Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Jou Selfoon — God se Instrument!

deur
Elmer Grobler

Dit is vir ’n mens maklik om God se hand in die natuur te sien. Wanneer ‘n mens daar in die berge of op ‘n wildsplaas is, of oor die diep blou see kyk op ‘n pragtige sonskyn dag, of na die sterrehemel kyk op ‘n helder somersaand, kan mens nie anders as om bewus te word van die wonder van God se skepping nie! Ek was onlangs hoog daar in die Waterberge in die Marakele Wildreservaat en kon nie anders as om bewus te word van die grootheid van God nie. Maar kan ek jou ‘n vraag vra, sien jy as Christen God se hand ook in die geskiedenis, die politiek, die ekonomie, en … die tegnologie?

Jy sal agterkom dat ek baie skryf oor God se skeppingsdoel en God se doel en plan met die mens, die Kerk, en jou en my persoonlik. Die rede daarvoor is omdat ek God se hand begin raaksien het in die wêreld rondom my. Ek wil graag jou aandag vandag vestig op ‘n ander ding waarin jy dalk nog nooit God se hand gesien het nie — jou selfoon! Het jy al God se hand in jou selfoon raakgesien?

God se doel met jou selfoon ...

Jou selfoon is ‘n onmisbare instrument in jou daaglikse lewe. As jy jou selfoon by die huis vergeet het, voel dit vir jou asof jy vergeet het om jou broek aan te trek — jy voel kwesbaar. Ons neem meeste dinge in ons lewe so vanselfsprekend, maar besef ons dat God met elke ding in ons lewe ‘n doel het — ‘n ewigheidsdoel het — ‘n hemelse doel het!

Weet jy dat God ‘n baie belangrike doel met jou selfoon het? Jou selfoon is in die eerste plek God se instrument om die wêreld met die Evangelie te bereik. Laat ek die prentjie vir jou probeer helder skilder. Die tegnologiese revolusie van ons tyd en die ontwikkeling van die digitale tegnologie is deur God bestem om die HELE wêreld met die Evangelie te bereik omdat die Bybelse eindtyd profesieë teen ‘n asemrowende spoed besig is om in vervulling te gaan, omdat die geskiedenis van die wêreld deur die vinger van God geskryf word, en ons op die drumpel staan van die wederkoms van Jesus Christus!

God gebruik mense ...

Laat ek vir jou een voorbeeld noem. In 2004 lê God Sy hand op ‘n jong Joodse universiteitstudent wat Hom nie eers ken nie (soos Kores van ouds) met die naam Mark Zuckerberg. Mark begin ‘n sosiale media projek in sy koshuiskamer saam met ‘n paar medestudente en loods ‘n digitale toepassing met die naam Facebook. Bietjie meer as tien jaar later is minstens 37% van die HELE WÊRELD SE BEVOLKING op Facebook, met Indië, waar die wêreld se meeste onbereikte groepe geleë is, as die wêreld se grootste Facebook gebruiker!  Hoe kan die Here jou gebruik?

Nog ‘n stukkie digitale nuus:  70% van die wêreldbevolking is reeds selfoongebruikers, terwyl 68% toegang tot die internet het.

Is jou selfoon in diens van Jesus Christus?

In Januarie 2017 kon jy die Bybel lees op jou selfoon in enige van 1,068 tale. In Augustus 2018 het die getal op 1,221 gestaan. Vanaf 2023 kan die Bybel in meer 2,000 tale op die YouVersion Bible App gelees word. As jy nog nie YouVersion op jou selfoon het nie, laai dit gerus af vanaf Google Store. Dit is gratis. Jy kan ook na die Jesus-film op jou selfoon kyk in enige van meer as 2,000 tale! Jy kan preke, boodskappe en geestelike internet webblaaie lees op jou selfoon. Jy kan na Christelike radiostasies luister op jou selfoon. Jy kan na Christelike videos en TV kyk op jou selfoon.

Die groot vraag is egter, is jou selfoon in diens van Jesus Christus? Gebruik jy jou selfoon om God se doel en plan vir jou lewe te leef? Of is jou selfoon hoofsaaklik in jou eie diens? Dan is jy besig om God se doel en plan vir jou lewe mis te leef! Gaan jy hierdie boodskap net vir jouself hou, of gaan jy dit na jou vriende en kontakte stuur deur jou digitale media? Gebruik jy jou selfoon doelgerig om Jesus se Groot Opdrag uit te voer en die wêreld met die Evangelie te bereik? Indien nie, is jy besig om God se plan en doel vir jou lewe te mis!

Wil jy deur God gebruik word?

Die groot vraag is, is jou lewe in diens van God? Wil jy soos Mark Zuckerberg ‘n instrument in die hand van God wees? Laat ek iets aan jou verduidelik, Mark Zuckerberg is ‘n instrument in diens van God sonder dat hy dit weet — maar hy het sy beloning hier op aarde weg (tensy hy tot redding kom). Die Here het ‘n spesiale taak en roeping vir elkeen van Sy kinders — maar ons beloning kom eers in die hemel. Jou taak gaan miskien nie so glansryk, beroemd en voorspoedig vertoon soos Mark Zuckerberg s’n nie, maar wanneer Jesus weer kom — en dit is binnekort — sal jou beloning Mark Zuckerberg s’n by verre oortref! Al is jou taak net om ‘n paar knoppies op ‘n selfoon te druk!

Die groot vraag is, is jou lewe tot God se beskikking? Is jy ten volle aan God se doel en plan vir jou lewe oorgegee? Of leef jy primêr vir jouself en jou en jou gesin se welstand?

Die Verlosser kom binnekort as die Regter — en Hy sal elkeen se werk beoordeel! “Elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.” 1 Kor 3:13 (OV). 

Wil jy graag weet hoe om jou Goddelike doel en roeping te vind en ‘n instrument in die hand van God te wees? Volg hierdie skakel — maar deel eers hierdie artikel met jou vriende op die knoppies hieronder.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media

Artikels

| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.