Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Die Wederkoms -- Twee Dinge Waaroor Die Kerk Verenig Moet Wees

deur
Elmer Grobler

Die wederkoms van Jesus moet Christene verenig — nie verdeel nie!  

Dit is tragies om te erken dat daar seker geen ander Bybelse onderwerp is wat soveel verdeeldheid onder Christene veroorsaak het as die wederkoms van Jesus nie. Die Satan se vernietigendste wapen wat hy met oorvloedige sukses teen die Kerk van Jesus Christus gebruik, is Verdeeldheid. ‘n Verdeelde Kerk is besig met burgeroorlog. ‘n Verdeelde Kerk kan nie fokus op dit wat regtig saak maak nie. ‘n Verdeelde Kerk se visie is vertroebel. ‘n Verdeelde Kerk is besig met hulleself, besig om kerk-kerk te speel en hulle eie teologie en waardes te beskerm. ‘n Verdeelde Kerk het ook geen wederkomsverwagting nie en geen visie vir die Onbereikte Wêreld en die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag nie. Hulle het ‘n teologie om te verdedig en ‘n erfenis om te beskerm.

In my artikels oor die wederkoms probeer ek nie om die datum van Jesus se wederkoms te voorspel nie, en ek wil ook nie betrokke raak by teologiese argumente met betrekking tot die dispensasionalisme of ander teologiese groeperinge nie. Ons is tog so lief om mekaar of kerke te etiketeer. Hierdie ou of kerk is ’n dit of ’n dat. Daarmee skep ons ’n hokkie waarbinne die betrokke persoon of kerk dan beoordeel of gekritiseer word. As dit nie in harmonie is met my hokkie nie, verwerp ek summier die persoon of kerk se bediening en hoor ek gladnie wat hy of sy wil sê nie. Mag die Here ons daarvan verlos om bordjies om Christene se nekke te hang, terwyl ons opreg soek na die volle waarheid van God se Woord.

Ek lees onlangs hierdie artikel: ‘What does John Piper believe about dispensationalism, covenant theology, and new covenant theology?’.  Dit was vir my bemoedigend om die volgende te lees: “John Piper has some things in common with each of these views, but does not classify himself within any of these three camps.” Lees gerus die volledige artikel by die skakel hierbo.

Die wederkoms — hoogtepunt van die Christelike geloof

Niemand kan egter die feit wegredeneer dat ons in ‘n unieke tyd van Bybelse geskiedenis leef nie. Niemand kan ook die feit wegredeneer dat ons baie naby die wederkoms van Jesus leef nie — daarvoor is daar te veel bewyse. Die wederkoms van Jesus Christus is immers die hoogtepunt van die Christelike geloof en dit is my beskeie maar oorwoë mening dat as iemand nie ‘n wederkomsverwagting het, en nie verlang na die wederkoms van Jesus nie, daar ‘n fundamentele fout is met sy of haar geloof.

Hoe kan iemand sê, ek het Jesus lief, maar nie verlang na Sy wederkoms nie? Hoe kan iemand sê, ek het ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus, maar nie verlang om in Sy teenwoordigheid te wees nie? Jy sê, jy is altyd in Sy teenwoordigheid deur Sy Gees wat in jou woon. Goed, sê my dan, as jou geliefde tydelik oorsee woon en werk op kontrak, sal daar nie ‘n verlange en begeerte na sy of haar terugkoms by jou wees nie — al is julle in gees bymekaar en kommunikeer julle digitaal gereeld? Of het  jy dalk ‘n 'buite-egtelike' verhouding wat jou verlange versadig? (Wêreldliefde — 1 Joh 2:15)

Vier dispensasies van Bybelse geskiedenis

Soos reeds gesê, wil ek my nie inlaat by teologiese argumente oor die verskillende faksies van dispensasionalisme nie, maar die Vier–dispensasie benadering maak soveel Bybelse sin dat mens dit moeilik kan wegredeneer. Hierdie benadering leer dat daar vier dispensasies van Bybelse geskiedenis is naamlik, die Dispensasie van die Gewete (vanaf Adam tot by Abraham), die Dispensasie van die Wet (vanaf Abraham tot by Jesus Christus), die Kerkdispensasie of Dispensasie van Genade (vanaf Jesus se eerste tot by Sy tweede koms), en dan die Duisendjarige Vrederyk van Christus. Hieronder is ’n skematiese voorstelling.  

Hoe lank is die Kerk– of Genade Dispensasie?

Ons weet dat Jesus nie gebore is in die jaar 0 van die Gregoriaanse kalender nie. Alhoewel navorsers verskil oor die presiese jaar van Jesus se kruisiging, weet ons dat dit tussen die jaar 29 NC en 33 NC plaasgevind het. Dit sal dus tussen die jaar 2029 en 2033 presies 2,000 jaar gelede wees dat Jesus uit die graf opgestaan het, die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag, en die Kerkdispensasie begin het — tussen 12 en 16 jaar van nou (2017) af! Alhoewel niemand verseker weet nie, is daar ’n sterk vermoede by baie Christene dat sesduisend jaar van Bybelse geskiedenis verstreke sal wees tussen 2029 en 2033 — 12 tot 16 jaar van nou af!

Hoe lank was die tydperk vanaf Adam tot by Jesus Christus?

Watter bewyse het ons dat die tydperk vanaf Adam tot by Jesus Christus 4,000 jaar was? Die antwoord is dat ons nie verseker weet nie, maar dalk nie verkeerd sal wees as ons dit vermoed nie. Aartsbiskop James Ussher (1581-1656) het homself gewy aan navorsing oor hierdie onderwerp en tot die gevolgtrekking gekom dat Adam geskape is in die jaar 4004 VC.

James Ussher se werk het natuurlik onder baie kritiek deurgeloop. Ek het egter onlangs ‘n baie interessante artikel oor James Ussher gelees met die titel: “James Ussher and His Chronology: Reasonable or Ridiculous?" deur Dr Jerry Bergman. Sy artikel sluit soos volg af:

“Many skeptics have dismissed Ussher’s work, claiming he merely used dogma to solve a scientific problem. The late Stephen Jay Gould disagreed. Seeking to understand how Ussher arrived at his deductions, after detailed investigation Gould concluded that the archbishop’s critics were not only ignorant but that they also entirely misunderstood his work.15 … He was delighted with Ussher’s declaration that his (Ussher’s) results were determined “not only by the plain and manifold testimonies of Holy Scripture, but also by light of reason well directed.”15

For these reasons, Gould determined that Ussher’s chronology was an “honorable effort for its time” and argued that the common ridicule only reflects a “lamentable small-mindedness based on mistaken use of present criteria to judge a distant and different past.”16

The reality is that the relevance of Ussher’s work “may be seen in the fact that his Chronology has been accepted by nearly all the Reformed Churches.”14 Ussher’s research merits our highest respect and serves as a solid foundation for us to build upon today.” 

Was James Ussher reg?

Dit kan egter moontlik wees dat Ussher met ‘n paar jaar (dalk 33 jaar?) uit was! Alhoewel ons nooit seker sal weet nie, kan die vermoede dat 4,000 jaar van Bybelse geskiedenis verstryk het met Jesus se hemelvaart, nooit verkeerd bewys word voor ons in die hemel kom nie!

Die feit van die saak is dat die Kerkdispensasie eers begin het met Jesus se hemelvaart en nie met Sy geboorte nie. Jesus is in die dispensasie van die wet gebore en het onder die wet geleef. Gal 4:4,5: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” Die Genade- of Kerkdispensasie het dus eers met Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees begin.  

Die groot vraag is, sal Jesus na 2000 jaar van Genadetyd terugkom? Soos hierbo gesê, sal die Kerk presies 2,000 jaar oud wees tussen die jaar 2029 en 2033 — 12 tot 16 jaar van nou (2017) af!  Ek is egter terdeë bewus van die feit dat daar sommige is wat nie kan wag om my af te skiet nie. Die punt is egter dat daar sekere dinge omtrent die wederkoms van Jesus is waaroor die Kerk eensgesind MOET wees — en as ons nie hieroor eensgesind is nie, maak niks anders saak nie. Laat dit ‘n waterskeiding wees!

Twee dinge omtrent Jesus se wederkoms waaroor die Kerk eensgesind moet wees ...

Die eerste is ...

Of jy nou ‘n dispensasionalis, Calvinis, Arminianis, gereformeerd, pinkster, of charismaat is, of ‘n pre-millenniumistiese, postmillenniumistiese, voorverdrukking- of naverdrukking wegraping (of enige ander) siening het, die eerste is, dat Jesus Christus nie sal terugkom voor Sy Bruid volledig is nie, want dit is die primêre doel van Sy wederkoms. Soos ons in ander artikels verduidelik het, is God se hele skeppingsdoel om ‘n nageslag na Sy beeld en ‘n Bruid vir Sy Seun te verwek uit die nasies van die wêreld. Hierdie doel sal vervul wees met die wederkoms van Jesus en die doel van Jesus se wederkoms is om Sy voltooide Bruid te kom haal. Die Woord leer verder vir ons dat die Bruid van Christus verteenwoordig sal word deur elke volk, stam en taal, en by implikasie beteken dit dat die wederkoms van Jesus nie sal plaasvind voor die Evangelie verkondig is aan elke volk, stam en taal nie. Daarom het Jesus in Mar 13:10 en Mat 24:14 gesê: “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.” (Beklemtoning my eie.) Sien Dr Oswald se artikel: "Will Christ Return to Earth Before the World has been Evangelized?" Lees ook: "Wanneer sal die Onbereikte Wêreld met die Evangelie bereik word?"

Die tweede is ...

Die tweede ding omtrent Jesus se wederkoms waaroor alle Christene eensgesind moet wees, is dat die Kerk van Jesus Sy wederkoms moet verwag en daarna moet streef. Daar staan in 2 Pet 3:11-14: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (OV— beklemtoning my eie.) Enige teologie of leerstelling met betrekking tot die wederkoms wat die Kerk aan die slaap sus of Christene se wederkomsverwagting verflou en verdof, is dwaalleer, en net so gevaarlik as om ‘n datum aan Jesus se wederkoms te koppel.

By implikasie beteken dit dat die bereiking van die Onbereikte Wêreld met die Evangelie die Kerk se eerste en hoogste prioriteit moet wees. By implikasie beteken dit dat die Kerk soos een man moet strewe na die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag en eendragtig daarvoor moet saamwerk.

Dit is duidelik dat ons in die laaste van die laaste dae leef en as Jesus teen 2033 nog nie terug gekom het nie sal daar slegs EEN rede daarvoor wees: Die Kerk het nog nie Jesus se Groot Sendingopdrag voltooi nie — daar is nog mense wat die Evangelie moet hoor — die Bruid van Christus is nog nie voltallig nie!

Is jy doelgerig betrokke by die Onbereikte Wêreld? Volg die skakel hieronder en sien hoe jy ‘n rol kan speel om die Onbereikte Wêreld te help bereik.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.