Jaag Na Die Doel

Die Evangelie vir die Hele Wêreld!

Drie Tekens dat die Wederkoms Vlak Voor die Deur is - Deel 2

deur
Elmer Grobler

God se Program en Tydtafel in die Geskiedenis van die Wêreld

Hierdie is die tweede onweerlegbare teken dat Jesus Christus se wederkoms vlak voor die deur is. Soos meeste evangeliese Christene, glo ek ook dat God Homself progressief aan die mens geopenbaar het in die Bybel in uniek-identifiseerbare tydsfases. Alles wat God doen in die dispensasie van tyd is gekoppel aan tydsraamwerke. Byvoorbeeld, God het die hemel en aarde in sewe “dae” geskape.

Die getal 7 staan bekend as die volmaakte getal in die Bybel, of God se getal van voltooiïng. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp lees gerus die artikel, “What is the biblical significance of the number seven/7?” Kan dit wees dat die herskepping, of herstel van die sondeval, ook sewe tydperke gaan wees — sewe tydperke van een duisend jaar? Ek gaan in hierdie artikel gedeeltes herhaal waaroor ek reeds geskryf het in my artikel, ‘Die Wederkoms — Twee Dinge Waaroor die Kerk Eensgesind Moet Wees’, omdat dit van wesenlike belang is dat ons die geheelprentjie sal sien.

Ek wil my nie inlaat by teologiese argumente oor die verskillende faksies van dispensasionalisme nie, maar die Vier–dispensasie benadering maak soveel Bybelse sin dat mens dit moeilik kan wegredeneer. Hierdie benadering leer dat daar vier dispensasies van Bybelse geskiedenis bestaan naamlik, die Dispensasie van die Gewete (vanaf Adam tot by Abraham), die Dispensasie van die Wet (vanaf Abraham tot by Jesus Christus), die Kerkdispensasie of Dispensasie van Genade (vanaf Jesus Christus se eerste tot by Sy tweede koms), en dan die Duisendjarige Vrederyk van Christus. Hieronder is ’n skematiese voorstelling.  

Hoe lank sal die Kerk– of Genade Dispensasie wees?

Om by hierdie antwoord uit te kom moet ons bietjie navorsing gaan doen. Ons weet dat Jesus nie gebore is in die jaar 0 van die Gregoriaanse kalender nie. Alhoewel navorsers verskil oor die presiese jaar van Jesus se kruisiging, weet ons dat dit tussen die jaar 29 NC en 33 NC plaasgevind het. Dit sal dus tussen die jaar 2029 en 2033 presies 2,000 jaar gelede wees dat Jesus uit die graf opgestaan het, die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag, en die Kerkdispensasie begin het — tussen 7 en 11 jaar van nou (2022) af! Watter gronde het ons om te glo dat die Kerk– of Genade Dispensasie 2,000 jaar sal wees? Alhoewel niemand verseker weet nie, is daar ’n sterk vermoede by baie Christene dat sesduisend jaar van Bybelse geskiedenis verstreke sal wees tussen 2029 en 2033 — 7 tot 11 jaar van nou af!

Hoe lank was die tydperk vanaf Adam tot by Jesus Christus?

Watter bewyse het ons dat die tydperk vanaf Adam tot by Jesus Christus 4,000 jaar was? Die antwoord is dat ons nie verseker weet nie, maar dalk nie verkeerd sal wees as ons dit vermoed nie. Volgens Bybelse rekords is Abraham 1946 jaar na Adam gebore en het hy 175 jaar oud geword. Abraham was dus 54 jaar oud met die oorgang na die derde millennium na Adam.

Aartsbiskop James Ussher (1581-1656) het homself gewy aan navorsing oor hierdie onderwerp en tot die gevolgtrekking gekom dat Adam geskape is in die jaar 4004 VC. James Ussher se werk het natuurlik onder baie kritiek deurgeloop. Ek het egter onlangs ‘n baie interessante artikel oor James Ussher gelees met die titel: “James Ussher and His Chronology: Reasonable or Ridiculous?" deur Dr Jerry Bergman. Sy artikel sluit soos volg af:

“Many skeptics have dismissed Ussher’s work, claiming he merely used dogma to solve a scientific problem. The late Stephen Jay Gould disagreed. Seeking to understand how Ussher arrived at his deductions, after detailed investigation Gould concluded that the archbishop’s critics were not only ignorant but that they also entirely misunderstood his work.15 … He was delighted with Ussher’s declaration that his (Ussher’s) results were determined “not only by the plain and manifold testimonies of Holy Scripture, but also by light of reason well directed.”15

For these reasons, Gould determined that Ussher’s chronology was an “honorable effort for its time” and argued that the common ridicule only reflects a “lamentable small-mindedness based on mistaken use of present criteria to judge a distant and different past.”16

The reality is that the relevance of Ussher’s work “may be seen in the fact that his Chronology has been accepted by nearly all the Reformed Churches.”14 Ussher’s research merits our highest respect and serves as a solid foundation for us to build upon today.” (Beklemtoning my eie.)

Was James Ussher reg?

Dit kan egter moontlik wees dat Ussher met ‘n paar jaar (dalk 29-33 jaar?) uit was! Alhoewel ons nooit seker sal weet nie, kan die vermoede dat 4,000 jaar van Bybelse geskiedenis verstryk het met Jesus se hemelvaart, nooit verkeerd bewys word voor ons in die hemel kom nie!

Die feit van die saak is dat die Kerkdispensasie eers begin het met Jesus se hemelvaart en nie met Sy geboorte nie. Jesus is in die dispensasie van die wet gebore en het onder die wet geleef. Gal 4:4,5: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.” Die Genade- of Kerkdispensasie het dus eers met Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees begin.  

Die groot vraag is, sal Jesus na 2,000 jaar van Genadetyd terugkom? Soos hierbo gesê, sal die Kerk presies 2,000 jaar oud wees tussen die jaar 2029 en 2033 — 7 tot 11 jaar van nou (2022) af!  Ons het ook gesê dat daar ’n sterk vermoede by baie Christene bestaan dat sesduisend jaar van Bybelse geskiedenis verstreke sal wees tussen 2029 en 2033 — 7 tot 11 jaar van nou af! As jy glo in ‘n letterlike sewejarige groot verdrukking (soos ek), beteken dit dat die Groot Verdrukking tussen 2022 en 2026 ‘n aanvang kan neem — met ander woorde, enige tyd van nou af. Gedurende hierdie tyd sal die Christendom wêreldwyd vervlak en verval tot ‘n blote vormgodsdiens volgens 2 Tim 3:5, en sal die sigbare Christendom slegs in skyn bestaan. Die ware Kerk van Jesus Christus sal so vervolg word dat Christene wêreldwyd ondergonds sal moet gaan. Evangelisasie en sending sal waarskynlik verbied word en strafbaar word met die dood. In ons volgende artikel brei ons meer uit oor die afvallige kerk van die laaste dae.

As jy glo dat die wegraping voor die Groot Verdrukking gaan plaasvind — mág jy reg wees! Soos ek die Bybel verstaan is ek egter nie hiervan oortuig nie. As jy egter verkeerd is, kan dit vir jou ernstige gevolge inhou as jy nie geestelik voorbereid is op verdrukking nie! Gedurende hierdie tyd sal die egtheid van Christene te geloof getoets word — baie sal nie die toets slaag nie! Jesus het egter belowe dat Hy hulle wat getrou volhard in Sy Woord tot die einde, deur hierdie tyd sal bewaar. Op 3:10: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.”

Waaroor moet alle Christene eensgesind wees?

Daar is slegs EEN DING wat Jesus se wederkoms kan vertraag — naamlik, as die Groot Opdrag nog nie voltooi is nie! Ons het hierdie onderwerp in Deel 1 behandel. As Jesus teen die jaar 2033 nog nie teruggekom het nie, sal daar slegs een rede wees — daar is nog iemand wat die Evangelie moet hoor! Of jy nou ‘n dispensasionalis, Calvinis, Arminianis, gereformeerd, pinkster, of charismaat is, of ‘n pre-millenniumistiese, postmillenniumistiese, voorverdrukking- of naverdrukking wegraping (of enige ander) siening het, moet die bereiking van die Onbereikte Wêreld met die Evangelie elke Christen en die Kerk van Jesus se hoogste en eerste prioriteit wees! As enige iets anders in hierdie lewe vir jou meer belangrik is, is dit ‘n teken dat jy nie gereed is vir die wederkoms van Jesus nie — want jou belange en begeertes is nie in harmonie met God se doel en plan met die Kerk en met jou persoonlik nie!

Elke Christen moet die wederkoms van Jesus Christus verwag en daarna streef. Daar staan in 2 Pet 3:11-14: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” (OV— beklemtoning my eie.) Enige teologie of leerstelling met betrekking tot die wederkoms wat die Kerk aan die slaap sus of Christene se wederkomsverwagting verflou en verdof, is dwaalleer, en net so gevaarlik as om ‘n datum aan Jesus se wederkoms te koppel. As my weergawe van God se program hierbo verkeerd is, sal dit geen verskil maak aan jou of my geloof nie — maar as ek reg is kan dit vir baie katestrofies wees want baie sal nie gereed wees nie! As jy nie na Jesus se wederkoms verlang en daarna streef nie, is jy nie gereed vir die wederkoms nie! Dan is jou hart hier in die wêreld en by wêreldse dinge.

By implikasie beteken dit dat die bereiking van die Onbereikte Wêreld met die Evangelie die Kerk en elke Christen se eerste en hoogste prioriteit moet wees. By implikasie beteken dit dat die Kerk soos een man moet strewe na die voltooiïng van Jesus se Groot Opdrag en eendragtig daarvoor moet saamwerk. Dit is duidelik dat ons in die laaste van die laaste dae leef. Leef jy God se plan vir, en doel met jou lewe? Waarmee is jy hoofsaaklik besig? Om ‘n bestaan te maak? Om te koop en verkoop? Om aardse en tydelike doelwitte na te streef wat moontlik oor 'n paar jaar van nou af geen waarde gaan hê nie? Om vir jou oudag te sorg wat moontlik oor 'n paar jaar in die mis gaan verdwyn? Waar lê jou eerste liefde, verwagting en strewe — in hierdie wêreld, of by die wederkoms van Jesus Christus? Jou eerlike antwoord hierop sal bepaal of jy deel van die afvallige kerk van die eindtyd gaan uitmaak, en of jy deel van die ware Kerk gaan wees wat getrou gaan bly tot die einde!

Is jy gereed?

As jy wil weet hoe om gered en weergebore te word, volg hierdie skakel.

As jy wil weet hoe om 'n Geesbeheerde en oorwinnende geestelike lewe deelagtig te word en 'n bruikbare dissipel van Jesus Christus te wees, volg hierdie skakel.

Om 'Drie Tekens dat die Wederkoms Vlak Voor die Deur is - Deel 1' te lees, volg hierdie skakel.

Om 'Drie Tekens dat die Wederkoms Vlak Voor die Deur is - Deel 3' te lees, volg hierdie skakel.

Die Skrywer
Deel asseblief hierdie artikel met jou vriende op jou sosiale media
Het Jy Geweet?
Vyf Broodjies En Twee Vissies

Het jy geweet dat jy 'n stuurder van die Evangelie na die onbereikte wêreld kan wees deur 'n 'digitale sendeling' uit te stuur vir so min as 'vyf garsbroodjies en twee vissies'? As jy seën ontvang het deur 'n artikel op hierdie webblad, doen ons 'n beroep op jou om deel te word van Scripture Educational Programs (waarvan hierdie webblad 'n projek is) se digitale 'stuur'-projek na die uiteindes van die wêreld. Volg die skakel vir meer inligting.

Artikels

Het jy seën ontvang deur 'n artikel op hierdie webblad? Dan doen ons 'n beroep op jou om deel te word van die Missie Oorwin span.

Missie Oorwin
Die Here roep elkeen van Sy kinders om 'n Aäron en Hur te wees in die stryd vir die Evangelie. Die Missie Oorwin span hou ons arms omhoog soos Aäron en Hur Moses se arms omhoog gehou het op die berg terwyl Josua en die Israeliete teen die Amalekiete geveg het in Exodus 17. Word deel van die Evangelie van Jesus Christus se oorwinningstog deur die wêreld! Lees hier meer oor Missie Oorwin.
| Tuisblad | Leef In Oorwinning |
| Missie Oorwin |
| Omtrent Ons | Kontak |
| Jou Privaatheid | Ons Aanspreeklikheid |

© Kopiereg 2013-2019 Scripture Educational Programs
Alle regte voorbehou.