Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Jou Sonde Is Dalk Nie Vergewe nie!

deur
Elmer Grobler

Liewe vriend, jou sonde is dalk nie vergewe soos jy gedink het nie! In liefde wil ek graag aan die fondament van jou geloof kom skud, om seker te maak dat jy nie op 'n valse fondament bou nie. Daar is 'Christene' wat glo dat hulle ten spyte van hulle sonde eendag in die hemel toegelaat sal word. Jy het waarskynlik ook gehoor dat as jy 'n kind van God is, is al jou sonde van die verlede, hede sowel as die toekoms vergewe -- want 'n mens word slegs uit genade gered -- jy moet dit net glo! Dit is egter slegs een helfte van die waarheid. Die ander helfte van die waarheid is dat die Bybel duidelik leer dat daar sekere gevolge van, sowel as voorwaardes vir sondevergifnis en genade is.

God se genade is verniet -- maar dit is nie goedkoop nie!

In 1 Kor 6:19,20 lees ons: "Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort."

God se genade is onverdiend -- maar dit laat jou nie onveranderd nie!

In 2 Kor 5:17 lees ons: "Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword."

As daar geen voorwaardes vir genade en vergifnis was nie, sou alle mense gered wees -- ongeag of iemand tot bekering kom of nie. Dan was dit nie nodig om tot bekering te kom om gered te word nie! Dan was dit ook nie nodig vir Jesus Christus om aan 'n kruis te sterf vir sonde nie. Die feit van die saak is dat geen mens met onvergeefde sonde in die hemel sal kom nie! Geen sonde sal in die hemel kom nie! As iemand 'n ander evangelie aan jou verkondig, is dit 'n valse evangelie!

Wat is dan die voorwaardes vir sondevergifnis? Is daar enige sonde wat 'n kind van God nie vergewe word nie?

Geen sonde sal in die hemel kom nie!

Die Bybel leer in die eerste plek dat geen sonde in die hemel sal kom nie! (Gal 5:19-21; Ef 5:3-7; Fil 3:17-19; Heb 10:26-31.) Die hemel is 'n sondelose plek. Jesus Christus het na hierdie wêreld toe gekom om met die probleem van sonde te handel. (Lees 1 Joh 3:1-9.) Daar moet met sonde hier op aarde afgehandel word -- en die enigste manier waarop van sonde ontslae geraak kan word is deur bekering en God se vergifnis deur die Kruiswerk van Jesus Christus. Niemand kan met onvergeefde sonde in die hemel kom nie! Daarom moet elke mens op aarde die vraag antwoord: 'Is al my sonde vergewe?' Nou is die vraag, indien jy positief hierop antwoord -- hoe weet jy dit? Watter sonde en wie se sonde word vergewe?

In die eerste plek moet elke mens by 'n punt van bekering in sy of haar lewe kom, waar jy jou sonde van die verlede bely, jou rug op sonde draai en vergifnis en reiniging ontvang deur die bloed van die Lam, en weergebore word. Was jy al by so 'n plek in jou lewe? Weet jy dat daar 'n dag in jou lewe was toe jy vergifnis van sonde ontvang het en weergebore is deur die Gees van God? Indien nie, lees hier 'Hoe Om Weergebore Te Word'. Van daardie oomblik af moet jy in God se vergifnis wandel. Bewuste sondes moet bely word en Jesus Christus se versoeningswerk aan die Kruis moet daagliks in gebed toege-eien word.

Daar is sonde wat nie vergewe word nie!

Daar is egter sekere sondes in die Bybel wat nie vergewe word nie -- die onvergeeflike sonde en dan die onvergeefde sondes. Die onvergeeflike sonde in die Bybel is die sonde teen die Heilige Gees, maar dit is nie die sonde waarvan ons praat in hierdie artikel nie. In hierdie artikel praat ons van onvergeefde sondes -- dit is sondes wat vergewe kan en moet word, maar om een of ander rede nie vergewe is nie. Waarom nie? Daar is twee kategorieë van sonde in die Bybel wat nie vergewe word nie:

  1. Onbelyde en voortgesette, opsetlike sonde
  2. Die sonde van onvergewensgesindheid en onversoenlikheid.

1. Onbelyde en voortgesette, opsetlike sonde

Geen onbelyde en voortgesette, opsetlike sonde word vergewe nie. Die Bybel is onteenseglik duidelik hieroor, vir sonde om vergewe te word moet dit bely en laat staan word! Geen sonde word outomaties vergewe nie! Jesus se boodskap op aarde was een van bekering: "Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom." Mat 4:17. In 1 Joh 1:9 staan daar: "As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig." In Han 3:19 lees ons: "Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word ..." In 1 Joh 3:3-6 lees ons: "En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. ...  En julle weet dat Hy verskyn het om ons sondes weg te neem, en geen sonde is in Hom nie. Elkeen wat in Hom bly, sondig nie. Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie." 1 Joh 2:4  sê: "Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie."

2. Onvergewensgesindheid en onversoenlikheid

Jesus sê in Mat 6:14,15: "Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.  Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie." In 1 Joh 2:9-11 staan daar: "Hy wat sê dat hy in die lig is en sy broeder haat, is in die duisternis tot nou toe. Wie sy broeder liefhet, bly in die lig, en in hom is geen oorsaak van struikeling nie. Maar hy wat sy broeder haat, is in die duisternis en wandel in die duisternis en weet nie waarheen hy gaan nie, omdat die duisternis sy oë verblind het." Die "haat" waarvan Johannes hier skryf beteken onder andere, om in 'n gebroke verhouding met iemand te staan waarvan jy die oorsaak is.

Die fundamentele boodskap van die Evangelie is versoening -- versoening met God en versoening met my medemens

In Mat 2:37-40 het Jesus vir ons die grootste gebod uitgespel in die woorde dat ons God met ons hele hart moet liefhê en ons naaste soos onsself. In 2 Kor 5:18 lees ons: "... God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, ..." As daar iemand in jou lewe is teenoor wie jy onvergewensgesindheid koester en nie van harte vergewe het nie, het die Here ook nie jou sonde vergewe nie -- al is jy 'n weergebore Christen. As jy in 'n gebroke verhouding staan met iemand van jou kant af en niks doen om versoening te bewerkstellig nie, is jou sonde ook nie vergewe nie! Dan is daar onvergeefde sonde in jou lewe en staan jy in 'n onversoende verhouding met God.

Staan jy in 'n gebroke verhouding met iemand wat jy moet regstel? Dan is jou sonde ook nie vergewe nie!

Jesus Christus roep jou tot bekering: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol." Jes 1:18. Wil jy jou saak regmaak met God? Begin om jou sonde teenoor God te bely en jou van jou sonde te bekeer in gebed. Staan dan op en gaan versoen jou met die persoon met wie jy in 'n gebroke verhouding staan! Miskien is dit jou man, jou vrou, jou kind, 'n ouer, 'n broer of 'n suster, 'n vriend of 'n kollega. Gaan herstel die verhouding en leef in Christus se vergifnis! Besoek hierdie skakel om dieper te lees.

Dalk is daar iemand wat hierdie boodskap moet lees, wat net jy kan bereik.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.