geslag onsself op God se kalender met betrekking tot Sy herskeppingsplan bevind om hoegenaamd relevant te wees!

Om relevant te wees beteken ongelukkig iets heeltemal anders vir die post-moderne kerk. Vir hulle is relevansie en wêrelds- of tydgesindheid sinoniem, maar hierdie is 'n onderwerp vir 'n ander geleentheid.

As Christene en die Kerk dus verstaan dat ons tans in die laaste pylvak voor Jesus se wederkoms leef, en dat die EEN DING wat Sy wederkoms vertraag die onvervulde sendingtaak is, sal die hele Kerk wêreldwyd soos een man betrokke raak om die Onbereikte Wêreld met die Evangelie te help bereik! As Christene dit nie doen nie, kan daar slegs twee redes hiervoor wees -- hulle verstaan nie die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel nie, of hulle is so tyd-, aards- en wêreldsgesind en daarom afvallig van die waarheid, dat hulle dit nie wil weet nie, of dit hulle nie traak nie!

Die Sentrale en Wesenlike Boodskap van die Bybel in 'n Neutedop

Om op te som: die sentrale en wesenlike boodskap van die Bybel is die volgende:

Die doel van die skepping is om 'n nageslag vir God en 'n Bruid vir Sy Seun te verwek na Sy beeld om saam met Hom oor die skepping te heers in ewigheid.

As jy hierdie waarheid verstaan, sal die Nuwe Testament van die Bybel vir jou nuwe betekenis kry en jou van vele dwalinge van ons tyd bewaar! In die artikel, God Se Skeppingsdoel Vir Die Mens, brei ek verder uit op die onderwerp.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wereld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.